2023/01/13

Verlossing vir Israel en die hele wêreld

Lees: Jes. 49:1-7

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus is uitverkies om die ’n lig vir die hele wêreld te wees.

Oorsig: Die profeet Jesaja het aan die mense wat weggevoer is in ballingskap verkondig dat die Here hulle sal laat terugkeer uit Babel. En tog is die terugkeer net een kant van die saak. Want wat sou gebeur as hulle nie in hulle harte ook teruggekeer het na die Here nie? En dan vertel Jesaja in hoofstuk 49 van ’n gesprek tussen die HERE en Iemand wat hy sy Kneg noem wat die antwoord hierop sou gee. Hierdie Kneg maak groot uitsprake. Hy roep die verste gebiede, die eilande, en volke wat ver is, om te hoor en te luister. Hierdie Kneg sê dan dat die Here Hom geroep het en dat so belangrik is dat dit al kom van sy geboorte af (v.1).

Hierdie Kneg vertel verder dat Hy baie goed toegerus is vir sy taak. Die HERE het sy mond gemaak soos ’n swaard en Hom beskerm en Hom soos ’n skerp pyl gemaak en in sy pylkoker weggesteek (v.2). Hy getuig verder dat die HERE vir Hom gesê het dat Hy sy Kneg Israel is, in wie die Here Homself verheerlik (v.3). Daarmee word bedoel dat hierdie Kneg een met Israel sou wees en Israel sou verteenwoordig in dit wat Israel veronderstel was om te wees, en dat God sy Naam deur hierdie Kneg groot sou maak.     

Hierdie Kneg antwoord dan dat hoewel dit gelyk het of Hy Homself tevergeefs vermoei het en sy krag vir niks sinvol gebruik het nie en dat alles vrugteloos was, iets belangriker aan die gang was. Dit was dat sy reg nogtans by die HERE, en sy loon by sy God is (v.4). En dan wys Hy verder daarop dat die HERE wat Hom van sy moederskoot gevorm het om sy Kneg te wees en Jakob (die volk Israel) na Hom terug te bring, Hy wat geëer is in die oë van die HERE en wat in God sy sterkte gevind het, dat hierdie lewende God vir Hom gesê het: “Dit is te klein dat U my Kneg sou wees om  die stamme van Jakob ( die volk Israel) op te rig en die gespaardes in Israel terug te bring. Ek het jou gemaak het tot ’n lig van die nasies en om my heil en verlossing te wees tot aan die eindes van die aarde (met ander woorde, vir al die volke)” (v.6).

Hy vertel ook verder wat die HERE, die Verlosser van Israel, die Heilige God, as ’n belofte gegee het aan die Kneg wat so diep verag is deur die volk, en wat ’n dienaar van die heersers was. Konings en vorste sal opstaan en neerbuig ter wille van die HERE wat getrou is. Want die Heilige van Israel het hierdie Kneg uitverkies om die lig en verlossing na die wêreld te bring (v.7).

 

Besprekingsvraag: Waarom kan net Jesus Christus die Kneg wees waarvan Jesaja hier praat?

Insig: Wie is die Kneg waarvan Jesaja hier praat? Vanaf die tyd van die hofdienaar van Ethiopië tot by moderne kritici van die Bybel weerklink die vraag: Jesaja self of iemand anders? (vgl. Hd. 9:34; vgl. Jes. 53. Israel word wel ook kneg in Jesaja genoem (vgl. Jes. 41:8; 44:21), maar dit is duidelik dat hierdie Kneg hier ook Israel moet terugbring na God toe (v.5-6). Vanaf Bybelse tye was daar reeds iets soos verteenwoordigers van ’n hele volk. Veral Konings en Hoëpriesters het so ’n rol vervul en reeds in Jesaja 7-9 verneem ons van so ’n koninklike figuur en ook in Jes. 42. In Jes. 53 verneem ons verder dat hierdie Kneg ons sonde op Hom sou neem. En in Jesus Christus wat beide koning en priester is (vgl. Hebr. 7-10) word hierdie profesie in sy volheid vervul. (vgl. Hd. 9:9:35-40). Dit laat ons besef dat ons eintlik hier inluister op 'n intertrintariese gesprek tussen die Vader en die Seun. Wat 'n voorreg! Moontlik het teoloë wat spekuleer oor die vredesraad (pactum salutis) van die Drie-enige God ook hierdie soort teksgedeeltes in die oog. En deur hierdie Skrifgedeelte besef ons weer eens: Jesus Christus kom doen wat Israel en ons moes doen, maar nie kon nie. Hy is die ware Jakob - die ware Israel - en die lig van die wêreld (Joh. 8:12).

Israel was veronderstel om ’n lig vir die nasies te wees en het reeds in Abraham die belofte gehad om ’n seën vir al die geslagte van die aarde te wees (Gen. 12:1-3). Hulle moes ’n koninkryk van priesters wees tot heil van die hele wêreld (vgl. Ex. 19:6), maar hulle kon nie. Daar was Iemand nodig wat die ware Kneg van die Here sou wees wat dit effektief sou kon doen (vgl. v.2 en 7; Gal. 3:14). Dit het aanvanklik nie gelyk of Hy iets uitrig nie, want hoeveel vooroordeel en misverstand was daar nie in sy bediening op aarde nie, selfs onder sy volgelinge, en so word Hy dan ook uiteindelik gekruisig. Maar nogtans het Hy aan God se reg vasgehou wat Hom ook bevestig het in sy ampswerk, reeds op aarde (vgl. v.5,7), en later deur die opstanding uit die dode en sy troonsbestyging met die Hemelvaart. In Hom kan ons ook knegte van die Allerhoogste word en diensbaar wees, ook wanneer dit lyk of daar nie resultate is nie. God sal uiteindelik die werk van ons hande in Hom bevestig.

Let op die groot beloning op die werk van Christus, die Kneg van die HERE. Dit is so groot dat konings en vorste daarvoor opstaan en neerbuig (v.7). Sy werk is so verder so groot dat dit te gering is om net tot redding van die verbondsvolk Israel te wees. Die verlossing is so groot dat Hy ’n lig vir die nasies sou wees tot aan die einde van die aarde. Wat het gebeur toe Christus na sy kruisdood opgestaan het en later opgevaar en in die hemel by die Vader aangekom het? Dan. 7:14 en Ps. 118 vertel ons iets daarvan. Die poort na God word oopgemaak en al die volke en nasies en tale wat in Hom geregverdig is, vereer Hom. Intussen word almal opgeroep om te kom na die waters van lafenis en die lewe van oorvloed in Hom (vgl. Jes. 55). Laat ons dan kom en ook oorvloedig wees in sy diens omdat ons weet dat ons arbeid in die Here nie tevergeefs is nie ( 1 Kor. 15: 58).  

Werke geraadpleeg:

Tim Chester, Isaiah for You.

J. Alec Motyer, Isaiah, Tyndale Old Testament Commentaries

John N Oswalt, NIV Application.

John Bergsma, The Word of the Lord. Year A.

Matthew Henry.