2011/08/28

Om iets met iets te beveg

'n Mens kan nie iets met niks beveg nie. Dit is 'n oer-reformatoriese waarheid. Anders gestel: Christene doen nie ander dinge as ander mense nie. Hulle doen dieselfde dinge wel anders. Dit beteken hulle vul dieselfde dinge met ander inhoud - of dit nou gaan oor politiek, prokureurs of partytjie; en of dit nou gaan oor vissermanne, vrolikwees of visie.  

Vergun my 'n paar woorde oor visie. Ons is seker almal al redelik voos gevisie en gemissie by die organisasies waarby ons betrokke is - werksgewys, kultuurgewys en selfs kerkgewys. Maar soos reeds gesê: Jy kan nie iets met niks beveg nie. As ons nie visie vir iets het nie, beteken dit bloot dat iemand anders wat wel (moontlik verwronge) visie het, die leiding gaan gee. Laat my toe om iets oor die oorkoepelende visie van ons lewens te deel waarop jy kan gaan verbeter as jy kan. Canon Press, die plaaslike Christelike uitgewers waar ek tans is, verwoord hulle visie so:
1. Om produkte te skep en te voorsien wat die visie van 'n vol lewe voorhou: 'n lewe vol van skoonheid, tradisie, samesyn, opvoeding, lag en feesviering.
2. Onbeskaamd vir Christus en skerp gekant teen die waardes van moderniteit.
3. 'n Volwasse kultuur met die kerk in die sentrum daarvan, terwyl die goeie lewe uitgeleef word - een huisgesin op 'n slag.  

Die groot vraag is natuurlik nog steeds hoe die visie ingekleur word. Kom ons volstaan vir nou met die buitelyne. Wat sou jy hierop wou byvoeg of aftrek, vermenigvuldig of deel? Hier is weer geleentheid vir 'n meningspeiling in die kolom aan die regterkant. Vul nege uit tien in as jy nie hierop kan verbeter nie, agt as jy reken jy kan 'n ekwivalent bied, sewe as jy dink jy kan hierop verbeter en ses as jy reken die visie is maar karig. Deel dan jou visie met jou vriende en laat hulle besluit of jou puntetoekenning geloofwaardig was.