2023/02/03

Twee soorte godsdiens

Lees: Jes. 58:1-14

Gedagte vir kinders: Daar is ’n groot verskil tussen ware en valse godsdiens.

Oorsig: Jesaja vertel dat die Here hom geroep het om hard, uit die keel uit (volle bors- NAB), te roep en niks terug te hou nie. Hy moes sy stem soos ’n basuin (ramshoring) verhef en dit behoorlik laat hoor. Hy moes aan God se volk hulle oortredings en sonde verkondig (v.1). Hulle was wel vol van godsdienstige dade. Hulle het skynbaar (1) die Here elke dag gesoek, (2) graag kennis van sy wil opgedoen, net soos (3) ’n nasie wat geregtigheid doen (4) en die reg van God nie verlaat het nie, en (5) wat vra na sy verordeninge. Ja, hulle het (6) graag genader tot God (v.2). En tog het hulle beleef dat die Here hulle nie raaksien nie, en dit terwyl hulle gevas het en bekommerd was. Die probleem was hulle motiewe en dade. Hulle het in hulle vas geleentheid gesoek om sake te doen, arbeiders vermoei, getwis en selfs met die vuiste geslaan. Hulle vas was nie bedoel om hulle stem in die hoogte te laat hoor nie (v.3-4).

Die Here verduidelik dan dat vas nie bedoel is om jou bloot te kwel en jou hoof te buig en in sak en as te gaan sit nie (v.5). Nee, dit gaan eerder daaroor dat die boeie van goddeloosheid losgemaak, verdruktes se juk afgehaal, en elke slawejuk permanent stukkend gebreek word (v.6). Positief gaan dit om honger mense te voed, arm en daklose mense blyplek te gee, en mense sonder klere te klee en jou eie mense se nood raak te sien (v.7). Dit is ware godsdiens en daarmee word beloftes gegee: (1) ’n Nuwe begin (lig wat soos son deurbreek), (2) skielike genesing, en (3) die Here se geregtigheid en heerlikheid voor en agter jou (v.8). Jy beleef (4) gebedsbeantwoording en (5) dat die Here duidelik lei. Dit alles gebeur waar verdrukking, vingerwys en leuens ophou en minderbevoorregtes gehelp word. (6) Lig skyn oor jou (v.9-10). (7) Die Here lei jou en versadig jou siel in dor plekke en (8) maak jou gebeente sterk. Jy is (9) ’n goed besproeide tuin en (10) standhoudende fontein (v.11). Diegene wat uit jou voorkom, sal  (11) ou puinhope herbou, jy sal (12) ou fondamente van vorige geslagte oprig, en jy sal genoem word: Herbouer en hersteller van mure en paaie sodat daar gewoon kan word (v.12).

So ’n lewe gaan ook saam met verlustiging in die Sabbat. Dit beteken dat jy nie die fokus van aanbidding wegneem deur gewone sake nie, die dag hoog hou, nie jou gewone gang gaan of geleentheid daarvoor soek nie, en nie onvanpaste taal spreek nie. Jy gebruik die dag positief om jou te verlustig in God en beleef so dat jy opgehef word om uit te styg en die erfdeel van en beloftes aan Jakob geniet. Die Here bevestig ook self sy beloftes hieroor (v.13-14).

Besprekingsvraag: Wat is die tekens hier van valse godsdiens teenoor ware godsdiens?

Insig: Die gedaante van godsaligheid (2 Tim. 3:5) is so skrikwekkend leeg – net ’n uiterlike doppie wat vinnig sal kraak. Ons word opgeroep om ondersoek in te stel na moontlike Fariseër-gedrag wat hierdie gedaante voed: Binne die verbond met vaste kerkgewoontes en tog steeds met jou hart weg van God af (vgl. Mt. 15:7-8; Jes. 29:12). Ons Skrifgedeelte wys op drie seine van valse godsdiens. Daar is (1) ’n soort godsdienstigheid, selfkastyding, selfmisgunnende vas wat steeds nie op God gerig is om die stem in die hoogte te laat hoor nie (vgl. Mt. 6:2-4; 16-18). Dit kom (2) ook na vore in die wyse waarop ons ons medemens hanteer, veral hulle wat onder jou gestel is. In ’n gekerstende omgewing moet ons steeds waak teen ’n soort verburgerliking van die godsdiens wat net uiterlik is, maar wat waarheid wys wanneer ons onderlinge sake doen nie. Dan verloor Kerk en Volk die innerlike krag. Die derde sein is wanneer ons aanhoudend beleef dat die Here ons nie raaksien en ons gebede verhoor nie. Ongelukkig kan ons so doof wees dat die profetiese amp uit volle bors moet roep en konfronteer. Dan moet ons hoor: Dit kan ook ’n tipe dwelm wees om naby die kerk en sy aktiwiteite te wees, maar sonder vrug of gees (vgl. Jak. 2:26). Dan ontwikkel ons ook ’n verkeerde siening van God en godsdiens (Godsbeeld en godsdiensbeeld). Hierdie volk het eintlik heidense beeld van God - asof Hy suinig is en jy jouself eers moet pynig om so sy arm te draai of manipuleer om tog ietsie vir jou te gee, en dan hoor Hy nog nie. En so verval ons hele godsdiens in dwaling.

Jesaja kontrasteer egter duidelik ’n godsdienstige vas sonder vreugde met die ware godsdiens van verlustiging. Die beloftes is so heerlik vir elkeen wat die vermaning hier hoor en tot God nader met die bedoeling om verlustiging in Hom en sy bevryding en wil te vind en dit ook na jou medemens toe uit te leef. Egte aanbidding van God en aktiewe geregtigheid en barmhartigheid teenoor ons medemens gaan altyd saam. Dit staan in die teken van die jubeljaar in die Ou Testament wanneer alle skuld afgeskryf is en God se bevryding op besondere wyse uitgeleef is (Lev. 25:8-55). Dit wys heen na Christus wat die groot bevryding in ons lewe ingebring het en laat ons besef dat dit net vir ons blywend kan waar wees omdat Christus die ware godsdiens in ons plek uitgeleef en vir ons gebrek aan ware godsdiens versoening gedoen het. In Hom het die lig opgegaan en het die herbouing van die puinhope, ook van my en jou, begin. In Hom kan die heerlike beloftes van ware godsdiens en lig en vryheid en vreugde en verlustiging en verhoring van gebede en oorwinning in ons waar word.

Laat ons dan in Hom tot God nader om ons stem in die hoogste ter laat hoor, en sy reg en barmhartigheid aan die wêreld weerkaats. Dit is die heerlike erfdeel van die Kerk as sy liggaam. So kan die Kerk weer soos ’n stad op ’n berg wees. So kan mense ook begeer om met  ons saam te gaan omdat hulle sien dat die Here met ons is en dat die krag van godsaligheid ’n werklikheid is.

Werke geraadpleeg:

Tim Chester, Isaiah for You.

J. Alec Motyer, Isaiah, Tyndale Old Testament Commentaries

Paul D Wegner, Isaiah, TOTC.

John N Oswalt, NIV Application.

John Bergsma, The Word of the Lord. Year A.

Matthew Henry.