2022/04/05

Oom Ches en wêreldbeskouing (2)

"As jy jou filosofie uit varke en sambrele kan bewys, het jy bewys dat dit 'n ernstige filosofie is." – G.K. Chesterton.

Ons het die vorige keer gesien dat  ’n vorige geslag Calviniste dit belangrik geag het om sieners in plaas van kykers te wees. Selfs ’n hele universiteit is voorheen hierop gebou en hierdie ideaal word tans voortgesit in nuwe instellings. Dit beteken meer as herhaal. Dit beteken ook dat ons vra hoe ons voortbou op hulle wat ons voorgegaan het. Ons het hierin reeds gekyk na die gevaar van ’n soort plat wêreldbeskouing wat skynbaar in vakkies uitgesorteer is, maar waarin die bekende nie meer wonder-vreemd aandoen nie. Een van die kure hiervoor, het ons gehoor by die Chestertoniaanse Calvinis, Douglas Wilson, is om by oom Ches te leer dat verbeelding ons anderkant blote wêreldbeskouing neem. Ons gaan nou verder hierop in.[i]

Wilson skryf nie sistematies oor Chesterton se verbeelding nie, maar eerder beeldryk en pulserend. Met die wete dat dit eerder gesnap as aangeleer word, gaan ons tog met behoud van die beelde, op vier sake let wat na vore tree in Wilson se bespreking van oom Ches en wat mag help om lewens en wêreldbeskouing na die volgende vlak toe te neem.

Wilson wys daarop dat elke gedagte van oom Ches soos ’n lewende sel was wat al die DNS reeds gehad het, sodanig so, dat indien dit opgeroep wou word, dit vandaar die hele res van die liggaam sou kon produseer. Daarom kan jy byvoorbeeld Chesterton oor Dickens lees en ook iets leer, sê Wilson, van die huwelik of straatligte. Ons sou by hierdie DNS-beeld kon aanhaak en dit ook verder voer: Oom Ches kon ook die DNS van ’n saak waarneem en die logiese uitgroei daarvan voorspel. Dit gaan dus oor verbeeldingryke verbandlegginge. Maar hoe oefen ons dit in?

Hoewel Wilson dit nie so hanteer nie, kry ons ’n idee hiervan wanneer hy later die beeld van ’n boom en sy vrug gebruik om iets hiervan te illustreer. Wilson maak ’n verrassende konneksie met die verwantskap tussen sentrum en periferie, of dan meer uitlokkend geformuleer soos Wilson dit in tipiese Chestertoniaans stel, die sentraliteit van die periferie. Dit gaan nie daaroor dat ons moet spesialiseer in randsake of muggies uitsif nie, sê Wilson. Dit gaan eerder daaroor dat die vrug van die boom aan die rand, ver van die wortels verwyder is, maar wel die aard en kwaliteit van die boom en sy wortels in die sentrum aantoon. Ons toets dit wat sentraal staan, sê Wilson, deur te proe wat op die rand van die boom aan die vrug is. Randsake kan daarom wel sentraal staan, juis omdat die sentrum belangrik is. Wilson is van mening dat dit die rede is waarom oom Ches so goed was om die gewone sake van die lewe te bespreek. Hy kon enige vrug van enige tak pluk, sê  Wilson, en dan die lewe van daardie vrug terugherlei na die wortels toe. Wilson gee dan voorbeelde: goeie maniere wat die liefde vir mense in die klein dinge illustreer, sowel as slegte kuns wat iets van die basiese uitkyk van die kunstenaar illustreer.  

Hierdie voorbeeld mag eenvoudig klink, maar die paradoksale toepassing is eintlik ’n groot antwoord op die uitdaging van sogenaamde desentrering van ons tyd (decentering). Dit iets heeltemal anders as desentralisasie. Dit gaan ten diepste daaroor dat daar niks meer sentraal staan nie. Daar is dus nie meer iets soos sentrale wortels en ’n stam is waaruit die vrug evalueer kan word nie. Die postmoderne mens, die skeptiese mens, die relatiwistiese mens, wil eerder alles op losse skroewe hou en is van mening dat wortel en tak en vrug blote konstrukte is. Wilson wys egter op Oom Ches wat reeds in sy tyd die probleem aangevoel het met so ’n benadering in die kunste:  

"Daar moet altyd 'n ryk morele grondbedding wees vir enige groot estetiese groei. Die beginsel van kuns ter wille van kuns is 'n baie goeie beginsel as dit beteken dat daar 'n lewensbelangrike onderskeid is tussen die aarde en die boom is wat sy wortel in die aarde het; maar dit is 'n baie slegte beginsel as dit beteken dat die boom net so goed kan groei met sy wortels in die lug."

Vir oom Ches was daar iets soos permanente sake en jy moet ’n oog hê vir ordes wat nie omgekeer kan word nie. Wilson wys daarop dat oom Ches geoefend daarin was om hierdie permanente ordes met een oogopslag te onderskei van die giere en modedenke van die dag. Hy wys ook op oom Ches se bekende woorde dat giere en modes sagte vorme van waansin is. Dit is die rede, sê Wilson, dat dit lyk of die Kerk agter die tyd is, maar dit is net omdat die Kerk bokant die waansin en die tye is. En dan speel Wilson met ’n bekende gesegde wat hy ombou en wat die moeite werd is om aan te haal: “Chesterton het 'n soort kennis wat weet wat hy behoort te weet, weet wat hy nie kan weet nie, en weet hoe om hom in die verskil te verlustig."

Hierdeur het Wilson in samewerking met oom Ches eintlik ’n reusewaarheid oor ooreenkoms en verskil en deelname aan ’n groter werklikheid gesê. Dit sluit ook aan  by ’n verdere kenmerk van oom Ches se verbeelding. Dit is die vermoë om die wonder van die gewone raak te sien. So, sê Wilson, kan die gewone dinge die sleutel word tot alles. Hy wys ook op die volgende bekende woorde van oom Ches: "As jy jou filosofie uit varke en sambrele kan bewys, het jy bewys dat dit 'n ernstige filosofie is."[ii] Wilson wys ook op ’n ander geleentheid waar oom Ches soos volg oor beelde uit die gewone lewe sou uitbrei: “Dit is verre daarvandaan daarvan dat dit oneerbiedig is om simpel metafore vir ernstige vrae te gebruik. Dit is eerder 'n mens se plig om simpel metafore vir ernstige vrae te gebruik. Dit is die toets van iemand se erns. Dit is die toets van 'n verantwoordelike godsdiens of teorie of dit voorbeelde kan neem uit potte en panne en stewels en botterbakke.”[iii]

Wilson merk op dat Chesterton dit juis kan doen omdat hy die wêreld ernstig opneem, maar nie homself nie. Maar sy argumente was wel gewigtig en sy gees sy het dit laat sweef, sê  Wilson. Hy merk aan die einde van sy betoog op gevatte wyse op dat oom Ches vergelyk kan word met die Wright broers wat die vliegkuns ontdek het. Soos wat die broeders ontdek het dat iets wat swaarder is as die lug, wel kon vlieg, so het oom Ches alreeds iets soortgelyk voor hulle gedoen. Al sy argumente was gewigtig - swaarder as die lug - maar hy kon daarmee akrobatiese hamerkop maneuvers in die lug doen.  

Dit bring ons by die vierde kenmerk waarin ons iets leer van waarom om Ches se verbeelding kon vlieg. Daar was ’n toonaard van lewensvreugde en feesdriftigheid. Wilson haal aan uit die werk van  Thomas Peters om iets hiervan te verduidelik en te illustreer:  “'n Onontbeerlike deel van die goddelike verbeelding is vir Chesterton die insluiting van pret. Spel, lag, vreugde en vrolikheid is nodig, nie net vir goeie kuns nie, maar vir menslike welstand in al sy dimensies. G. K. het eenkeer gesê dat jy vrolik moet wees “in enigiets wat wel die hele lewe dek – in jou filosofie en jou godsdiens. As jy nie vrolik is nie, sal jy beslis waansin hê.”[iv]

En dit bring ons terug by vorige aflewerings oor romantiek en dogma wat hiermee verweef is. Dit gaan oor ’n bykans mistieke verwondering oor God se wêreld en om allerhande verrassende konneksies en verbande te ontdek en dan met die Isak-geloof laggend daaraan deel te neem. Dit gaan daaroor dat jy dogma het wat jou anderkant die materiële kan bring sonder dat die materiële losgelaat word. Wêreldbeskouing speel hierin ’n rol, maar dit is duidelik dat dit deur geloofsverbeelding verhef moet word. Ons het sulke sieners en digters nodig wat ons bokant die mode-dogmas laat uitstyg. Ons kan sulke geroepe begaafdes nie skep nie, maar ons ons kan wel instellings hê waar diesulkes in grond geplant word waar priester-koning-profete gekweek word. En ons kan hulle aan die tradisie van ons vadere voorstel, asook iemand soos oom Ches wat met wêreldbeskouing kon sweef. Mag sulke stamme en stemme toeneem.  



[i] Hier word uitvoerig gebruik gemaak van Wilson, D. Writers to Read, Wheaton: Crossway. Hoofstuk. 1. Ook die onderstaande bronne is vanuit Wilson bekom.

[ii] George Marlin, Richard P. Rabatin, and John L. Swan, More Quotable Chesterton: A Topical Compilation of the Wit, Wisdom, and Satire of G.K. Chesterton (San Francisco: Ignatius, 1988), 351.

[iii] George Marlin, Richard P. Rabatin, and John L. Swan, More Quotable Chesterton: A Topical Compilation of the Wit, Wisdom, and Satire of G.K. Chesterton (San Francisco: Ignatius, 1988), 351-352.

[iv] Thomas C. Peters, The Christian Imagination: G.K. Chesterton on the Arts (San Francisco: Ignatius, 2000), 35–36.