2023/04/06

Deurboor ter wille van ons

Lees: Jes. 52:13-53:12

Gedagte vir kinders: Jesus Christus het die straf vir ons sondes in ons plek gedra.

Oorsig: Jesaja 52-53 gaan oor die Kneg van die Here, Jesus Christus, wat sy lewe vir ons oorgegee het. Ons kan hierdie gedeelte indeel in vyf dele wat elkeen drie verse bevat. Die eerste gedeelte (52:13-15) en die laaste gedeelte (53:10-12) gaan oor hoe die Kneg van die Here wat so gely het, en tog ook so geweldig groot en hoog geword het. In die middel-dele hoor ons van sy geboorte tot sy dood - hoe Hy verwerp is (53:1-3), wat die diepste rede vir sy lyding was (53:4-6), en hoe dit uitgeloop het op sy onskuldige dood en begrafnis (53:7-9).

Jesaja begin met die verwondering (“Kyk”) oor hoe so ’n groot verhoging (hoog, verhewe, baie hoog) van die Kneg van die Here kan voortkom uit soveel lyding en kan lei tot so ’n groot erkenning daarvan. Ja, Hy laat die nasies opspring (in die Hiphil naamval, besprinkel Hy die nasies. Vgl. KJV en ook Ex. 29:21; Lev. 8:11; 14:7; 16:14-16), en selfs konings hou hulle mond toe (52:13-15). Maar dan hoor ons dat hierdie Kneg smarte ly en misverstaan word (53:1-3). Hy is die arm van die Here wat geopenbaar is (v.1) en voor God se aangesig is, maar ook so ’n gewone mens dat die mense Hom nie ag nie (v.2-3). Hy was die Een wat ons siekte en smarte gedra het, maar sy eie mense het Hom eerder beskou as deur God gestraf. En tog is Hy ter wille van ons oortredinge (uiterlike sonde) en ongeregtighede (innerlike sonde) deurboor en verbrysel. So het daar vir ons vrede en genesing gekom. Ons het gedwaal soos skape en ons eie pad geloop. Maar die Here het ons sonde op Hom laat neerkom (53:4-6).

Hierdie Kneg van die Here het vrywillig sy dood aanvaar (53:7-9). Hy is sonder teenstand mishandel, na die plek van teregstelling gelei,  en onregverdig tereg gestel. Sy begrafnis, wat gelyk het of dit saam met die goddelose sou wees, het uiteindelik by ’n ryke geëindig omdat hy in sy hart en dade onskuldig was. Ons hoor daarna dat hierdie Kneg van die Here tog oorwin (53:10-12). Hy word as die Een wat lewe voorgehou, al word dit nie reguit gesê nie. Hy sal ’n nageslag sien as gevolg van sy offer, en die dae verleng en sy hand bring voorspoed (v.10). Hy sien dit as gevolg van sy lyding waardeur Hy moes gaan en is tevrede. En deur sy kennis van wat nodig is vir verlossing, maak hy baie regverdig en dra hulle skuld (v.11). Daarom deel God Hom uit vir baie en Hy verdeel die buit met baie (v.12, letterlik vertaal). Waarom? Omdat Hy (1) sy siel tot in die dood uitgegiet het, (2) as oortreder gereken is, (3) die sondes van baie gedra, en (4) vir sy oortreders gebid het. So red Hy tot die uiterste toe (vgl. Hebr. 7:25).

Besprekingsvraag: Is dit nie wreed dat ’n onskuldige vir skuldiges moet sterf nie?

Insig: Sommige is krities of skepties oor die gereformeerde waardering van Christus se versoening as plaasvervangende genoegdoening. 

Hierdie bekende gedeelte maak dit duidelik dat Jesus se kruisiging wel ter wille van ons en in ons plek was. Die probleem is ons s’n - ons siekte, ons smarte, ons oortredinge, ons ongeregtighede, ons straf (v.4-5). En telkens is die lyding syne – Hy het dit op Hom geneem, gedra, is deurboor, is verbrysel, is verwond, dra die straf en ongeregtigheid, en word mishandel (v.4-5,7). En die uitkoms daarvan: So kom daar vir ons vrede, genesing en regverdiging (v.5,11). Wanneer ons besef dat God se deugde nie teen mekaar afgespeel kan word nie, maak die kruis van Christus ook baie sin. Want deur die kruis sien ons hoe God gelyktydig regverdig kan wees en die sonde straf, en ook genadig en ons kan vergewe en vryspreek (vgl. Rom. 3:26). Want die groot Plaasvervanger het gekom.

Maar kan Hy in ons plek ons smarte dra? Sommige kritiseer ook hier en sê dit kom neer op Goddelike kindermarteling vir ander se sondes. Let egter daarop dat Christus, self ook God uit God, dit gewillig in gemeenskap met sy Vader doen. Ja, dit behaag die Vader selfs (53:10), maar die Seun kies dit ook (Hebr. 10:9-10) om ons Plaasvervanger te word op die vlak wat ons heldhaftigheid sou kon noem. Hy kan dit dra en deurdra om so die Verbondshoof van die nuwe mensdom te word wat ons verteenwoordig en lewe gee. Hierdie gedeelte maak net sin as ons dit in Jesus Christus vervul sien. Selfs die kleinste besonderhede soos dat Hy onverwags by ’n ryke in sy graf was, word in Hom vervul. Nie Israel nie, nie Jesaja nie, maar net Hy kan dit ook effektief doen wat hier beskrywe word. Ons kry selfs ’n indruk oor die onmenslike gesig van sy liggaam aan die kruis waar sy vlees tot op die been deur geseling en kruisiging oopgevlek is. Maar meer nog, ons kom onder die indruk van sy effektiewe versoening wat Hom hoog bo almal maak en wat baie regverdig maak. Die vertaling van vers 12 soos hierbo voorgestel, maak ook meer sin in die lig van wie Christus is.

Ons kry hier te doen met gekonsentreerde lyding wat ons verstand te bowe gaan. A.B. Simpson beskryf dit met treffende beelde: Méér as een mens wat skielik moet instaan vir al die skuld van soveel mense van die wêreld, totdat hy verswelg, bankrot, en verpletter is. Méér as ’n herder wat alleen staan tussen sy kudde en die wolwe, en hulle hom pak totdat hulle hom in stukke verskeur en hy bloei en sterwend neerval, maar die skape wel gered is. Méér as een sonde waaroor ons ons kwel en wat swaar op ons druk. Op Hom het die sonde van die wêreld gedruk. Hy het die straf en vergiftiging volledig gedra, sodat ons kan vrykom. 

Daarom is Hy nou hoog en verhewe, ja baie hoog (52:13). Daarom sal nasies opspring en gedoop word. Daarom hou konings hul mond oor Hom toe (52:15; vgl. KJV; vgl. Mat. 28:18-20). Daarom trek Hy nou, nadat Hy verhoog is, almal na Hom toe (Joh. 12:32).


Werke geraadpleeg

Tim Chester, Isaiah for You.

J. Alec Motyer, Isaiah, Tyndale Old Testament Commentaries. Die voorstel vir 'n ander vertaling van 53:12 kom van Motyer. Daar is ook ruim by hom aangesluit in die oorsig.

A.B. Simpson’s Commentaries on Christ in the Bible. Hier is sommer net nog ’n aanhaling uit Simpson: "A great writer has said that there are three things in the story of Jesus that are utterly above all human experience. The first is that an innocent Man suffered as no one else suffered before. The second is that an Almighty One was crushed, defeated, destroyed by forces that He could easily have overcome, and the third is that through this very paradox He has won His victory and accomplished His great purpose of the world's redemption.