2013/08/06

Opgewarmde skeptisisme


Ross Douthat is die jongste vryskut rubriekskrywer ooit by die New York Times. Hy dra die konserwatiewe balkie by die koerant en is maar 34 jaar oud. Sy publikasie, Bad Religion: How We Became a Nation of Heretics, het verlede jaar verskyn en doen goeie werk om heelwat dros uit godsdienspraatjies te verwyder. Ross het die genade ontvang om na links en na regs krities te wees; iets wat eintlik tog so normaal soos melk behoort te wees vir elkeen wat glo dat Christus niemand se lakei is nie. In sy onlangse artikel in die New York Times neem hy die afgesaagde modernistiese liberale kyk op Jesus Christus onder die loep. Hy doen dit na aanleiding van Reza Aslan se onlangse kontroversiële boek, eintlik net maar die nuutste in 'n rits van boeke wat Jesus Christ Superstar met nuwe woorde wil opvoer. Aslan is egter 'n Moslem en dit maak die ou-ou kenwysie vir sommige nou weer nuut en vars.

Ek weet nie of ek op elke faset van Douthat se apologetiek op die Reza Aslans van die wêreld sal inkoop nie, maar een ding kry hy reg wat regtig harder getrompetter moet word. Douthat toon aan dat al die pedantiese analises van Christus dieselfde vervelige struktuur vertoon. Die een sê Hy, die Jesus, was bloot 'n nasionalis en die ander weer dat Jesus bloot 'n apokaliptiese profeet was. "Julle is almal verkeerd," sê 'n derde skoolvos hier neffens ons. "Dit gaan oor Jesus, die sjamaan." Dit is nou as jy een van Suid-Afrika se onlangse toevoegings wil glo. Werklik!

Douthat se aanslag is voortreflik. Hy gaan wys te werk en skel nie die wyses van hierdie eeu met 'n skril pen uit nie. Nee, hy ontbloot die grondstruktuur en toon aan hoe afgesaag en tendensieus en eintlik baie voorspelbaar hierdie hele beweging is.
Dit is net 'n klomp intellektuele kibbelkoppe wat jy telkens met hierdie selfde ou afgesaagde wip sal kan vang. Maar skynbaar werk dit elke keer weer met sekere gesofistikeerdes wat hulleself die luukse veroorloof om die Skriftekste anders te hanteer as wat hulle verwag mense hulle eie tekste moet hanteer. Douthat is van mening dat hulle beter sal vaar as hulle die vraag indringender vra na waarom hulle reduksionistiese analise moeilik in verband gebring kan word met die globale afmetings van die Christelike geloof:

"But they also tend to be rather, well, boring, and to raise the question of how a pedestrian figure — one zealot among many, one mystic in a Mediterranean full of them — inspired a global faith. That’s not a question such books are usually designed to answer. They’re better seen as laments for paths not taken, Christianities that might have been. The mystical Jesus is for readers who wish we had the parables without the creeds, the philosophical Jesus for readers who wish Christianity had developed like the Ethical Culture movement. And a political Jesus like Aslan’s is for readers who feel, as one of his reviewers put it, that “Jesus’ usefulness as a challenge to power was lost the moment Christians first believed he rose from the dead.”

Douthat wys op twee boeke, waarvan ek net die een kan aanbeveel - die een van David Bentley Hart: "Atheist Delusions: The Christian Revolution and Its Fashionable Enemies.” Die waarde van sulke werke, sê Douthat, is dat dit ons aandag fokus op die vulkaniese effekte wat die Christendom op die wêreld gehad het en dat hulle werklik die pretensie van reduksioniste bevraagteken wat reken dat hulle onlangse a-ha oomblik op wie Jesus nou werklik moes wees, die eintlike effek op die wêreld sou gehad het wat veronderstel was om te gebeur. Ja, geleerdes van die modernistiese denkkader wat vra wat dalk kon wees, ry eintlik maar op die rug van 'n wêreld wat Christus werklik moontlik gemaak het: "And they’re reminders that every modern account of how an alternative Christianity might have changed the world is itself indebted to the many ways the historical Christianity actually did." Soos die Bybel sê: Sela.

Die waarde van Douthat is dat hy die variasies op dieselfde modernistiese tema aandui. Ek dink dit is waarde van ons tydvak. Sommige denkstyle is net nie meer in hierdie tyd so intellektueel geloofwaardig nie. Ek wil iets sê en ek gaan dit sê: Halleluja!