2021/12/10

Die kleinste is groter

Lees: Luk. 7:18-35

Gedagte vir kinders: Deur Jesus se kruis kan ons huil oor ons sonde en lag oor ons verlossing.    

Oorsig: Hierdie gedeelte toon drie duidelike dele. In v.18-23 lees ons van Johannes die Doper se vraag aan Jesus asook sy antwoord daarop. Daarna gee Hy aan hulle ’n beoordeling van Johannes die Doper en ons hoor die mense se reaksies (v.24-30). En dan hoor ons die Here Jesus se reaksie op die mense se reaksies op sy bediening en die van Johannes as sy voorloper (v.31-35).   

Johannes was ’n profeet, maar profete word nie lank verdra as hulle mense se sonde aantoon nie. Johannes die Doper was in die tronk omdat hy selfs koning Herodes vermaan het omdat hy sy broer se vrou afgeneem het. En daar sit hy toe in die tronk en hoor van die dade van die Messias, maar alles gebeur nie presies soos wat Johannes verwag het nie. Heel moontlik het Johannes, soos ons, verwag het dat dinge vinniger en kragtiger moes gebeur sodat God se koninkryk duidelik sou deurbreek in hul eie omstandighede. Die Here Jesus wys egter op sy kragtige dade van genesing. Daarmee het Hy bevestig dat hy die werk doen waaroor profete soos Jesaja reeds lankal geprofeteer het (Jes. 35:5-6; 26:19; 29:18-19; 61:1). Daarmee het hy aan Johannes en ander bevestig dat Hy wel besig was om die Skrifte te vervul en dat Hy wel die Messias is en dat elkeen salig is wat nie aanstoot neem aan Hom nie (v.23).

Die Here Jesus het toe vir die skare aangedui dat Johannes die Doper ’n baie besondere profeet. Hy was die vervuller van Maleagi se profesie en daarom die voorloper van die Messias (vgl. Mal. 3:1; v.27). Niemand in die Ou Testament was groter as hy nie, juis omdat hy op die Messias gewys het. En tog het die Here Jesus iets merkwaardig hierby gevoeg. Hy het gesê dat die kleinste in die koninkryk groter is as Johannes die Doper. 

Dit beteken dat die gelowiges in die nuwe verbond moet besef watter verskil Christus gebring het toe Hy die nuwe verbond ingebring het deur sy kruisdood en opstanding. Die gewone volk en tollenaars het hierop reageer deur hulle te laat doop, maar die Fariseërs en wetgeleerdes het nie geluister nie. Die Here Jesus het toe die reaksies beoordeel. Hy het dit vergelyk met kinders se speletjies op die mark oor saamhuil en saamlag waar die een groep die ander kwalik neem dat hulle nie saamspeel nie. Die rede is dat Johannes die Doper gekom het met ’n lewe van strengheid waar jy huil oor jou sondes, maar mense het gesê dat hy ’n duiwel het. Die Here Jesus het toe gekom met ’n lewe van genade en feesvier en mense het gesê dat Hy ’n vraat en wynsuiper is. Hulle wou dus eintlik nie na God se boodskap luister nie, maar net na hulleself.   

Besprekingsvraag: Wat beteken dit dat die kleinste in die koninkryk groter is as Johannes?

Insig: Johannes die Doper bevestig dat selfs die grootste gesante van God kan kom by tye en plekke waar hulle nie sin kan maak van alles nie. Ons het eenvoudig nie al die feite nie, en ook nie insig in God se tyd nie. Dit oefen ons ook daarin om in die geloof op Hom te steun en nie ons eie insigte nie (vgl. Spr. 3:5-6). Onthou telkens dat God oneindig wyser as ons is. Ons moet ook leer by Johannes en soveel Psalms oor wat om te maak met ons onsekerheid. Neem dit na die Here self. In hierdie geval het die Here baie konkreet gewys op sy dade en beloftes wat in vervulling gegaan het. Dowes wat hoor en blindes wat sien was tog totaal ongekend. Geloof hoef nie blindelings te gewees het nie. Die vervulling was besig om te gebeur, maar dit moes langs die weg van die kruis gebeur. Kerkvaders soos Luther het daarom dikwels gewaarsku teen ’n teologie van glorie sonder om die teologie van die kruis te onthou. Laat ons altyd daaraan vashou dat God ons ook langs die moeilike weg seën. Kyk maar net na Christus.  

Die weg van die kruis was die enigste wyse waarop die nuwe verbond in Christus ingelei kon word (Luk. 22:20). Johannes die Doper was hierin die brugfiguur. Hy was die laaste profeet van die ou verbond en baie groot, juis omdat hy die weg voorberei het vir die Messias. Die volk kon die Messias nie waardeer sonder reiniging en bekering nie. Johannes se bediening het ’n groot en verrassende breuklyn in Israel oopgemaak – die wat vir en die wat teen Christus was. Die Here Jesus bevestig die werk van Johannes en daarmee saam dat die ou en nuwe verbond nie teenoor mekaar staan nie. Maar Hy wys ook op die uitnemende voorreg van die gelowiges van die nuwe verbond. Die kleinste in die koninkryk is groter as Johannes in die ou verbond. Die rede is eenvoudig: Christus se versoening het ’n werklikheid geword en die kinders van die nuwe verbond kan saam met Johannes staan in die heerlike werklikheid van die geregtigheid en al die seëninge wat Christus gebring het.

Maar ons moet hoor dat God tot optrede en reaksie in die krag van sy Gees oproep. Daar is ’n saligheid vir diegene wat nie aanstoot neem aan Christus wanneer dinge nie vir hulle sin maak nie (v.23). En ons moet raaksien dat die strengheid oor sonde waarvoor Johannes gestaan het en die feestelikheid wat Christus gebring het, ook nie teenoor mekaar staan nie. Die ware kinders van God reageer op beide en waardeer dit as ’n eenheid. Die een wie se hart verkeerd is, vind kritiek op beide aspekte. Kinders in die nuwe verbond ken egter die weg van huil oor sonde en lag oor die verlossing. Dit is hul roem, hul taal, en hul lied.

Geraadpleegde werke:

Darrell Bock, Luke, NIV Application Commentary

R.C. Sproul, Luke, An Expositional Commentary

R.T. France, Luke, Teach the Text Series.