2012/06/15

Kuyper-kaping

Iewers het ’n Kuyper-kaping in Suid-Afrika plaasgevind. Die kaping het plaasgevind deur ’n vreemde alliansie. Verrassende lede sluit beide NGK en APK lidmate in.

Die kerkhisorici van die NG Kerk erken hulle aandeel sommer prontuit. Kuyper is gekaap, op die ashoop gesit en vervang met met Barth. Lede van die APK het saamgegekaap, maar die ashoop was natuurlik die laaste plek waaraan Kuyper blootgestel sou word. Kuyper sou goeie diens doen vir die kerkverband. En as die NGK sou beweer dat die APK nog in die Kuyper-kopklem is, sou menige APK's hierdie etiket natuurlik met vreugde dra. Was Kuyper dan nie feitlik die mees aangehaalde teoloog toe die NG kerk apartheid teologies verdedig het nie? Daar is eintlik min plekke waaroor baie APKaners en NGKaners soveel konsensus het: Die Abraham Kuyper kar is in of hy is uit. As iemand in koorsoomblikke die APK wil verklaar as die Afrikaanse Protestantse Kuypers, sou “ingeligtes” in die NGK en APK waarskynlik instemmend die kop – in ’n kopklem of te not – knik in’n dit-spreek-vanself ritme.

Konserwatiewes sê Kuyper is in; ander sê hy moet uit. Altans, tot onlangs toe. En wie moet ons bedank vir die nuwe wending in die waarneming? Niemand minder as ou POMO nie. Sy lang naam is postmoderniteit, maar niemand noem hom eintlik so nie. Dit klink te amptelik. Buitendien, gemak, informaliteit en intimiteit is dan juis so eie aan ou POMO.

Maar een ding het POMO reggekry. Hy het Kuyper met nuwe waardering op die tafel geplaas. Hoe dit gebeur het was onafwendbaar. Stadigaan besef mense vandag dat hoë oktaan Kuyper nie die probleem is nie. Die vraag is eerder op watter pad daar met die hoë oktaan motor gery word. Dit is die nuus wat in Suid-Afrika nog nie die hoofbulletin gehaal het nie. Meer as een soort Kuyper-kaping het al buite Suid-Afrika plaasgevind. Die kapers word nogal maklik herken aan die rigting wat hulle met Kuyper inslaan. Die Kuyper karretjie kan skynbaar op beide konserwatiewe en liberale bane ry. Gaan kyk maar net waar het die Kanadese al met Kuyper gery (wenk: moenie die goud tusen-in mis nie). En as die karretjie nie meer verder op die ingeslane weg kan ry nie, word hy omgebou. Daar bestaan K-modelle (konserwatief), L-modelle (liberal) en deesdae selfs P- modelle (postmodern).

Genadiglik is daar deesdae ook ’n wêreldwye oplewing van NCW modelle. Laasgenoemde staan vir neo-Calvinisme wêreldwyd. As opvolger op die P-model bied dit bevredigende antwoorde oor waarom Kuyper vandag relevanter as ooit is. Ook die APK en NGK staan met nuwe ore en belangstelling nader.
Een van die redes is dat daar gewoon respek is vir iemand wat honderd jaar na sy dood so relevant soos vandag se koerant klink. Om twee voorbeelde te noem: Kuyper het lankal reeds met krag op die onmoontlikheid van neutraliteit gewys. Sy onvergeetlke uitspraak by sy inougurale rede by die Vrye Universiteit van Amsterdam het die rede hiervoor kragtig in die kroonregte van Jesus Christus gegrond: Daar is geen enkele duimbreedte op aarde waarvan Christus die Alleenheerser nie sê nie: “Myne!” Hierop het iemand soos Dooyeweerd, howel met ’n paar vraagtekens, magistraal voortgebou. Toe breek pomo-seisoen aan en by al die koer-geluide van konteks-kondisionering waaraan niemand kan ontkom nie, het iemand iewers onthou dat daar in die argiewe al lankal so ’n lêer bestaan. Reeds in 1880 het Kuyper die onmoontlikheid van neutraliteit basuin, selfs voor Nietzsche. En Kuyper kry postuum ’n nuwe effe twyfelagtige erekleur-toekenning by die twintig een generasie – die eerste postmodernis.

Kom ons vergeet vir ’n oomblik die toekenning en etiket en geniet die vars interaksie. Dit bring ons by die tweede voorbeeld. Reeds in die jeugdige ouderdom van twee-en-dertig jaar identifiseer Kuyper in een van sy eerste sleuteltoesprake die dooie eenvormige argitektuur rondom hom wat na sy mening die gebrek aan veelvormigheid suggereer. Hiermee waardeer hy reeds iets wat eers ’n eeu later volle reliëf sou ontvang: Ryke skakering wat nie in dooie eenvormigheid ingewring kan word nie. Kuyper noem dit die vloek van eenvormigheid.

Links en regs verstaan beide nog steeds nie sy toespraak nie. Beide besef skynbaar nie wat die verskil tussen eenheid en eenvormigheid is nie. Hoekom nie? Gadamer het in sy hermeneutiek ’n antwoord gereed. Wat gebeur  wanneer ons probeer om te interpreteer, is …. TRADISIE. Ja, die ou Fiddler on the Roof is nie enigste een wat daarmee te make het nie. Ook nie net die konserwatiste nie. Die liberale is net so uitgelewer aan hul eie tradisies. Die gevolg: Dit is moeilik om Kuyper anders te ry as in die bekende bane. Konserwatiste hoor swaar dat Kuyper eenvormigheid en nie eenheid nie, 'n vloek noem. Ons hoor ook moeilik dat Kuyper 'n lewensbelangrike onderskeid tref tussen konserwatisme en ortodoksie. Liberales hoor weer swaar dat die kroonregte van Christus oral - privaat en publiek - gestalte moet kry. Die oplewing van die NCW-model bied hoop. Hy jaag sommer skuins oor die bekende bane en oor die vlaktes van onontginde potensiaal. Hy protesteer teen onheilige alliansies wat Kuyper wil kaap vir onregmatige stereotipering.

Gaan klim gerus in een van hierdie ses-silinder modelle as jy tyd het. Wees gewaarsku. Hy is nie kaper vriendelik nie. Hy ry ook nie op bane van herinterpretasie nie. Hierdie model vat die vlaktes, na die berge deur die dale. Bane van herinterpretasie word vermy vir paaie van rehabilitasie. Hoor mooi: Dit is nie Kuyper wat gerehabiliteer word op hierdie weg nie, maar ons gekromde bane. Op hierdie vars geskraapte paaie mag ons dalk uiteindelik op berge en in dale weer uitsig kry op die oral waar ons God is. En saam met die uitsig, kan ons met nuwe aanbidding hoor as Hy sê: “Myne!”.