2023/11/23

Skape en bokke voor die Troon

Lees: Mt. 25:31-46

Gedagte vir kinders: Jesus Christus gaan eendag oor almal oordeel.

Oorsig: Die Here Jesus het net voor sy kruisiging die mense in sy profetiese rede geleer dat ons voorbereid moes wees op sy wederkoms deur die gelykenis van die tien maagde (25:1-13). Hy het ook geleer dat ons die geleenthede en gawes wat die Here gegee het, moet gebruik vir sy koninkryk totdat Hy weer kom deur die gelykenis van die talente (25:14-30). In hierdie gedeelte, sy laaste profetiese rede, leer Hy wat eenmaal aan die einde sal gebeur as Hy die hele wêreld oordeel.

Wanneer Hy, die Seun van die mens, in sy  heerlikheid kom en die heilige engele saam met Hom, sal Hy op sy heerlike troon gaan sit (v.31). Wat ’n gesig sal dit nie wees nie! Dink net: Jesus Christus in al sy heerlikheid met die oordeel wat die Vader in sy hande gegee het. Boonop al die heilige engele saam met Hom en Hy op sy heerlike troon. Geen aardse heerlikheid kan ooit daarmee vergelyk word nie, en die hele wêreld sal almal sal buig voor Hom. Voor Hom sal al die nasies versamel word en hy sal hulle van mekaar afskei soos wat die herder skape (aan sy regterhand) en bokke (aan sy linkerhand) van mekaar afskei (v.32-33). Dan sal die Koning vir die aan sy regterhand sê: Kom, geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af. Hy sal hulle dan daarop wys dat hulle aan Hom barmhartigheid bewys het: Kos en drinkgoed, huisvesting en klere, en besoeke tydens siekte en gevangenisskap (v.34-36). Die regverdiges sal dan verbaas vra waar hulle dit gedoen het en die Koning sal antwoord: Voorwaar Ek se vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van my geringste broeders, het julle dit aan My gedoen (v.37-40).

Dan sal Hy ook aan die aan sy linkerhand sê om van Hom weg te gaan, as vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele. En dan sal Hy hulle wys op hulle gebrek aan barmhartigheid teenoor die geringes wat aan Hom behoort: Geen kos of drinkgoed, huisvesting of klere, of besoeke tydens siekte of gevangenisskap nie (v.41-43). Hierdie mense sal verbaas vra waar hulle dit nie gedoen het nie en die Koning sal dan antwoord: Voorwaar Ek se vir julle, vir sover julle dit nie gedoen het aan een van die geringstes nie, het julle dit aan My ook nie gedoen het nie. Die Here Jesus het toe verder gegaan en gesê dat sulke mense sal weggaan in die ewige straf, maar die regverdiges in die ewige lewe (v.44-46).   

Besprekingsvraag: Waarom is geseëndes en vervloektes hier beide onbewus van hul dade?

Insig: Ons het hier die laaste boodskap van Jesus Christus voordat Hy gevange geneem is om gekruisig te word. Hy wys ons op die einde en dit wat berei is van die grondlegging van die wêreld af. Die gesig is onvergeetlik: Eenmaal sal Jesus Christus in al sy heerlikheid kom en op sy heerlike troon gaan sit voor die oë van al die nasies. Laat hierdie beeld helder voor ons gees bly. Hy is die sin en doel van die geskiedenis - die Een op wie alles uitloop. Dan sal daar net twee groepe uit al die nasies voor Hom wees: geseëndes en vervloektes.

Reeds aan Abraham is die belofte gemaak dat hulle geseënd sal wees wat Abraham seën en die vervloek sal wees wat Abraham vervloek. In Christus word dit vervul (Gen. 12:1-3; Gal. 3:13-14). Hy bring die seën omdat Hy vir ons 'n vloek geword en ons sonde gedra het. Wie nie in Hom glo nie, verwerp daarmee alle seëninge in Christus en moet self die vloek dra van hulle wat God se wet nie onderhou het nie. En tog is die seën in Hom so groot dat elkeen wat maar een van die geringstes van sy broeders en susters geseën en met barmhartigheid behandel het, geag word asof hulle dit aan Hom gedoen het (vgl. Mat. 10:42; Hd. 9:4).

Die toepassing is op twee vlakke: Eerstens sal die nasies geoordeel word op grond van wat hulle met die Christus en sy liggaam, die Kerk, gedoen het. Niemand sal loskom wat die oogappel van die Here aanraak nie (Sag. 2:8). Die genade is enersyds groot. Elkeen wat maar net ’n beker koue water aan iemand gee omdat hulle aan Christus behoort, sal hul loon sekerlik nie verloor nie. Andersyds is die waarskuwing groot. Moenie die geringstes wat aan Christus behoort (of sal behoort) minag nie. Tweedens moet ons let op watter groot rol barmhartigheid aan die noodlydendes hier speel. Die Here wil barmhartigheid hê en nie offerandes nie (vgl. Jes. 58:6-8; Hos. 6:6; Mat. 9:13; 12:7). Die Ou Testament is vol van die Here  se sorg vir randfigure soos die wees, die weduwee en die vreemdeling en almal wat neergeboë is (Deut. 10:18; 24:10; Ps. 145:14, 18-19; Es. 22:7). Dit is ’n toetspunt van liefde.

Pascal het dit treffend saamgevat: Die uitverkorenes is hier onbewus van hul deugde en die uitgeworpenes van hul sonde. Watter geweldige verskil maak Christus se verlossing nie! Om onbewus van jou deugde te wees is iets wat net Christus deur sy Gees vir ons kan doen (vgl. Luk 6:43-46). God berei dit voor uit genade vanaf die grondlegging van die wêreld, maar die genade word ook sigbaar in goeie werke (vgl. Tit. 2:11-14; Ef. 8-10). Ons word opgeroep om doeners van liefde tot in die kleine te wees. Die Kerk word ook opgeroep om die diakenamp te laat herleef in bedienings van voeding, huisvesting en besoeke en ondersteuning, in Christus, aan hulle wat fisies en geestelik ongesteld is. Teenoor elkeen wat ons pad kruis. Elkeen wat die Here se hart self leer ken het, doen dit makliker, selfs onbewus, aan ander. 

Werke geraadpleeg

John Bergsma, The Word of the Lord. Year A.

Frederick D Bruner, Matthew: A Commentary.  

Lawrence R Farley, The Gospel of Matthew: Torah for the Church.

Matthew Henry