2023/02/27

Die fondasie van ware vreugde

Lees: Ps. 32

Gedagte vir kinders: Kinders van die Here is gelukkig omdat God hulle vergewe het.

Oorsig: Hierdie Psalm van Dawid word ’n onderwysing genoem (vgl. Ps. 42, 45). Ons hoor hier wat die diepste rede is vir ’n mens wat welgeluksalig is. Dit is een wie se oortreding teen God vergewe is. Die Psalmis verduidelik dan verder dat dit gaan oor iemand wie se sonde bedek is (v.1). Net daarna word dit verder verduidelik met ’n ander woord vir sonde en oortreding en dit is ongeregtigheid. Dit gaan oor iemand aan wie die HERE die ongeregtigheid nie toereken nie. Hier word ook bygevoeg dat dit iemand is in wie se gees geen bedrog is nie (v.2). Omdat dit hier oor vergifnis gaan, beteken “geen bedrog” hier in die eerste plek iemand wat geen sonde probeer toehou nie, maar dit eerlik na God se lig bring sodat Hy dit kan vergewe.

Die Psalmis verduidelik dan wat met hom gebeur het. Hy het stilgebly (geswyg ) oor sy sonde en toe het sy hele liggaam (gebeente uitgeteer) en emosies (in my gebrul) die hele dag teen hom getuig (v.3). Die Here se hand was swaar op hom en sy binneste (murg) het uitgedroog soos wanneer die somerson in die Midde-Ooste alles laat verdor. Die woord “sela” hierna dui op ’n ruspose wat bedoel dat daar nagedink moet word oor dit wat sopas gesê is (v.4). En dan vertel hy van die ontknoping van die situasie. Hy het sy sonde aan die HERE bekend gemaak en nie bedek nie. Hy het sy oortreding aan die HERE bely en so het die HERE die ongeregtigheid van sy sonde vergewe. En weer roep hy ’n sela-oomblik uit (v.5). Hy getuig dan dat elke vrome die HERE daarom sal aanbid in ’n tyd wanneer Hy te vinde is en dat ’n oorstroming van groot water - ’n teken van die moeilike tye (chaos) - nie aan so iemand sal raak nie (v.6). Die Psalmis bely dan die HERE ’n skuilplek vir hom is en dat Hy hom bewaar van benoudheid. Meer nog, die Here omring Hom met vrolike liedere van bevryding. Sela (v.7).

Hierna hoor ons die woorde van die Here wat ons leer en raad gee oor die weg wat ons moet gaan, terwyl sy oog op ons is (v.8). Jy moet nie soos ’n perd of muilesel wees wat geen verstand het en wild optree asof jy verwilderd is van God, en ’n toom en teuel nodig het om enigsins gestuur te word in God se rigting nie (v.9). Die Psalmis getuig dan dat die goddelose baie smarte het, maar dat hy wat op die Here vertrou, sal beleef dat God hom (soos vroeër met die gesange van bevryding) nou ook met goedertierenheid omring (v.10). En dan roep Hy die regverdiges op om bly te wees in die Here en te juig. Hy versterk dit deur ’n oproep aan die opregtes van hart om te jubel in die HERE (v.11).  

Besprekingsvraag: Hoe verduidelik Paulus Psalm 32 se begin in Romeine 4:6-8?

Insig: Ons verneem in die Psalm van twee soorte lewens. Die een is ’n skadu van die ander. Ons begin by hierdie skaduwee. Hier word gelewe vanuit eiegeregtigheid (die teenoorgestelde van v.3-5: sonde word bedek en daaroor geswyg) en eiewilligheid (vgl. v.9 se verwildering: tome en teuels is nodig voor God se pad geloop word). Dit is ook duidelik in ’n wêreld wat ontkersten: Outonomie (outo + nomos beteken letterlik eie wet) is aan die orde van die dag en daar is ’n stilte (v.3:”swyg”) oor sonde en deesdae selfs aggressie wanneer die woord sonde gebruik word. Die feit is egter dat sonde ’n onvermydelike konsep is en dat die veroordeling oor sonde diep in ons harte teen ons getuig. Alternatiewe woorde soos “haatspraak” en “laster” en “patologies” en “oneties” is vandag ook dikwels maar net plaasvervangers vir die woord sonde en dikwels op grond van ’n eiewillige standaard.  

Ons Skrifgedeelte wys egter op die heerlike, welgeluksalige, alternatief. Dit gebeur egter nie noodwendig in jou slaap nie. Daar kan selfs psigosomatiese toestande volg wanneer ’n mens probeer swyg oor jou sonde of dit wil wegsteek. Die liggaam, die siel, en die emosies is nie gemaak om rustig te bly wanneer sonde nie hanteer word nie. Wanneer ons egter ons sonde na God in Christus bring, volg heerlike gevolge: Ons word omring deur vrolike sange van bevryding sowel as deur die barmhartigheid van die Here (v. 7,10). Dit lei ook tot onderrigting van ander (vgl. v.8-11; Ps. 51:11-15). Die grondslag van saligheid word nie gevind in die stand van volmaaktheid/perfeksie van ons lewe nie. Die fondasie van ware vreugde is vergifnis.

Die Nuwe Testament help ons om die Ou Testament in Christus op ’n verdiepte wyse te waardeer. Paulus help ons eksplisiet met die interpretasie van Psalm 32. Onder leiding van die Heilige Gees toon hy aan dat hierdie Psalm ons leer hoe ons geregverdig word by God sonder werke (Rom. 4:6-8). Dit gaan in Psalm 32 nie oor ’n sondelose mens wat welgeluksalig is nie, maar oor ’n sondige mens wat welgeluksalig is omdat hy eenvoudig, sonder verdienste, vergewe is. Hoe het dit gebeur? Deur die drama van vergifnis en versoening (vgl. Brueggemann). Hy het sy sonde nie langer bedek nie, maar bely voor God. Die goeie nuus van die evangelie gaan daaroor dat God ons sonde bedek in Christus. Let op: Hy bedek ons sonde (v.1) wanneer ons dit nie meer self wil bedek nie (v.5), maar na Hom toe bring. Die Psalmis doen dit uiteindelik so voluit dat hy sy sonde sommer met drie soorte name noem (oortreding, sonde, ongeregtigheid). Die gevolg is selfs dat daar “geen bedrog” in die siel is nie. Dit is weg omdat sonde eerlik voor God gebring word om te vergewe en te reinig (1 Joh. 1:9).

Werke geraadpleeg

Patrick Reardon, Christ in the Psalms. 

E Charry, Brazos Kommentaar

Geoffrey Grogan, Psalms

Walter Brueggemann, Psalms 

Tim en Kathy Keller, The Songs of Jesus