2023/04/29

Omvou en uitgestuur

Lees: Joh. 20:19-31

Gedagte vir kinders: Hulle wat in Jesus glo, sonder dat hulle Hom gesien het, is baie gelukkig.

Oorsig: Die Here Jesus het uit die dood opgestaan op die eerste dag van die week. Op daardie dag, in die aand, het die dissipels bymekaar gekom en die deure gesluit uit vrees vir die Jode. Maar Jesus het skielik in hulle midde gestaan en vir hulle gesê: “Vrede vir julle!” Daarna het Hy sy hande en sy gewys om te bevestig dat dit Hy was, en toe was die dissipels verskriklik bly (v. 19-20). Die Here Jesus het toe weer vir ’n tweede keer vir hulle gesê: “Vrede vir julle!” En Hy het hulle toe ’n opdrag gegee: “Soos die Vader My gestuur het, stuur ek julle ook.” Daarna het Hy op hulle geblaas en gesê: “Ontvang die Heilige Gees.” (v.21-22). Hy het vir hulle gesê dat as hulle die mense hulle sondes vergewe, dan sou dit vergewe word, en as hulle die mense se sondes teen hulle hou, sou dit teen hulle gehou word (v.23; vgl. Mt. 16:19).

Thomas, wat een van die 12 apostels was en Didimus (tweeling) genoem is, was nie saam daar toe dit gebeur het nie. Toe die ander hom vertel dat hulle die Here gesien het, het hy in ongeloof geantwoord dat as hy nie die merke van die spykers en die spies sien aan sy hande en sy sien en daaraan raak nie, sal hy nooit glo nie (v.24-25). En toe kom die Here Jesus Thomas se ongeloof sowaar tegemoet. Want agt dae daarna (sewe dae in ons taal, want die Jode het die dag wat dit gebeur het saamgetel), met ander woorde weer op die eerste dag van die week, het dit weer gebeur. Die dissipels was saam met Thomas binne met die deure gesluit. En Jesus het gekom en in hul midde gestaan en weer gesê: “Vrede vir julle!” (v.26).

Daarna het Hy vir Thomas gesê om sy vinger te bring en in sy hande te kyk, en om sy hand in sy sy te steek. En Hy het hom opgeroep om nie ongelowig te wees nie, maar gelowig. Thomas het Hom geantwoord (let wel, nie maar bloot ’n uitroep in die lug gegee nie): My Here en my God! (v.27-28). Daarmee het hy bely dat Jesus God is, soos Johannes reeds in die eerste hoofstuk gesê het (1:1). Hy het daarmee ook bely dat Jesus sy persoonlike (“’my”) Here en God is. Die Here Jesus het toe vir Thomas gesê dat hy geglo het omdat hy gesien het, en toe ’n saligspreking uitgespreek: Salig is elkeen wat Hom nie gesien het nie en tog geglo het (v.29). So het Hy ’n saligspreking uitgespreek oor elkeen, ook ons, wat nog sou glo. Johannes gaan dan voort en vertel dat die Here Jesus nog baie ander wonders (“tekens”) gedoen het wat hy nie vertel het nie. Dit wat hy wel vertel het, se doel is dat die lesers kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God; en dat ons deur te glo, die lewe kan hê in sy Naam (v.30-31).

Besprekingsvraag: Watter waarde het die ongelowige Thomas vir ons?

Insig: Die Here Jesus  verskyn twee keer op die eerste dag van die week aan die dissipels, in hulle midde. So vestig Hy ’n beeld van wanneer, waar en hoe die Here Jesus Homself steeds besonders openbaar:

 Die (1) samekoms van gelowiges op (2) die eerste dag van die week met (3) Jesus Christus in die sentrum daarvan. Laat ons hoor dat Thomas dit die eerste keer ontbeer. Ons kan dankbaar oor Thomas wees, want so hoor ons dat die Here Jesus diegene wat eerlik twyfel, tegemoet kom. Thomas “Tweeling” wys op ’n ongemaklike tweeling van geloof en ongeloof wat ook in ons kan woed. En tog bevestig Jesus Christus ook aan Thomas as apostel dat Hy lewe en Hy roep hom en ons wat nie gesien het nie, om te glo, en met die wonderlike belofte van sy laaste saligspreking (vgl. 1 Pt. 1:8). Onthou ook: Ons het dit wat hulle nog nie gehad het nie: Die volle Woord, geloofwaardige getuies, die sakramente, die Heilige Gees, en die konsepte en kategorieë wat die Kerk oor duisende jare ontwikkel het om ons te help om sin te maak hoe Jesus die dood kon oorwin. Want Hy wat merke het aan sy verheerlikte liggaam, is ook God. Sodat ons Hom net soos die Vader kan eer (vgl. Joh. 5:23).

Let op die groot genade hier: Wanneer die Here Jesus verskyn, is sy eerste woord, vrede. Hy neem nie kwalik nie, maar spreek vrede uit wat Hy bewerkstellig het deur sy kruis. Ons mag God se guns en seën beleef omdat Christus vir ons gesterf het. Hy herhaal die vrede om te bevestig hoe vas dit is. En dan stuur Hy hulle, sy Kerk, uit net soos wat die Vader Hom gestuur het. As God dus die wêreld so lief gehad het dat Hy sy Seun gegee het, beteken dit nou dat Hy ook sy Kerk as liggaam van Christus vir die wêreld uitstuur. En dadelik word sy Kerk weer omvou deur die genade, want Hy blaas op sy Kerk sodat hulle die Heilige Gees se nuwe werking kan ontvang op grond van sy kruisdood (vgl. Gen. 2:7; Es. 37:9). So bevestig Hy dat die Kerk se taak bekragtig word deur die Heilige Gees self en so omvou Hy ons in sy genade.

Dit is ook veelseggend om te hoor hoe die Kerk se taak verder beskrywe word. Dit gaan ten diepste daaroor of ons sonde hanteer word in Jesus Christus of nie (v.23). Die grondliggende boodskap van die Kerk gaan oor verlossing van sonde en waar sonde nie in Christus afgelê word nie, het die Kerk as liggaam van Christus die mag om deur die sleutels van die hemelryk die koninkryk toe te sluit (vgl. HK 31). Die positiewe kant is egter dat mense deur Christus vergewe mag word, en die genade mag beleef wat hierdie dissipels omvou. Ja, ons kan deel hê aan Christus se vrede, sy Gees, en sy bekragtiging vir getuienis in hierdie wêreld.  

Werke geraadpleeg

Matthew Henry

Ignatius Catholic Study Bible, New Testament.

John Bergsma, The Word of the Lord. Year A.

Frederick Dale Bruner, The Gospel of John: Pillar New Testament Commentary.

PS: Bruner verwys na die volgende treffende aanhaling van Westcott om sin te maak van die verband tussen die ontvangs van die Heilige Gees in Johannes met Pinksterdag: “The relation of the Paschal to the Pentecostal gift is therefore the relation of quickening to endowing (of Baptism to Confirmation). The one answers to the power of the Resurrection and the other to the power of the Ascension (Godet); the one to victory and the other to sovereignty.”