2023/11/17

Twee visies op God en die lewe

Lees: Mt. 25:14-30

Gedagte vir kinders: Die Here roep ons om ons talente vir Hom te gebruik. 

Oorsig: Nadat die Here Jesus die gelykenis van die vyf dwase en verstandige maagde vertel het, het Hy nog ’n gelykenis vertel om dit verder te verduidelik: Daar was ’n man wat op reis sou gaan en hy het sy diensknegte geroep en sy besittings aan hulle toevertrou. Aan die een het hy vyf talente gegee en aan ’n ander een twee, en aan ’n ander, een talent. ’n Talent was meer as 6000 maal meer as ’n dagloon werd (Dus in 2023 ongeveer 5 x 6000 x R300 = R9 000 000). Hy het aan elkeen volgens hulle vermoë gegee. En toe het hy dadelik op reis gegaan (v.14-15). Die een met vyf het toe daarmee gaan werk en vyf ander talente verdien en die een met twee het net so twee ander verdien. Maar hy wat een ontvang het, het dit in die grond begrawe en die geld van sy heer weggesteek sodat dat niemand dit kon steel nie (v.16-18).

Na ’n lang tyd het die heer van daardie diensknegte gekom en verslag gevra van sy werkers. Die een wat vyf talente ontvang het, kom toe en bring die vyf ander talente wat hy daarby verdien het. Die heer het vir hom gesê: Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in om deel te wees van die blydskap wat jou heer (v.19-21). Net so het die een wat twee talente ontvang het, verslag gedoen van die twee talente wat hy daarby verdien het. Die heer het vir hom toe letterlik presies dieselfde woorde gesê as vir die een wat vyf talente by sy vyf ander verdien het (v.22-23).   

Toe kom die een wat een talent ontvang het ook en sê: Meneer, ek het u geken en geweet dat u ’n harde (sterk) man is wat (kan maak wat u wil en wat) oes waar u nie gesaai het nie en kan bymekaarmaak waar u nie uitgestrooi het nie. Dit het my bang gemaak, en ek het gegaan en die talent in die grond (veilig) weggesteek. Hier is dit dan nou terug wat aan u behoort (v.24-25). Maar die heer het geantwoord: Jou slegte en lui dienskneg. As ek dan oes waar ek nie gesaai het nie en bymekaarmaak waar ek nie uitgestrooi het nie, moes jy moes my geld eerder by die wisselaars gegee het sodat ek by my koms rente sou ontvang (v.26-27). En toe het die eienaar gesê dat hulle die talent moes wegneem en gee aan die een wat tien talente het. Hy het gesê dat aan elkeen wat het, gegee sal word en oorvloed sal hê; maar van hom wat nie het nie, weggeneem sal word ook wat hy het (v.28-29). Hy het verder beveel dat hulle die nuttelose dienskneg moes uitwerp in die buitenste duisternis waar daar groot verwyt sal wees - ’n geween en gekners van tande - omdat dit vir altyd te laat sal wees (v.30).

Besprekingsvraag: Watter twee visies op God en die lewe vind ons hier?

Insig: Ons sien hier twee soorte reaksies wanneer mense voor God sal staan. In die vorige gelykenis is die verdeling helfte-helfte; hier is dit twee derdes teen een derde. Dit is belangriker dat die twee soorte reaksies hier uitgeken word. Twee diensknegte kom met vrymoedigheid voor die meester te staan en is selfs opgewonde oor die vrug van hul hande en dit eindig in vreugde. Hoe wonderlik sal dit nie wees om op die laaste dag so voor Hom te verskyn nie! Die ander een kom met vrees en met verskonings en bedekte verwyte. Kom ons kyk in groter diepte na hierdie twee benaderings tot God en die lewe en hul eindbestemmings.

Die een visie neem die Meester op sy Woord, en voer sy opdrag uit om die talente te gebruik wat Hy gegee het. Die talente dui op die grootste eenheid, geld, maar staan ook vir elke geleentheid uit die hand van God. Elke dag het ons unieke geleenthede, ook in ons verleenthede. Wat maak ons met al ons geleenthede op groot en op klein skaal? Ons gaan verantwoording doen, maar dit mag so vreugdevol wees. Let op: Ons werk met dit wat God gee (Christus en gawes; vgl. 1 Kor. 4:7) en dit vermeerder en Hy voeg nog toe. Hy hanteer ons verder soos volwassenes wat inisiatief kan neem vir die koninkryk, en wat dit waag op die waters tot eer van onse God. Die visie word nie aangedryf deur vrees en veilig speel nie, maar deur doelstellings en aanprysing deur God self (vgl. Mat. 6:6; Hebr. 12:2 ). Dit is ook ’n visie wat vol energie en vreugde is en wat beloning in terme van nog groter verantwoordelikheid kan waardeer.

Die ander visie loop in die teenoorgestelde rigting. Die Meester word nie op sy Woord geneem nie en ’n karikatuur word van God gemaak asof Hy nie goed is nie. Hy word voorgestel asof Hy willekeurig en soewerein sonder hart (en sonder sy kruisliefde) is en dat net vrees gepas is. Verstommend genoeg gaan hiermee ook bepaalde selfregverdiging gepaard vir die dade, en selfs ’n tipe slagoffer-mentaliteit. Maar hier word dit as sleg (vanweë ongeloof) en lui ontbloot. Die loon van hierdie selfgerigtheid is uiterste duisternis wat die selfsug se volle konsekwensies deurvoer. Watter visie het ons en gee ons vir ons kinders op God en die lewe? 

Ons Here se gelykenis is hier bedoel om ons uit ons verkeerde opvattings oor Hom en die lewe te skok. Let ook op die bemoediging: Elkeen word geoordeel op grond van dit wat jyself ontvang het en nie wat ander ontvang het nie. En die dienskneg met die twee talente ontvang woord vir woord presies dieselfde lof en beloning as die eerste. Die lewe se geheim is om te werk met wat God vir jou gegee het en nie na ander te kyk nie. Daarom behoort ons besondere waardering vir die dienskneg met twee talente te hê (Bergsma). Een talent is in hierdie gelykenis alreeds rykdom en oorvloed. Laat ons elkeen werk met dit wat aan ons toevertrou is.

Werke geraadpleeg

John Bergsma, The Word of the Lord. Year A.

Frederick D Bruner, Matthew: A Commentary. (Nota: Bruner is weer eens met dank die bron hier van baie dele in die insig-gedeelte).  

Lawrence R Farley, The Gospel of Matthew: Torah for the Church.