2024/03/12

Kyk na die Gekruisigde

Lees: Joh. 3:14-21

Gedagte vir kinders: God het die wêreld so lief gehad dat Hy Jesus Christus vir ons gegee het.

Oorsig: Ons lees hier van Nikodemus, ’n man uit die Fariseërs, wat soekend was en in die nag na Jesus gekom het. Die Here het hom toe geleer van ’n nuwe geboorte wat nodig is as iemand die koninkryk van God wil sien. Nadat Hy telkens vir Nikodemus daarop gewys het dat dit iets is wat net God kan doen en Nikodemus radeloos was oor hoe so iets kan gebeur, het die Here hom terug verwys na ’n besondere gebeurtenis in die Ou Testament toe die Israeliete met ’n houding 9murmureer) teenoor God gekla het. Die Here het toe slange onder die volk gestuur om hulle oor hul ondankbaarheid te straf (vgl. Num 21:4-9). Toe die volk besef het dat hulle besig was om te sterwe, het hulle tot die Here geroep en God het Moses toe bevel om ’n koperslang op ’n paal op te rig en dat almal wat na hierdie koperslang “kyk”, sal lewe.

En toe leer die Here vir Nikodemus en ons dat net soos die koperslang daar op ’n paal die weg tot genesing en nuwe lewe was, so sal Hy ook verhoog moet word om lewe te gee (v.14). Dit beteken dat Hy aan ’n kruis verhoog moes word bo die aarde en uiteindelik in die hemel.  Sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. En toe het Hy dit nog verder verduidelik in die heerlik bekende woorde: “Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (v.15-16).

Die Here het toe verder verduidelik dat God sy Seun juis nie in die wêreld gestuur het om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word (v.17). Elkeen wat in Hom glo, word eenvoudig nie veroordeel nie. Aan die ander kant,  die Een wat nie in hierdie wonderlike antwoord van God glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie (v.18). En die oordeel is dit: dat die lig in die wêreld vol duisternis ingekom het, maar dat mense die duisternis liewer gehad het as die lig, omdat hulle werke boos was (v.19). Dit werk eenvoudig so dat elkeen wat kwaad doen, die lig haat en sy bose werke nie bestraf wil hê deur die lig nie (v.20). Aan die ander kant is dit so dat hy wat die waarheid doen, na die lig kom, sodat sy werk openbaar kan word, dat hulle in God gedoen is (v.21). Dit laat ons besef hoe nodig ons Jesus Christus het wat ons kan reinig sodat ons kans sien om in die lig te kan staan (vgl. 1 Joh. 1:7,9).    

Besprekingsvraag: Wat leer ons oor die eenvoud van die evangelie in die woord “kyk”?

Insig: In Joh. 3 hoor ons van twee kante af wat nodig is om vry te kom van die sonde wat ons so diep en terminaal aangetas het. In die eerste gedeelte (v.1-12) verneem ons van die aardse dinge wat vir mense nodig is om nuut te word. Nikodemus was veronderstel om te weet dat iets drasties nodig is. Hy moes ten minste geweet het van Israel se doodstoestand in die ballingskap en Esegiël se wonderlike beloftes oor ’n nuwe gees en water wat uitgegiet word wat heerlik reinig (vgl. Es. 11;19; Es. 36:25-27). Hy moes tog ook geweet het dat dit in lyn was met die profete wat reeds voor en na na Esegiël hierop gewys het en dat dit in verband gestaan het met die nuwe daad van God (vgl. Jes. 44:3; Jer. 31-34; Joel 2:28-29). Die hele Ou Testament loop daarop uit dat alles vasgeloop het en dat iets nuut nodig is. Dit is ook tekenend van ons eie vleeslike lewe. Daarvan getuig reeds die groot beloftes van die profete. In die tweede gedeelte (v.13-21) verneem ons watter hemelse dinge hiervoor nodig is. 

Iemand moet neerdaal wat ook weer kan opvaar (v.13). En Hy moet iets doen wat ons kan genees van die dodelike gevolge van die sonde. Geen ander middel sal werk nie, behalwe God se oplossing. In die woestyn was God se oplossing ’n koperslang wat die effekte van hul sonde ten toon gestel het. Dit wys heen na Christus wat verhoog moes word (kodewoord vir kruisiging en later hemelvaart; vgl. Jes. 52:12, 53:7, 12; Joh. 8:28; 12;32) om die effekte van ons sonde ten toon te stel. Dit is wat dit sou kos om ons te genees van ons sterwende toestand. Die oproep is eenvoudig in God se plan: Kyk na die gekruisigde Seun van God. Elkeen wat in Hom glo sal nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe hê. So leer ons die diepte van God se liefde vir die wêreld ken, dat Hy bereid was om sy eniggebore Seun vir die wêreld te gee. Jesus Christus is goeie nuus! Die oordeel kom eers wanneer ons nie in Hom wil glo nie.

Waarom sal iemand nie hierdie wonderlike gawe van God se eie Seun aanvaar nie? Want dan moet ’n mens jou sterwende toestand en die duisternis in jouself erken. Dit beteken dat jy bereid is dat God se lig op jou val en jy daarvan gereinig word. Dit doen ons net wanneer ons besef dat ons ongeneeslik siek is van die slangbyt van die satan en die sonde. En tog is die oplossing so heerlik eenvoudig. Kyk na Christus en lewe. Wie na Hom kyk, kan uitsien dat dinge sal begin verander. Die nuwe lewe in Jesus Christus is ’n werklikheid. Reeds by die doop word ons ingelyf by hulle wat na God se Seun kyk en daaruit lewe. So begin ons die koninkryk van God te sien en daarvoor te lewe. Ja, hemelse dinge was nodig om dit moontlik te maak. Iemand moes neerdaal, die volmaakte offer bring en opvaar na die hemel waar Hy vir ons intree. Die goeie nuus is dat Iemand het, en ons daarom genesing mag ken deur sy Naam.

Werke geraadpleeg:

John Bergsma, The Word of the Lord. Year B.

Frederick Bruner, The Gospel of John.

Michael Card, John, the Gospel of Wisdom.

Franci Martin & William Wright. Catholic Commentary on Sacred Scripture.

Matthew Henry.