2012/01/17

Ons is maanmense

Wonderkure het gewoonlik 'n voorspelbare reaksie tot gevolg: Aanhangers wil die hele wêreld daarmee regdokter. Die gevolg is dat dooddokter nie 'n denkbeeldige gevaar is nie. Een so 'n kuur vir suur verhoudinge is nie 'n middel nie, maar 'n teorie. Hierdie een is afkomstig van Rene Girard en jy kan maar die naam dophou. Die emergent church beweging het sy teorie met hoek, sinker en al ingesluk. Ongelukkig gaan die verkeerde kant van sy teorie so dalk die meeste blootstelling kry en dit sal jammer wees. Die man het beslis iets beet. Dit is nie 'n wonderkuur wat alles verklaar nie, maar dit bied antwoorde op 'n hele paar verkynsels van ons menslike natuur. Laat my toe om so vinnig die een en ander oor sy teorie te deel. Of nee, laat ons eers 'n paar scenario's hardloop om nuuskierigheid oor Girard se teorie te wek.
  •  Waarom ontstaan daar soms die eienaardigste vetes in gesinne en kerke?
  •  Waarom is massa-histerie aansteeklik, selfs al probeer jy daarteen veg?
  •  Waarom gebeur dit soms dat 'n hele kolfspan in krieket in duie stort?
  •  Waarom fikseer mense in liefdesake so maklik op die skynbaar onbereikbare ster?
  •  Waarom is "keeping up with the Joneses" 'n fenomeen onder elke klas?
  •  Waarom sal kinders in 'n kamer vol speelgoed oor een speelding baklei?
Die eenvoudige antwoord is natuurlik sonde of gebrokenheid, maar soms moet ons meer spesifiek wees. Girard meen dit gaan fundamenteel oor nabootsing van begeertes. Ek dink dat Girard se teorie so raak in baie gevalle is omdat sy teorie die eerste en laaste gebod verreken. Die beteken dat die kwessie oor afgode en begeerte in sy teorie verreken word, tesame met die feit dat die Skrif ons leer dat ons beelddraers is. Ons reflekteer altyd. Ons is nie, soos wat ons graag sou wou dink, 'n onafhanklike sonnige self nie. Nee, ons is eerder maanmense wat lig reflekteer. En as ons nie beeld van die Son van geregtigheid reflekteer nie, reflekteer ons 'n ander beeld en begeerte. Girard stel dat ons nie individue is nie, maar eerder interdividuals. Ons is minder oorspronklik en meer aangewese op mekaar as wat ons dink. Dit in kort, dink ek, is waaroor Girard se teorie gaan as ons die positiewe sy daarvan wil gebruik. 

Wat die Girard omie (hy leef nog en is tans op pad negentig toe) sê, klink eintlik so eenvoudig. Dit begin alles met die feit dat ons nabootsers is van die eerste water - gewillig en onwillig. Soos kindertjies wat almal baklei vir dieselfde speelding, so bly ons in ons begeertes besig met mekaar as rolmodelle vir ons ons begeertes. Jy dink jy wil graag daardie hierdie en daardie ding hê, maar as jy eerlik is, sê Girard, is jou optrede en begeerte dikwels aangevuur deur iemand anders.
Dit is presies waarom die advertensiebedryf so gewild is en waarom modegiere skynbaar onafwendbaar is.  En hoe meer ons dieselfde is, hoe meer word hierdie saak aangevuur en hoe meer begeer ons dieselfde dinge. Dit lei tot plofbare situasies, die spanningsveld verhoog binne 'n groep, en die oplossing: Die groep identifiseer een of ander sondebok, dikwels 'n randfiguur waarop al die toorn ontbrand. Hierdie individu sterf of word verban ter will van die vrede. En wonder bo wonder, vrede ontstaan ook skielik, byna magies.

Dit is een van die redes waarom bendes in hulle toornontbranding oor 'n individu daarna ook nie skuldig voel nie. Die gesamentlike ontlading het dan soveel vrede veroorsaak. Almal is skielik rustig. By nabetragting redeneer die groep dan dat die individu skynbaar oor goddelike eienskappe moes beskik om die situasie so effektief te kon ontlont. Nou word dieselfde persoon die held of word selfs vergoddelik. Maar dit is tydelik. Omdat ons nabootsers is en mekaar se begeertes laat ontbrand, begin die spanning kort voor lank weer oplaai en iewers gaan 'n nuwe sondebok gesoek begin word ...

Girard sê hierdie nabootsende begeertes van ons is die oorsaak van die spanning wat oplaai totdat 'n sondebok gevind is en geweld onafwendbaar raak. Hy vind hierdie nabootsende begeerte (imitative desire) in 'n stortvloed van mites en sages. Die Bybel is egter uniek volgens hom. Hier word telkens aangetoon dat die sondebok eintlik onskuldig is. Ongelukkig ontken Girard die plaasvervangende versoening van Christus, hoewel hy nie Christus se verlossing ontken nie (is dit moontlik?). Dit, tesame met evolusie-sentimente maak hom baie aantreklik vir die emergent kerkbeweging. Die waarskynlikheid is groot dat hy in Suid-Afrika vanjaar vanweë laasgenoemde ontsporings, tesame met sy klem op die afwysing van enige geweld, bekend gaan raak via die emergensie aanhangers. Dit sal weer waarskynlik 'n skuld deur asosiasie konnotasie by ander veroorsaak. En so kan die positiewe bydae van die man wat eintlik al vir baie jare sy waarnemings verdedig, vir sommige dalk verlore raak en dit sal jammer wees. 

Diegene wat bietjie meer wil weet kan met hierdie You Tube insetsel begin en dan van agter af terug lees by hierdie bloginskrywings. Natuurlik is daar ook die immerteenwoordige Wikipedia. Maar as jy steeds wonder waarom die skynbaar eenvoudige teorie soveel skop volgens baie het, gaan lees Girard se toepassing hiervan as hy Shakespeare se komedies en tragedies mimeties analiseer. Jy sal miskien nie met alles saamstem nie, maar dit mag dalk wees dat jy vind dat jou eie persoon in een van die karakters soos 'n oop boek beskryf word. Of dat dit vir jou voel of drome (verhale) in die moderne tyd uitgelê word op 'n wyse wat respek afdwing.