2023/05/24

Geloofwaardige getuies in sy diens

Lees: Hand. 1:12-26

Gedagte vir kinders: Daar is niks wat die Here se werk kan keer nie.

Oorsig: Na die Here Jesus se Hemelvaart, het sy dissipels vanaf die Olyfberg omgedraai na Jerusalem wat omtrent ’n sabbatsreis (ongeveer 1 km) ver was (v.12). Daar het hulle na die bovertrek gegaan waar hulle gewoonlik gebly het. Hierdie 11 apostels (sonder Judas Iskariot) se name was Petrus en Jakobus en Johannes, en Andreas, Filippus en Thomas, en Bartholomeüs (Natanael) en Mattheus, en Jakobus, die seun van Alfeus, en Simon die Yweraar (Seloot), en Judas, die seun van Jakobus. (v.12-13). Hulle het almal in dieselfde gesindheid (eendragtig) aangehou met bid en smeking, saam met hulle ’n aantal vroue asook Maria die moeder van Jesus en sy broers (v.14).

In daardie tyd het Petrus in hulle midde opgestaan toe hulle omtrent 120 was. Hy het toe vir hulle gesê dat die Skrif vervul moes word wat die Heilige Gees alreeds deur die mond van Dawid gesê het aangaande Judas wat die leier was van die wat Jesus gevange geneem het (v.15-16). Daarom het Judas die lot van hierdie bediening van verraad verkry en ’n stuk grond gekoop met sy loon van onreg en vooroor geval en oopgebars sodat al sy ingewande uitgestort het. Dit het bekend geword aan al die mense van Jerusalem en die grond is in hul eie taal Akeldama genoem wat Bloedgrond beteken (v.17-19). So staan deur reeds in Ps. 69:25 dat sy woonplek woes moet word en daar geen inwoner sal wees nie (vgl. ook Joh. 2:17 wat Ps. 69:4 aanhaal). Ook dat ’n ander een sy opsienersamp moet neem (v. 20; vgl. ook Ps. 109:8).

Petrus het toe gesê dat daar onder die manne iemand gekies moet word wat saam met hulle rondgegaan het vanaf die tyd wat die Here Jesus sy openbare bediening begin het – vanaf die doop van Johannes die Doper af tot en met die Hemelvaart. So een moes dan saam met hulle getuie wees van die Here Jesus se opstanding (v.21-22). Daar is toe twee voorgestel: Josef wat Barsabas genoem is en die bynaam Justus (betekenis: geregtigheid) gehad het, en Matthias (v. 23). Saam met sommige kerkvaders kry ons die indruk uit die name dat Matthias met net een naam wat tweede genoem word, moontlik ’n bietjie minder in aansien was. Hulle het toe gebid en gevra dat die Here wat die harte van almal ken, moes wys wie Hy uitverkies het om die dienswerk (bediening) van apostel te verkry waarvan Judas afgewyk het en na sy eie plek gegaan het. Daarna het hulle die lot gewerp en die lot het op Matthias geval. En hy is toe gekies en aangewys om saam met die elf apostels te wees (v.24-26).      

Besprekingsvraag: Is die vertelling oor Judas hier in stryd met Mat. 27:3-10?

Insig: Hoe presies is Judas Iskariot dood? Verskil dit nie met Mat. 27:3-10 nie? Die eenvoudigste verklaring is dat die Skrifgedeeltes mekaar aanvul en ons so ’n voller prentjie kry. Ons hoor so eggo’s van ’n verraderlike Absalom wat hang (Mattheus), sowel as van ’n trouelose Agab met bloedbevlekte grond (Handelinge); van selfpynigende wroeging (Mattheus; vgl. Joh. 17:12) en verbondswraak (Handelinge; vgl. Ps. 69;109). 

Dit is so ook moontlik om af te lei dat Judas gehang het, later geval het, en toe oopgebars het. Dit is ook moontlik dat die grond wat hy beplan het om te koop, toe later deur die priesters wel gekoop is vir ’n ander doel. So word Judas se amp ook later gevul, maar ook met ’n ander, beter doel.  

Hierdie gedeelte leer ons ook hoe daar naas gebed ook deur definitiewe dade gereed gemaak is vir die koms van die Heilige Gees. Die twaalf apostels het simbolies gestaan vir die nuwe Israel van God wat gebou sou word op die getuienis van die apostels en met Christus as hoeksteen (vgl. Gal. 6:16; Ef. 2:20). Deur die verkiesing  van die twaalfde lid het hulle bevestig dat hulle voortgaan met die groot opdrag (vgl. Mat. 28:18-20; Hand. 1:8) en dat Judas se verraad hulle nie sou terughou nie. So is ook duidelik standpunt ingeneem teen Judas se verraad en is die geleentheid gebruik om uit die Psalms (69 en 109)  aan te toon dat dit deel van God se beskikking wa, dat die verbondswraak van God verskriklik is (vgl. 2 Kon. 9:10; Hand. 5:1-11; 12:20-24), ook en veral teenoor hulle wat deur die amp naby aan Hom is.

Ons leer hier ook meer oor wat die beteken dat die Skrif vervul is. Die Ou Testament bevat bepaalde patrone of beginsels, in hierdie geval spot met God se uitverkorenes asook uiteindelike wraak teenoor hulle wat nie in swakheid sondig nie, maar die hand teen Hom en sy kinders ophef. Hier word dit op besondere wyse volgemaak, vervul, in die lewe van Judas Iskariot wat God se Seun, die uitverkorene en Messias verraai. Dit dien as ’n waarskuwing vir alle tye teenoor almal wat op hierdie patroon voortborduur. Naby Christus met ampswerk is ’n baie groot voorreg, maar dit vra ook voorgaan in ’n lewe van geloof en bekering en heiligmaking. Die verkiesing van Matthias laat ook besef dat dit nie die einde van die wêreld is wanneer leiers struikel nie. Iemand anders neem eenvoudig die plek in en die werk gaan voort. Let egter ook op die keuse tussen Josef met sy baie name (Barsabas en Justus, wat geregtigheid beteken) en die naam van Matthias. ’n Mens kry die indruk dat die minder waarskynlike een gekies is. So werk God dikwels om ons te beskaam en sy Naam te verheerlik.  

Werke geraadpleeg

Patrick Schreiner, Acts: Christian Standard Commentary

John Gill

Matthew Henry.