2023/05/11

Vry van drogbeelde oor God

Lees: Hand. 17:16-34

Gedagte vir kinders: Jesus het die dood oorwin en sal die wêreld eendag oordeel.

Oorsig: Paulus het op sy tweede sendingreis vir Silas en Timotheüs in Berea agtergelaat en solank na Athene gegaan. Terwyl Paulus vir hulle wag in Athene, het sy gees opstandig geword oor die stad vol afgodsbeelde was (v.16). Hy het toe in die sinagoge met die Jode en godsdienstige mense gespreek en ook elke dag op die mark met die mense wat hom teëgekom het. Onder hulle was Epikuriese en Stoïsynse filosowe. Die Epikureërs het geglo die lewe gaan oor genot en materialisme en net hier en nou en toevalligheid. Die Stoïsyne was het geglo aan plig en ’n lewe van vasbyt en nooit te bly of te hartseer te wees nie. Hulle wou probeer om die goddelike beginsel (logos) van die wêreld te verstaan. Al hierdie mense het met Paulus gestry en gesê dat hy ’n praatjiesmaker en verkondiger van vreemde gode is. Dit was in reaksie op Paulus se boodskap van die evangelie van Jesus en die opstanding (v.17-18).

Hulle het Paulus toe geneem en na die Areopagus gebring waar ernstige toetsing van idees plaasgevind het om te hoor wat sy nuwe en vreemde leer was. Die Atheners en uitlanders het ook baie graag nuwe idees en neigings aangehoor (v.19-21). Paulus het toe begin deur aan te sluit by hulle godsdienstigheid en ’n altaar aan ’n onbekende God. Hy sou hierdie onbekende God aan hulle verkondig (v.22-23). Hierdie God het (1) alles gemaak en woon nie in tempels met hande gemaak nie. Hy het (2) ook nie behoefte aan iets nie. Hy gee eerder aan almal lewe en asem en alles (v.24-25). Hy het al die nasies van die mensdom uit een bloed gemaak om oor die hele aarde te woon waar hulle bestem is. Daar kon hulle God soek, al is Hy (3) nie ver nie, maar naby ons, want in Hom leef ons, beweeg ons, en is ons. Sommige digters van hulle het dit ook gesê: Ons is ook sy geslag (v.26-28).

Paulus se gevolgtrekking: As mense God se geslag is, moet ons nie dink dat die godheid gelyk is aan menslike kuns en uitvinding nie. Hy het toe gesê dat God die tye van onkunde hieroor in die verlede oorgesien het, maar nou aan al die mense verkondig dat hulle hul moet bekeer. Die rede is dat God ’n dag bepaal het waarop hy die wêreld regverdig sal oordeel deur ’n Man wat Hy aangestel het. Hieroor het Hy aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek (v.29-31). Toe die mense van die opstanding hoor het sommige begin spot en ander gesê dat hulle weer later sal luister, maar sommige het gelowig geword. Dit het vername mense ingesluit soos Dionisius die Areopagiet en ’n vrou met die naam Dámaris (v.32-34).

Besprekingsvraag: Hoe behoort die Kerk met die omgewing se kultuur om te gaan?

Insig: Dit is opvallend hoe universeel en omvattend die lewende God hier beskrywe word. Hy het die wêreld en alles daarin gemaak, gee aan almal lewe en asem, het uit een bloed al die nasies gemaak om oor die hele aarde te woon. In Hom leef, beweeg en is ons. En Hy verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer. Paulus wat hierdie omvattende God ken en dien, sien die klomp afgode in die stad en sy gees word opstandig. Wanneer ons Hom sien, behoort ons ook. Die pluralisme vandag is in wese net ’n kodenaam vir politeïsme, en het nie bestaansreg voor die aangesig van die God wat Paulus aan die Grieke verkondig nie. Voor Christus se opstanding het God dit oorgesien en sy oordeel is uitgestel. Maar nou het die finale tyd aangebreek. Christus se uniekheid word hier begrond in twee sake: Hy het die dood oorwin en God gaan deur Hom die wêreld in geregtigheid sal oordeel. Bekering het alles daarmee te make dat hierdie opgestane Jesus en sy oordeel bevestig wie die lewende God is.

Paulus is enersyds hieroor baie ferm, en andersyds sluit hy tog ook aan by sy hoorders se wêreld. Hy gebruik die kontakpunt van die onbekende God, en neem selfs ’n frase uit ’n gedig van Aratus se gedig Phaenomena wat wyd bekend was. Hy bevestig wel die beste sentimente uit hul eie geledere, maar voer dit tog ook verder of keer dit op die kop deur die opstanding uit die dode. Hy praat dus in Griekse idioom oor die boodskap van die Bybel, maar verchristelik andersyds die Grieke. Hy appelleer op hul verstand en digkuns, maar is ook baie duidelik oor oordeel en bekering. Sendelinge wys daarop dat as jy nie diepliggend op die vlak van voorveronderstellings (aannames) mense reghelp nie, die verandering bloot bolangs is.

Wat is die diepliggende sake hier? God is groot en baie verhewe (transendent) en kan onmoontlik gelyk gestel word aan beelde of wat ons ook al oor Hom versin. Mense is na sy beeld geskape en Jesus Christus, sy beeld, het ons kom herstel (Kol. 1:15; 2 Kor. 4:4). God het ons ook nie nodig nie (Ps. 50). Hy neem inisiatief, alles is syne, het Christus reeds uit die dood opgewek en sal deur Hom die wêreld oordeel wat sy versoening minag. En tog, al is Hy so verhewe, is Hy so naby ons (immanent) dat ons leef, beweeg en is deur Hom. Die meeste valse opvattings oor God laat nie reg geskied aan sy verhewenheid en sy nabyheid nie. So ontstaan weergawes van deïsme weens gebrek aan immanensie, en van politeïsme en panteïsme weens gebrek aan transendensie (Bavinck). Die goeie nuus is dat ons deur Jesus Christus die lewende God mag ken en geniet, en mag vrykom van sy oordeel en al die drogbeelde oor God.

Werke geraadpleeg

Patrick Schreiner, Acts: Christian Standard Commentary

Jaroslav Pelikan, Acts: Brazos.

Herman Bavinck, Magnalia Dei.