Dit is weer tyd vir Christene se herdenking van die Hemelvaart. Dit is ook die Christelike vakansiedag wat in Suid-Afrika reeds gesneuwel het. In baie Europese lande word die dag verbasend genoeg nog steeds as vakansiedag herdenk, maar dikwels is die werklike betekenis daarvan reeds lankal verlore. Dit is daarom heel gepas om by die herdenking van die Hemelvaart weer te hoor hoe belangrik hierdie aspek van ons geloof is en waarom dit verdien om weer ingestel te word.
Patrick Schreiner, Professor in Nuwe Testament in Kansas City, Missouri in
die VSA, het in 2020 ’n belangrike bydrae hieroor gelewer in die bondige Snapshot-reeks
in teologie. Schreiner skryf in ’n behoorlik Bybelbelaaide publikasie
oortuigend oor die belang van die Hemelvaart-gebeure vir ons lewe en ons
teologie. Hy begin heel gepas met ’n aanhaling van die behoudende Douglas
Farrow van Kanada, die teoloog wat in die onlangse tyd geweldig baie gedoen het
om die belang van Hemelvaart weer op die agenda te plaas: “Dit is opmerklik hoe
min die Hemelvaart deesdae genoem word. Eens was dit gesien as die
hoogtepunt van die verborgenheid van Christus ... Vandag is dit 'n
verleentheid.”