Gedagte vir kinders: Ons
moet elke dag gereed wees om die Here Jesus te ontmoet.
Oorsig: Ons lees in Mattheus 24 dat
die Here Jesus weer kom, in die geskiedenis en uiteindelik met die wederkoms. Vanaf
die einde van hoofstuk 24 en in die hele hoofstuk 25 lees ons spesifiek dat Hy
sal oordeel en hoe ons daarop voorbereid kan wees. Die Here vertel aan die
begin van hierdie hoofstuk hoe die koninkryk van God eenmaal sal wees. Dit sal
wees soos tien jongvroue (maagde: simbool van rein lewens) wat hulle lampe
geneem en uitgegaan het om die bruidegom te ontmoet (v.1). In daardie dae het
die ongetroude bruidsmeisies saam met die bruid by baar huis gewag vir die
bruidegom om haar te kom haal. Dan het almal feestelik saam beweeg na die
bruidegom se tuiste waar die huweliksfees gehou is.
Onder hierdie tien jongvroue was vyf verstandig en vyf dwaas
(v.2). Die rede was dat die dwase maagde geen olie met hulle saamgeneem het wat
kon help dat die lampe langer sou brand as die bruidegom nie dadelik kom nie. Die
verstandige meisies het wel ekstra olie in hulle kanne saam met hul lampe
geneem (v.3-4). En toe die bruidegom talm om te kom, het almal van hulle vaak
geword en aan die slaap geraak (v.5.). Teen middernag het daar ’n uitroep
gekom: “Daar kom die bruidegom; gaan uit hom tegemoet!” (v.6)
Toe staan al daardie jongvroue op en maak hulle lampe gereed
(v.7). Die wat dwaas (onverstandig) was, het toe aan die verstandiges gesê: Gee
vir ons van julle olie, want ons lampe is besig om dood te gaan (v.8). Die
verstandiges het toe geantwoord: Miskien is daar dan nie genoeg vir ons almal
nie. Gaan julle liewers na die verkopers en koop vir julleself (v.9). Dit was
nie noodwendig selfsugtig nie, want hulle kon ook gedink het aan die Bruidegom
en watter oneer dit sou wees as almal se lampe doodgaan voordat die verrigtinge
klaar is. Dit was ook moontlik om ekstra olie te gaan koop in die nag, al sou
dit wel tyd neem.
Terwyl die vyf jongvroue egter gaan om te olie te koop, het
die bruidegom toe wel gekom. Die wat gereed was, het toe saam met die bruidegom
ingegaan na die bruilof en die deur is gesluit (v. 10). Later kom die ander
jongvroue toe ook daar aan en vra: Meneer, meneer, maak vir ons oop! Maar Hy
het geantwoord en gesê: Voorwaar, ek sê vir julle, ek ken julle nie (v.12). En
toe het die Here Jesus die gelykenis vir hulle toegepas: Waak dan, omdat julle
die dag en die uur nie weet waarop die Seun van die mens (Jesus Christus) kom
nie (v.13).
Besprekingsvraag: Hoe
sorg ons dat ons voorbereid is vir die Bruidegom?
Insig: Hierdie gedeelte leer ons oor twee van die groot leerstellings van die Kerk van Jesus Christus: Die laaste dinge (eskatologie) en die leer van die volharding van die heiliges.