2025/02/07

Die grootpad van verlossing

Lees: Jesaja 35:1-10

Gedagte vir kinders: God kan ons woestyne deur sy genade in ’n paradys verander.

Oorsig: In Jesaja 34 kondig die profeet Jesaja oordeel aan oor Edom en daarmee aan almal wat God verlaat het. In hoofstuk 35 kondig hy egter ’n heerlik verfrissende tyd aan vir Israel. Dit vertel van die herstel in koning Hiskia se tweede deel van sy regering, maar daarmee kyk dit ook ver anderkant die oordeel oor die Edomiete, na die koninkryk van God. So word die profesieë oor Edom en Israel, God se Woord aan ontroues en getroues vir alle tye. 

Ons kyk in hoofstuk 35 na die verfrissende beloftes. Die belofte word gemaak dat die woestyn en dor land bly sal wees. Dit sal juig en blom soos ’n tulp/roos (2020 vertaling; KJV). Ja dit sal lustig blom en juig met gejubel. Want die heerlikheid van die Libanon met hulle statige sederbome word nou aan die woestyn gegee. Soos Karmel en Saron bekend was vir die wonderlike prag van hul plantegroei, so sal die skoonheid en heerlikheid van ons God sigbaar word in die dorre plekke (v.1-2; vgl. Ps. 104:16; Hoogl. 2:1). Daarom kom daar ’n oproep om die verswaktes, die met slap hande en struikelende knieë, te versterk. Die wat vreesagtig/angstig is word opgeroep: Wees, sterk, wees nie bevrees nie. Die rede is dat hulle God kom met wraak en met vergelding van Homself af en wat hulle sal verlos (v.3-4).

Dit sal ook onder die mense sigbaar word. Blindes se oë sal geopen word en die ore van dowes sal hoor. Die verlamde sal nie net loop nie, maar spring soos ’n takbok, en die tong van die stomme sal nie net praat nie, maar jubel. Ja, soos destyds na die uittog sal daar waters uitbreek in die woestyn en strome in die wildernis (v.5-6). Die grond wat gloei deur die versengende hitte van die son sal ’n waterplas word, en die dorsland sal fonteine van water wees. Daar waar die jakkalse rus in die dorre en onbewoonde plekke, sal daar gras en biesies wees - die tekens van baie water. Daar sal ook ’n grootpad wees, ’n tipe snelweg, wat die heilige weg genoem sal word. Geen onreine sal op daardie pad verbygaan nie. Dit sal wees vir diegene wat reg lewe en God se pad stap. Selfs die dwase sal nie meer dwaal nie (v.7-8). Daar sal ook geen leeu wees wat soos ’n roofdier optree nie. Ja, geen verskeurende dier sal daarop kom of aangetref word nie. Maar die verlostes sal wel daar loop. Die losgekooptes van die HERE sal teruggaan na Sion, die berg waarop die tempel gebou is. Hulle sal kom met gejubel en ewige vreugde sal op hulle hoof wees. Hulle sal vreugde en blydskap verkry, maar kommer en gesug sal wegvlug (v.9-10).  

Besprekingsvraag: Watter toepassings kan ons alles maak oor woestyntoestande wat omkeer?

Insig: In Jesaja 34 en 35 kry ons teenoorstaande sketse – die een van oordeel (hoofstuk 34) en die een van genade en verlossing (hoofstuk 35). Dit verteenwoordig toestande wat in die geskiedenis reeds voltrek word en eenmaal ten volle geteken sal staan. 

In hoofstuk 35 fokus ons op die uitsonderlike helder beeld van God se genade en verlossing. Dit is eerstens duidelik dat God se genade en verlossing nie vanselfsprekend is nie. Hoofstuk 34 is die skadukant-alternatief wat nie uit die oog verloor mag word nie. Verder is dit duidelik dat dit alleen God is wat die outeur van genade is. Die woestyntoestand versinnebeeld die dorheid en onvrugbare toestand en magteloosheid van die mens sonder God wat onder sy oordeel is. En tog, ons weet vandag nog hoe genade-reën ’n dorre plek byna oornag kan omskep in ’n lushof. Ja, wanneer God werk is dit juis die plekke waarvan ons dit dalk die minste verwag, wat sy genade die helderste illustreer. Sterker gestel, al was daar ook dorheid en barheid vir geslagte lank, kan totale ommekeer plaasvind. Waarom? God se genade en sy verlossing is die antwoord.

Dit is verder nie net die landskap wat verander nie, maar ook die mense. Hulle word geestelik en fisies genees om God se uitkoms te eer en te waardeer, uit te jubel en uitbundig-prakties te raak. Iets daarvan het reeds op besondere wyse in die bediening van die Here Jesus begin plaasgevind (Luk. 7:21-23), en sal eenmaal volmaak wees, maar ons mag nou reeds op die uitkyk te wees van hoe Hy dit steeds waar maak in mense se lewens. Ons lees hier ook van ’n hoofweg. In die ruwe gebergtes van die Suidland sou so ’n hoofweg iets baie besonders wees. Dit beklemtoon weereens dat net God so iets sou kon verwerklik. Maar dit is die goeie nuus van die Bybel dat Hy dit wel doen.

Wat is die implikasies van hierdie helder beelde op God se genade. Dit beteken dat ons sal begeer om dit te ken eerder as die oordeel van hoofstuk 34. Daarom word ons opgeroep om die vertroue in die mense en moondhede soos Egipte en Assirië te laat vaar wat so duidelik in Jes. 28-33 en 36 beskrywe word. Dit beteken dat ons verder ook ons hande sal versterk en die struikelende knieë sal vas maak en nie bevrees sal wees nie (v.3). Ons het nodig om emosioneel, geestelik en liggaamlik sterk te staan te midde van aanslae en uitdagings wat aan ons die teendeel wil wysmaak. Later word aanduidings gegee van hoe dit gebeur (vgl. v.8). Die is duidelik dat net die heiliges op God se hoofweg kan wandel. God verlaag nie sy standaarde om by ons aan te pas nie, maar gee uitkoms, verhoog ons en roep ons daartoe op (vgl. Gen. 17:1). Die onreines was hulle wat nie gebruik gemaak het van die offers wat God voorgeskryf en beskikbaar gestel het nie. Hulle het met ander woorde nie van die genademiddele gebruik gemaak nie. Dit is wonderlike om op God se hoofweg te mag gaan, die pragtige landskap te geniet en veilig te wees en selfs van dwaasheid bewaar te word, maar dit is vir hulle wat vertroue in die mens laat vaar, God vertrou en wat wandel voor Hom en sterk word in Hom.     

Hierdie weg het ook ’n visie en vooruitsig. Dit eindig in Sion saam met ander losgekooptes, by die tempel in Jerusalem in gemeenskap met God. Dit eindig met die teenoorgestelde van kommer en gesug. Dit eindig in gejubel en ewige vreugde en blydskap. Die kommer en gesug word beskryf as dat dit wegvlug. Dit beteken dat die vyand die aftog blaas. Verskillende kerkgroeperinge het al hierdie woorde getoonset as woorde wat van die Kerk geld met die vooruitsig op die nuwe Jerusalem. Hierdie genade-pad is nie net vir nou nie. Dit is ’n pad wat eindig by dit wat ons verstand te bowe gaan in die nuwe Jerusalem en word reeds hier in die Ou Testament so konkreet beskryf. Iets van hierdie genade het reeds aan die einde van Hiskia se regering waar geword, is vervul in Christus, en sal eendag in die nuwe Jerusalem ten volle beleef word. Maar die Kerk van Christus deel nou reeds in beginsel daarin, en werk met versterkte hande en knieë daaraan om tekens daarvan op te rig en gestalte te gee op alle terreine waarop ons kom. Maar ons wag ook met volharding en verwagting op die volle waarmaking daarvan wat eenmaal sal wees.  

Werke geraadpleeg:

Tim Chester, Isaiah for You.

J. Alec Motyer, Isaiah, Tyndale Old Testament Commentaries.

Paul D. Wegner, Isaiah, Tyndale Old Testament Commentaries.

John N Oswalt, NIV Application.

Matthew Henry.