2023/11/13

Voorbereid vir die Bruidegom

Lees: Mt. 25:1-13

Gedagte vir kinders: Ons moet elke dag gereed wees om die Here Jesus te ontmoet.

Oorsig: Ons lees in Mattheus 24 dat die Here Jesus weer kom, in die geskiedenis en uiteindelik met die wederkoms. Vanaf die einde van hoofstuk 24 en in die hele hoofstuk 25 lees ons spesifiek dat Hy sal oordeel en hoe ons daarop voorbereid kan wees. Die Here vertel aan die begin van hierdie hoofstuk hoe die koninkryk van God eenmaal sal wees. Dit sal wees soos tien jongvroue (maagde: simbool van rein lewens) wat hulle lampe geneem en uitgegaan het om die bruidegom te ontmoet (v.1). In daardie dae het die ongetroude bruidsmeisies saam met die bruid by baar huis gewag vir die bruidegom om haar te kom haal. Dan het almal feestelik saam beweeg na die bruidegom se tuiste waar die huweliksfees gehou is.   

Onder hierdie tien jongvroue was vyf verstandig en vyf dwaas (v.2). Die rede was dat die dwase maagde geen olie met hulle saamgeneem het wat kon help dat die lampe langer sou brand  as die bruidegom nie dadelik kom nie. Die verstandige meisies het wel ekstra olie in hulle kanne saam met hul lampe geneem (v.3-4). En toe die bruidegom talm om te kom, het almal van hulle vaak geword en aan die slaap geraak (v.5.). Teen middernag het daar ’n uitroep gekom: “Daar kom die bruidegom; gaan uit hom tegemoet!” (v.6)

Toe staan al daardie jongvroue op en maak hulle lampe gereed (v.7). Die wat dwaas (onverstandig) was, het toe aan die verstandiges gesê: Gee vir ons van julle olie, want ons lampe is besig om dood te gaan (v.8). Die verstandiges het toe geantwoord: Miskien is daar dan nie genoeg vir ons almal nie. Gaan julle liewers na die verkopers en koop vir julleself (v.9). Dit was nie noodwendig selfsugtig nie, want hulle kon ook gedink het aan die Bruidegom en watter oneer dit sou wees as almal se lampe doodgaan voordat die verrigtinge klaar is. Dit was ook moontlik om ekstra olie te gaan koop in die nag, al sou dit wel tyd neem.

Terwyl die vyf jongvroue egter gaan om te olie te koop, het die bruidegom toe wel gekom. Die wat gereed was, het toe saam met die bruidegom ingegaan na die bruilof en die deur is gesluit (v. 10). Later kom die ander jongvroue toe ook daar aan en vra: Meneer, meneer, maak vir ons oop! Maar Hy het geantwoord en gesê: Voorwaar, ek sê vir julle, ek ken julle nie (v.12). En toe het die Here Jesus die gelykenis vir hulle toegepas: Waak dan, omdat julle die dag en die uur nie weet waarop die Seun van die mens (Jesus Christus) kom nie (v.13). 

Besprekingsvraag: Hoe sorg ons dat ons voorbereid is vir die Bruidegom?

Insig: Hierdie gedeelte leer ons oor twee van die groot leerstellings van die Kerk van Jesus Christus: Die laaste dinge (eskatologie) en die leer van die volharding van die heiliges. 

Alles loop af op ’n definitiewe heerlike einde en almal volhard nie hieroor tot die einde toe nie. Soveel in die Kerk gee die indruk dat hulle weens materialisme, hedonisme en ’n sekulêre gees, nie meer glo dat Jesus Christus weer kom  om te oordeel oor die lewende en die dode nie. In die Ou Testament het die bruidegom gedui op God en sy verhouding met die volk Israel (vgl. Jes. 1-3; 54, 62; Jer. 1-3; Hos. 1-3; Es. 16, 23), maar ook op die Messias-Koning se verhouding tot die volk (2 Sam. 5:1-3; 2 Sam. 17:1-3; Psalm 45; Hooglied; Sag. 9:9). Jesus Christus is beide en die ware Bruidegom wat op pad is. Hy is die sin van die geskiedenis en wie Hom ken en erken is op pad na die grootste en mees feestelike blydskap.    

Hier is egter ook ’n duidelike waarskuwing aan alle belydende Christene. Hierdie 10 maagde weet almal van die Bruidegom en erken selfs dat Hy kom. Die maagde is simbool van reinheid: Hulle wat hul lewe nie oorgegee het aan ongebondenheid nie, die wet onderhou, en barmhartig is oor hul medemens. Kortom, die maagde staan vir kerkmense. En tog is sommige verstandig en sommige dwaas. Waarom? Ons gedeelte leer dat sommige dwaas (dom) is, omdat hulle nie werklik leef in dit wat hulle bely nie. Daarom is hulle is ook nie werklik voorbereid vir die Bruidegom te midde van die uitdagings van die lewe nie. Dit is geweldige waarskuwing vir elkeen wat bely dat hulle deel van die Kerk van Christus is.

Hoe gee ons gehoor aan die waarskuwing? Ons hoef nie gespanne te leef omdat ons netnou-netnou onkant betrap kan word nie. Ook die verstandige maagde het aan die slaap geraak (vgl. 1 Thes. 5:10), maar hulle het gelowig gelewe, hul eie heil uitgewerk, en daarom was hul olie in plek (vgl. Fil. 2:12-13). Die olie is al aangedui as liefde (1 Kor. 13), as vreugde (Ps. 45:7; Jes. 61:3; Hebr. 1:9) en as die Heilige Gees (1 Sam. 16:3; Jes. 61:1-2; Rom. 5:5; Gal. 5:22). In breë trekke dui dit egter gewoon op ’n verstandige lewe waar iemand besef wat dit beteken dat ons by Christus vir die langtermyn aangemeld  het. Dit beteken dat ons deurlopend voorberei om uiteindelik voor Hom te staan. In eie krag kan ons nie volhard tot die einde toe nie, maar in Christus wat reeds volhard het tot die einde toe, en in die krag van sy Gees, kan ons. Ons werk dit in ons daaglikse lewe uit deur gebed (Luk. 11:13), deur die geloof in Christus (Gal. 3:2, 5,14), deur die gebruikmaking van die Woord en sakramente (Hd. 2:38). Uiteindelik beteken dit eenvoudig dat ons glo in die Hom, die Bruidegom, wat van ons bruilofsgaste gemaak het. Dit beteken dat ons optree en voorberei en waak asof, ja omdat, dit die waarheid is.       

Werke geraadpleeg

John Bergsma, The Word of the Lord. Year A.

Frederick D Bruner, Matthew: A Commentary.  

Lawrence R Farley, The Gospel of Matthew: Torah for the Church.