2025/03/08

Die Kerk het rede om te sing

Lees: Ex. 15:1-21 

Gedagte vir kinders: Sing uit jou hart uit tot die Here omdat Hy ons waarlik gevry gemaak het.

Oorsig: In Exodus 14 lees ons die merkwaardige geskiedenis van Israel se deurtog deur die Rooisee en hoe die Egiptenare voor hul oë oorwin is toe hulle in die see verdrink het. In Ex. 15 se begin lees ons hoe hulle wat in doodsangs was, maar verlos is, toe daaroor feesgevier het. Eers moes hulle stil wees omdat die Here vir hulle gestry het. Daarna kon hulle nie meer stilbly nie en Moses en Israel het uit hulle harte vir die HERE gesing. Dit begin met die lus om ’n lied tot eer van die Here te sing, omdat hy so hoog verhewe is en omdat hy die Egiptenare se perd met sy ruiter in die see gegooi het (v.1). Daarna word eers gefokus op wat die HERE vir hulle, is – hulle krag en hulle Psalm. dat Hy hulle persoonlike God is in wie hulle sal roem en wat hulle sal verhef. As die een met mag word Hy ’n Krygsman genoem en bevestig dat sy Naam HERE is (v.2-3).        

Die lied gaan dan aan om te vertel hoe Farao se beste leer en wapentuig, sy leërmag en strydwaens, in die see gewerp is, ja soos ’n klip gesink het (v.4-5).  Dan word daar direk tot die HERE gesing. Sy (u) regterhand is verheerlik deur verplettering van die vyand. Hy (U) het ook in sy hoogheid hulle verpletter wat teen Hom opstaan. Hy (u) verteer in sy toorn die vyand soos ’n stoppel. Daar word dan beeldryk bely dat die waters opgestapel en soos ’n wal bly staan het deur die geblaas van sy (u) neus en dat die watervloed styf geword het in die hart van die see (v.6-8). Dan word vertel wat die vyand se voorneme was wat by hulself gereken het dat hulle sal agtervolg, inhaal , buit verdeel en hulle begeerte sal versadig en die swaard uittrek en uitroei. Maar dan vertel hulle wat die Here daarenteen gedoen het. Hy (u) het met sy asem geblaas en die see het hulle oordek en hulle het soos lood gesink (v.9-10). Dan word die verwondering weer voor die Here uitgespreek dat niemand soos Hy is onder die gode nie (O, Here wie is soos U?), in heiligheid, in roemryk dade en wonders.

Dit word dan herhaal dat hy sy hand uitgestrek het, en die volk verlos en na sy heilige woning, let wel, gevoer het (v.11-13). En so word daar na die toekoms beweeg. Die effekte word nou beskrywe wanneer vorentoe gekyk word. Die volke het gehoor en gesidder (let op verlede tyd), soos Filistea en Edom en Moab en die inwoners van Kanaän. Verskrikking het op hulle geval en hulle was stom terwyl God se volk deurtrek. Dan word daarvan gesing dat hy hulle ook inbring en plant in hulle bergland-erfenis as vaste woonplek en heiligdom (v.14-17). Daar word oorbeleef na die belydenis dat die Here vir altyd en altyd sal regeer, omdat Hy Farao se leer in die see laat verdrink het, maar dat Israel op droë grond deurgetrek het (v.18-19). Ons hoor dan dat Mirjam, die suster van Aaron, ’n profetes was en dat sy ’n tamboeryn in haar hand geneem het en dat al die vroue agter haar uitgegaan het, let wel, met tamboeryn en koordanse. Mirjam het al singende geantwoord het soos die lied begin: “Sing tot eer van die HERE, want Hy is hoog verhewe. Hy het die perd met sy ruiter in die see gewerp.” (v. 20-21).       

Besprekingsvraag: Wat beteken dit vir ons lysies en kategorieë dat die Here onvergelyklik is?

Insig: By die eerste oogopslag mag iemand dalk vra wat hierdie lied met ons te doen het. Ons leef mos in heeltemal ander tye, sê baie vandag. Op. 15:3-4 gee ons ’n belangrik wenk: Eenmaal sal daar in die groot bevrydingslied van God se kinders deur die bloed van die Lam, aangesluit sal word by Moses se lied. Dit leer ons iets baie belangrik oor die eenheid van die Skrif en die gesag van die Skrif. De Woord bevat werklike gebeure met tipes en patrone wat heenwys na die toekoms. Daarom het moet die Woord ook tipologies gelees word sodat die verbande tussen hierdie lied en ons lied van bevryding duidelik kan wees. So help dit ons om ook die patrone ook vir ons eie tyd te onderskei (pattern recognition). 

Hierdie gebeure is daarom ook profeties oor die toekoms en daag ander sleutels tot die regte verstaan van die geskiedenis uit. Dit wys ten diepste heen na hoe die Kerk eenmaal aan die ander kant van alle chaos en bedreiginge sal staan en eer sal bring aan die onvergelyklike God soos nog nooit tevore nie.  Maar die patroon geld in die ewigheid, maar ook in tyd. Ook nou mag die Kerk telkens reken om die God van bevryding se werke te sien in nuwe benouende omstandighede. Ja, selfs nasies onder tirannie in ons dag mag in nou reeds Christus uitsien na bevryding. Maar dan moet dit begrond wees in die beslissende gebeure uit die Woord wat dit borg.

Die Woord leer ons dat die uittog (eksodus) in die Ou Testament die belangrikste gebeurtenis was voordat die kruisiging en opstanding en hemelvaart van Jesus Christus plaasgevind het. Dwarsdeur die Ou Testament het die mense op grond van die uittog uit Egipte, in benoude omstandighede veral in die ballingskap, gehoop op ’n tweede eksodus. Daar is selfs uitgesien na die Messias wat die nuwe eksodus sou begelei (vgl. Jes. 12). En toe kom die groot bevryding en uittog in Jesus Christus (vgl. Luk. 9:31). En teoloë oor ’n wye spektrum het op grond van Op. 15:3-4 die lyne raakgesien tussen die bevryding by die Rooisee en die deur Christus. Daarom word hierdie gedeelte dan ook in meer as een Christelike tradisie gebruik om die boodskap van bevryding spesifiek te bring op Opstandingsdag.

Wanneer ons dieper in hierdie gedeelte delf, sin ons raak dat daar verdere verbande gelê kan word. Waarom? Die see is in die Ou Testament en in die antieke wêreld dikwels gesien as simbolies van chaosmagte wat verswelg, van vernietiging, en van die dood. En tog kom die Israeliete lewendig anderkant uit. En die bose, verteenwoordig deur Farao se magte, hulle word verswelg en sink. Dit is dieselfde Farao wat vroeër gevra het, “Wie die Here?” Maar dit is hierdie magte en koninkryke wat sink, soos Babel later, (vgl. Jer. 51:64; berymde Ps. 46:3) en Farao se uitdagende vraag word omgesit in ’n loflied: “Wie is oos die Here?” Josef Pieper het roemryk gesê: “Only the lover sings”. Ons sou kon byvoeg: Net die slaaf wat vrygemaak is kan werklik sing en dans (Bruegemann). Ja, elkeen wat van die sonde en die dood en die satan waarlik vrygemaak is, kan sing. Meer nog, diesulkes kan hulle daaraan kan oorgee om luidkeels te sing en te dans. Nou: Dit is die verhaal en die lied van die Kerk van Jesus Christus. Dit is jou bevryding, o Christen. Jy is ook soos Israel. Iets het met jou gebeur wat jy in ’n sin net kan aanskou (vgl. Ex. 14:14). Jesus Christus het deur die dood gegaan, meer nog, daarin gegaan en daaruit opgestaan en die grendels daarvan vir ons oopgebreek. Sodat oor jou lewe geskryf mag word:  In Christus staan jy nou reeds aan die anderkant van die see en in God se nuwe begin. Dit word reeds oor jou uitgespreek by die doop. En elke Sondag en met name Opstandingsondag, word ons herinner aan die oorwinning oor die dood.

Daarom kan ons sing en word ons ook opgeroep om van harte te sing. En as ons nie altyd so voel nie? Eerstens, doen dit nogtans in die geloof en laat jou meevoer saam met ander. Gevoel volg geloof en nie omgekeerd nie. Twedens is daar altyd nuwe omstandighede wat mini-weergawes is van hierdie groot stryd waar ons telkens besef dat net die Here daaruit kan help. Dit sal jou ook help om strydend en singend te bly onder nuwe  besef van sy genade en van beantwoordings van gebed. Maar dan moet ons dit ook telkens in verband met die groot oorwinning bring. Hierin is sang onontbeerlik. Die lering van die Kerk is ’n stok om meer te slaan en ’n staf om mee te gaan, maar dit ook bedoel as ’n lied oor ons bevryding (Noordmans en Van Ruler). Goeie kerkliedere gee aan ons draagbare teologie (Merida) wat ook deelneming en doksologie moontlik maak. Let daarop dat die Skrif hier die woorde gee en nie melodie nie, wat vir ons wys wat die belangrikste behoort te wees. Dit is wel duidelik dat die dak behoort te lig wanneer heilswoorde gesing word tot eer van God.

Wat leer ons in en deur hierdie lied?  (1.) Die onvergelyklikheid van God: Wie is soos die HERE? Daar is niemand soos Hy nie. Hy val in geen kategorie nie, maar skep ons kategorieë. (2.) Hy is die God van die geslagte en die verbond en daarom ook my God. (3.) Hy het gedoen en sal verder doen (vgl. v.4-10 met v.13-17). Ons vertrou Hom hom daarom ook vir die toekoms. Israel het net daarna alreeds nuwe toetsings gehad (vgl. v.22-26), en later nog uitdagende beproewinge soos Edom, Moab en die Filistyne (v.14-15). Maar hulle kon reeds in daarvan sing. Waarom? Omdat (4) die Here ook ’n Krygsman is en Hy hulle krag was. En (5) omdat Hy vir altyd sal regeer as Koning (vgl. Ps. 47, 93, 96-99). Ja, ons Koning is reeds verhoog aan die regterhand van die Vader en niemand sal Hom weer daar kan afhaal nie (Ps. 110; 1 Kor. 15:25-26). Daarom mag ons moed hê, want ons is deel van dieselfde drama wat steeds ontvou en wat geskoei is op hierdie patroon. (6) Ons word opgeroep om in die geloof ons uitdagings tegemoet te tree. Daarom mag ons ook vooruitkyk na daardie dag in sy woning en erefenis wanneer die nuwe, gereinigde skepping sal staan anderkant al die chaosmagte en satan wat self gewerp is in die poel van vuur. Sodat ons dan mag sing soos nooit tevore nie: “O Here, Wie is soos U?” Maar (7), daardie woning, en heiligdom is nou reeds in beginsel ons deel en ons mag dit nou reeds  betree in die geloof. Laat ons daarom nou reeds inwoon by die Here en as deel van die Kerk ons oorwiningsliedere vir elke nuwe situasie sing en uitleef.    

Werke geraadpleeg:

Rushdoony, RJ, Exodus: Commentaries on the Pentateuch, Volume 2.

Tony Merida, Exalting Jesus in Exodus: Christ Centered Exposition.

Michael Morales, Exodus Old and New: A Biblical Theology of Redemption. 

Thomas J. White, Exodus: Brazos Theological Commentary.

Walter Brueggemann, Delivered out of Empire.