2011/10/30

Oor spieëls, etes en die evangelie

Ons het hierdie afgelope Sondag die Reformasie herdenk en gevier. Daaroor miskien later meer. Hier en hier is solank twee kragtige gedagtes oor die Reformasie se implikasies vir Christene se regverdiging en heiliging. Moenie dat die taal jou afsit nie. Analiseer dit, bedink dit, verwerk dit. Jy sal seën ontvang. Ek en jy het hierdie vermanings nodiger as ons volgende ete.

2011/10/23

Hoe om van liberale teologie vry te kom

Die woord liberaal kan maklik rondgegooi word om enigiets te tipeer wat jou nie pas nie. Maar oorspronklik beteken liberaal om vry te wil wees. Wie wil dan nie vry wees nie? Ons moet egter telkens vra: vry waarvan, om wat doen, volgens wie se standaarde? Dit is in hierdie sin - vry te probeer wees van die gesag van God se Woord - wat liberale teologie nie sal kan staan in die oordeel nie (Ps. 1:5). Elke poging om die Bybel te probeer lees vanaf 'n standplaas wat op een of ander akademiese of onakademiese wyse probeer neerkyk op die Woord van God en  nie arm, verslae van gees en bewend is vir God se Woord nie (vgl. Jes. 66:2), is liberaal in die verdraaide sin. So lees jy nie die Bybel soos een van God se kudde en kerk nie.

Maar kan geleerde teoloë hiervan vry kom as hulle eers hierdeur besmet is? Thomas Oden is nou nie die mees gereformeerde teoloog wat daar is nie, maar een ding is seker: Hy het die dwaalpad van die liberale teologie besef. Eers het elke afdraaipad hom verder en verder in die rigting daarvan gevoer, maar veral deur Augustinus en Wesley het hy tot ander insigte begin kom. Dit kan gebeur. Sterker gestel, as jy werklik God se aangesig soek, of eerder, wanneer Hy jou soek, kan dit nie anders nie. Die Drie-enige God kan deur enige hardnekkigheid breek. As Hy dit aan my en jou kan doen, kan Hy dit aan enigiemand doen. Daar is hoop, selfs en ook vir liberale teoloë. Want God is God. Lees hier meer oor die pad en ander insigte waartoe Thomas Oden gekom het.

2011/10/20

"Uitverkoping, uitverkoping, uitverkoping!"

"Uitverkoping, uitverkoping, uitverkoping!" So het 'n kleurling onbeskaamd in sy snystem uitgeroep toe ons gesin eenmaal op pad Kaap toe iewers stilgehou het. Was die man tog naby om nou te help! Hier is nou werklik 'n uitverkoping wat die moeite werd is. Nog net tot die 21ste van hierdie maand. Bestel gerus en soos iemand onlangs ongeveer gesê het: Neem, eet en drink, en word versadig.

2011/10/17

Ontmoet 'n verbeeldingdokter

Nate Wilson is 'n opkomende Christenskrywer wat op die oomblik sy aandag daarop toespits om veral die verbeeldings van kinders so te voed dat hulle grootoog verwondering oor God en sy wêreld nie taan nie, maar toeneem. Ek het al menigmaal gedink dat sy verhale beter voedsel vir verwondering is as menige teologie-, filosofie-, of motiveringsboek. En tog het ek nog nie daarby uitgekom soos dit hoort nie. Sal 'n plan iewers moet maak. Nate Wilson, of N.D. Wilson soos hy bekend staan in die outeursfeer, het die gawe om jou nuut na bekende dinge te laat kyk en dan te laat wonder hoekom jy dit nie self raakgesien het nie. Hier is 'n bydrae wat hy onlangs vir die bekende webwerf, desiringgod.org, geskryf het en welverdiende aandag trek. Ek het dit probeer vertaal vir diegene wat dit dalk net onder oë sal neem indien dit in onse taal getooi en geplooi is.

Daar is een moontlike misverstand wat sogenaamde "nuwe hervormers" hiermee kan hê en wat ek sou wou noem die kat-aan-die-stert misgissing: Omdat mites en oorgelewerde verhale soms soveel ooreenkomste met die Bybel se ware verhaal vertoon, is dit vir die agterstevoor-kundiges die bevestiging dat die Bybel net nog 'n voorbeeld van mites en sages is. Dit is kat-aan-die-stert logika. Hanteer hierdie kat soos dit hoort op jou skoot en dan verstaan jy dat die Bybel se boodskap so kragtig is dat selfs mites en sages nie kan help om dit na te boots nie. Wanneer hierdie kat van die regte kant benader word, kan dit ons help om beter te begryp in watter WERKLIKE fantasie ONS leef met die (on)gelooflikste ontknoping denkbaar. En soos iemand iewers gesê het: Die beste omtrent hierdie fantasie is dat dit waar is. Mag hierdie bydrae van N.D. Wilson help om jou en my oë oop te spalk vir die krag van die wonder(like) boodskap van die Bybel en daarom ook van verhale aan ons kinders wat daarvan afgelei en daarop geskoei is:


Verhale is sielekos: Moenie jou kinders laat verhonger nie

2011/10/13

Armoede: 'n stap in die regte rigting

Die Acton Instituut het onlangs in samewerking met verskeie organisasies 'n internasionale veldtog van stapel gestuur om die alternatief te bied op sovele inisiatiewe wat armoede wil verlig, maar eintlik die teendeel bewerk. Gaan gerus na PovertyCure se webwerf vir meer inligting. Hier is 'n insetsel wat hul basiese doelstellinge verduidelik. Ek het nie alles in detail gelees nie, maar dit lyk ten minste na 'n stap in die regte rigting.


2011/10/11

In die somer buitekant Moscow ID

HT
Typical Palouse landscape, USA

Kan entrepreneurs soms gevaarlik wees?

’n Samelewing wat algemeenheid kultiveer, wat suspisieus is oor genialiteit, wat meer agting het vir die entrepreneur wat die smaak van die massas bedien as die visionêr wat die geeste van net 'n handjievol uitdaag – so ’n samelewing loop altyd die gevaar om waarde te definieer in terme van onmiddellike aanvraag, eerder as ewigheidsbetekenis.
Ken Myers, in All God’s Children and Blue Suede Shoes. p. 22, 23.

2011/10/06

Jy moet, jy kannie ...

Hier is een van die kragtigste proklamasies van die evangelie wat ek in 'n lang tyd gehoor het. As jy 15 minute iewers het - hier is 'n goeie belegging. Maar pasop. Dit beteken my en jou dood ... en lewe.

Sermon Clip: You must, you can't - Jesus did! from Canon Wired on Vimeo.

Die Verheugde Vader, Seun en Heilige Gees

God se wese is verbondsmatig: Vader, Seun en Heilige Gees leef in 'n onophoudelike toewyding aan mekaar en reik uit buite die Godheid om 'n gemeenskap van skepsele te skape wat kan dien as reuse analogie van die Godheid se verhoudinge. Geskape na die beeld van die Drie-enige God is ons van nature uitgaande, interafhanklike verhoudingskeppers wat onsself in ander vind, nie net in onsself nie. Anders as die Persone van die Drie-eenheid, het ons op 'n stadium nie bestaan nie. Maar toe God besluit het om te skape, was sy bevel nie die van 'n eensame monarg nie, maar van 'n verheugde Vader, Seun en Heilige Gees wat 'n kreatuurlike, menslike analogie van hul ewige gee en ontvang verhouding daargestel het. Ons is nie net geskape en daarna eers 'n verbond gegee nie; ons is geskape as verbondsmatige wesens - deelgenote, natuurlik nie in die Godheid nie, maar in die drama wat sou ontvou in die geskiedenis.
Michael Horton in God of Promise, p. 10.

2011/10/03

Hier, nie iewers anders nie

Hierdie taak is aan my opgedra. Daarom is dit 'n geskenk. Daarom is dit 'n voorreg. Daarom is dit 'n offer wat ek aan God bring. Daarom behoort dit met blydskap gedoen te word, as dit vir Hom gedoen word. Hier, nie iewers anders nie, mag ek God se weg leer ken. In hierdie taak, nie in iets anders nie, roep God op tot getrouheid.
 ― Elisabeth Elliot

2011/10/02

Nie 'n hipotetiese verhouding nie

Die verbond is nie 'n hipotetiese verhouding nie, ook nie 'n voorwaardelike posisie nie; dit is eerder 'n vars lewende gemeenskap waarin die krag van genade werksaam is.
Geerhardus Vos