2023/01/27

Hofsitting met afvalliges

Lees: Miga 6:1-8

Gedagte vir kinders: Die HERE is altyd goed en geduldig, maar ook reguit met sy kinders.

Oorsig: Die profeet Miga tree op in dieselfde tyd as Jesaja. In hoofstuk 6 lees ons van ’n soort hofsitting waar die profeet die volk aankla en antwoorde vra en gee omdat God met hulle ’n verbond gesluit het. Vandag kan ons dit steeds hoor as profetiese woorde teenoor mense wat in ’n verbond met God staan omdat hulle gedoop is. Ons hoor eerstens dat selfs die skepping, die berge en die heuwels, as getuies opgeroep word. Ons hoor ook dat God twis (’n dispuut verklaar) met die volk en hulle wetlik aankla (regsgeding hou) in ’n tipe hofsituasie (v.1-2).

 Tog noem God hierdie sondige volk steeds “my volk” en Hy vra hulle dringend (“Antwoord My!”) wat Hy hulle verkeerd aangedoen het en waarmee Hy hulle moeg gemaak het (v.3). Hy noem vier dinge uit hulle geskiedenis om te wys dat Hy net goed was vir hulle. Hy het (1) hulle losgekoop uit die slawehuis van Egipte. Hy het (2) vir hulle leiers gegee in Moses en Aaron en Mirjam (v.4). Hy herinner hulle verder (3) hoe Hy Balak se plan om Israel  deur Bileam te vervloek, omgekeer het (Num. 22-24). Hy herinner hulle ook (4) aan die Here se sorg vanaf Sittim (laaste plek buite Kanaän waar hulle gesondig het – Num.25) tot by Gilgal (eerste plek oorkant die Jordaan binne Kanaän – Josua 5) wat God se regverdige dade illustreer (v.5).

Die profeet gaan dan aan om Israel se moontlike reaksie op God se aanklag te gee en daarmee ook duidelik te maak wat dit is wat God van hulle verwag. Eers word gevra of brandoffers en jaaroud kalwers die manier is om God te ontmoet. In die volgende rondte word dit in die oortreffende trap gevra of die Here besonder baie sal hou van (welbehae) in duisende ramme en tienduisende strome van olie. Dan word dit nog meer ekstreem gestel en gevra of die eersgeborene gegee moet word as offer vir die eie sonde of soos onder heidene geredeneer is – “die vrug van my liggaam vir die sonde van my siel” (v.6-7). En dan gee die profeet die Bybelse eenvoud oor hoe God genader behoort te word. Hy wys eerstens dat God dit tog duidelik bekend gemaak het. Dit kom daarop neer dat die Here van elke mens verwag om (1) reg te doen, (2) God se goedertierenheid lief te hê (te ken en uit te leef), en (3) nederig voor jou God te leef. Dit beteken dat ons sal besef wie Hy is, wie ons is, hoe nodig ons Hom het in elke situasie, en dit ook uitleef voor en met ander (horisontaal en vertikaal - v.8).

Besprekingsvraag: Waarom is heidene geneig tot ydele herhaling van gebede en offers?

Insig: Die HERE spreek in hierdie hofgeding deur sy profeet reeds eeue voor Christus vandag steeds met ons wat in die tyd van die nuwe verbond in Christus leef. Afgedwaalde verbondskinders word dringend twee basiese vrae gevra: “My volk, my kind, (1) wat het Ek, die HERE aan jou gedoen, (2) waarmee het Ek jou vermoei?" En dan die arresterende opvolg: "Antwoord my!”

Hy demonstreer die teendeel op die eerste vraag vir die volk in die groot wentelpunte van hulle geskiedenis en leer ons so om na die hoofgebeure/bewyse in die verlossingsgeskiedenis en in ons lewens te kyk, en nie bloot na persoonlike sake nie. Die moontlike taal daarvan in die nuwe verbond: “Ek het jou uitgelei deur Christus uit die slawerny van die sonde en jou gemerk by die doop en as afgesonder vir My bevestig, vir jou deur die ampte van profeet, priester en koning toegerus vir jou dienswerk, jou vyande se vloeke en druk laat verwissel in seën en geluk. Ek het jou ook geduldig en genadig opgetel waar jy nogtans in sonde gestruikel het, en jou die beloofde land reeds laat proe. En so mag jy verseker wees dat Ek in elke nuwe uitdaging steeds jou Herder sal wees.” Dit is ongeveer die wederwoord op die eerste vraag in die tyd van die  nuwe verbond. Dit bring ons by die tweede vraag: Waarmee vermoei die Here ons in ons lewe vir Hom? Hoe sal ons dan hierop antwoord in die erediens en daarbuite?

Die drie stelle antwoorde vertoon die moontlike opsies in ’n stygende neiging. Dit begin by brandoffers en jaaroud kalwers. Brandoffers was wel deel van die normale offers  (Lev. 1), saam met die sondoffer, en het gedui op oorgawe van die hele lewe aan God. Jaaroud kalwers was meer by uitsonderlike geleenthede, dikwels deur die priesters as offer gebring (Lev. 9:2-3; 22:27). Ramme is, een op ’n slag, gebruik as skuldoffer (Lev. 5:15) en by ander offers, maar slegs by uitsondering by die inwyding van die tempel as duisend ramme (1 Kr. 29:21). Olie is in klein hoeveelhede in offers gebruik (Lev. 2:1; Num. 15:4; 28:14). Tienduisende strome van olie word hier in die plek van ’n normale paar liter genoem. Eersgeborenes het aan die Here behoort en is vrygekoop sodat Leviete in hul plek kon staan (Num. 3:12-13; 8:16--18). Om hulle te offer was totaal heidens (vgl. Deut. 18:10; 2 Kr. 33:2,6; Jer. 32:35; Es. 16:21; 20:31).  

Miga se antwoord staan as ’n kontras teen ’n opvatting wat blykbaar deur oordadigheid op eiegeregtige wyse wil aanbid. En hy handel oor meer as net die handelinge by hulle erediens van offers. Die eerste opsie wat hy genoem het het die voorskrifte vir die ou vebrond wel vervat, maar daarmee saam moet gemeld word dat God vra van ons dat ons sy geregtigheid sal doen. God se goedertierenheid (chesed) verteenwoordig ’n posisie tussen geregtigheid en die nederige wandel met God. Ons moet sy chesed omhels, indrink en dan uitleef. So besef ons ook hoe aangewese ons op God is om die hele lewe in gemeenskap met Hom te leef (vgl. Ps. 40:6-8; Ps. 119). Dit kan net gebeur in die ootmoedige wandel met God in Christus waar ons vanuit sy versoening ons hele lewe oorgee om geregtigheid en goedertierenheid te ontvang, en dit dan bewustelik as sy beelddraers te weerkaats en uit te leef. Dit bring nie hoogmoed nie maar egte ootmoed in ons lewens, iets wat afvalliges en sekulêres nie kan begryp nie. Vir sulkes wag ’n voorspelbare hofgeding. Maar net goedheid en guns vir hulle wat hoor (Ps.23:6 ).  

Werke geraadpleeg:

Daniel C Timmer. Obadiah, Jonah and Micah.

Gary V. Smith, NIV Application Commentary.

John Bergsma, The Word of the Lord. Year A.

Matthew Henry.