2023/04/29

Opstanding, Woord en brood

Lees: Lukas 24:13-35

Gedagte vir kinders: Die hele Ou testament profeteer van Jesus Christus wat sou kom.

Oorsig: Op die dag van die Here Jesus se opstanding, was twee van sy dissipels op pad na ’n dorp met naam van Emmaus wat so 12 kilometer van Jerusalem af was. Hulle het met mekaar gepraat oor alles wat met Jesus Christus in Jerusalem gebeur het (v.13-14). Terwyl hulle praat het Jesus self nader gekom en met hulle saamgeloop. Hulle oë is egter verhinder om Hom te herken (v.15-16). Hy het hulle toe gevra waaroor hulle praat en waarom hulle hartseer was.

Die een wie se naam Kleopas was, het verbaas gevra of Hy dan ’n vreemdeling in Jerusalem was. Die Here Jesus het hulle verder uitgevra en hulle het toe geantwoord dat dit gaan oor wat met Jesus die Nasarener gebeur het wat ’n profeet was en dit gewys het in sy werk en woord voor God en die hele volk (v.18-19). En tog is Hy toe deur die owerpriesters en owerstes oorgelewer tot die doodstraf deur kruisiging. Hulle het bygevoeg dat hulle gehoop het dat Hy die Een sou wees wat Israel sou verlos. Hulle het daarop gewys dat dit toe al die derde dag was vandat die kruisiging plaasgevind het, en dat sommige vroue hulle ontstel het nadat hulle by die graf was. Want hulle het sy liggaam nie gekry nie, en toe ook ’n gesig gesien van engele wat gesê dat Hy lewe. So het ander ook na die graf gegaan en dit soos die vroue gevind, maar Hom het hulle nie gesien nie (v.20-24). 

Die Here Jesus het toe geantwoord dat hulle onverstandiges is met harte wat traag is om alles te glo wat die profete gespreek het. Hy het daarop gewys dat die Christus juis so moes ly en sy heerlikheid ingaan. Toe het Hy van Moses af (die eerste vyf boeke) vir hulle uitgelê in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het (v.25-27). So het hulle by Emmaus aangekom en die Here het gemaak of Hy verder wou gaan. Hulle het by Hom aangedring om by hulle te bly omdat dit amper aand was. Hy het toe ingewillig en aan tafel het Hy gedoen wat Hy ook by die vermeerdering van brode en by die eerste nagmaal gedoen het. Hy het die brood geneem, gedank, dit gebreek en aan hulle gegee (v.28-30). Toe het hulle oë oopgegaan en het hulle Hom erken. Daarop het Hy uit hulle gesig verdwyn. Hulle het toe erken hoe brandend hulle harte was toe Hy op die pad die Skrifte vir hulle uitgelê het. Hulle het toe dadelik opgestaan en teruggegaan na Jerusalem. Daar het die dissipels hulle vertel dat die Here aan Simon verskyn het. Hulle het toe ook vertel wat op hulle pad gebeur het en hoe die Here Jesus aan hulle bekend geword het by die breking van die brood (v.31-35).  

Besprekingsvraag: Noem gedeeltes uit die Ou Testament wat duidelik heenwys na Christus.  

Insig: Ons verneem hier van die eerste wandel en die eerste maaltyd in die nuwe skepping wat Christus deur sy opstanding ingelei het. Adam en Eva wandel met God, maar hulle oë gaan oop vir hul sonde toe hulle eiewillig eet. Hierdie dissipels se oë gaan oop vir die Verlosser nadat hulle met Hom wandel, en deur sy Woord en brood gevoed word.

 Die noue samehang tussen Woord en sakrament as middel waardeur Christus Hom openbaar, bied steeds belangrike aanduidings van die weg waarop Christus Homself aan ons openbaar en ons onverstandigheid en harte wat traag is om te glo, te hulp kom. Daarom bly die liturgie van Woord en sakrament so kosbaar in die erediens. Dit is opmerklik dat Christus enersyds eers die weg van die Woord gebruik en noodsaaklik ag as die weg waarin Hy Homself besonders openbaar. Andersyds moet ons kennis daarvan neem dat die volle openbaring hier eers in gemeenskap met Christus plaasvind by die tafel wat sterk na die nagmaal heenwys. Woord en sakrament veronderstel mekaar in Christus.

Watter gedeeltes het die Here Jesus op die pad uitgelê? Drie voorstelle: Ons kan dink aan die hele beweging van Bybelse teologie vandag wat verstommende werk al gelewer het oor hoe om die hele Ou Testament in Christus te lees. Ons sou ook op bekende, dog uiteenlopende beelde uit die Ou Testament wys wat dui op ’n besondere Saad, Koning, Profeet, Priester (vgl. ook die offers), Kneg, Seun van die mens wat sou kom (vgl. HK antwoord 19). En dan hoe Christus al hierdie lyne op verstommende wyse in Homself verenig, saamtrek en vervul. Miskien is dit die beste om te begin by die OT-tekste wat Lukas behandel in aanloop tot die kruis en ook daarna in Handelinge (vgl. Luk. 3:4-6; 4:18-19; 13:35, 19:38, 20:42-43; 21:27; Hand. 2:17-21; 2:25-28; 3:25; 13:34-35). En dan te gaan  op ’n heerlike ontdekkingsreis in die hele Nuwe Testament en van daaruit die patrone en trajekte vir verdere Skrifontdekking onderneem. Daar is soveel ou en nuwe kosbare bronne hieroor beskikbaar.

Die volle oopgaan hiervan gebeur egter altyd in gemeenskap met Christus. Tafelgemeenskap word dikwels in Lukas gevind en dui op verbond, intimiteit en vriendskap. In Christus kan elke sondaar met Hom versoen word en die voorreg van ware gemeenskap smaak. Elke nagmaal beleef ons dit besonders en kyk ons ook vooruit na die heerlike vervulling daarvan. Daar sal Hy op ’n nuwe wyse by ons wees. Die wonder is dat Hy nou reeds met ons is, en by die nagmaal ervaar ons dit reeds in die geloof met al ons sintuie. Eendag sal dit volmaak wees.   

Werke geraadpleeg

J. Bergsma, The Word of the Lord. Sunday Readings for Year A.

Darrell Bock. Luke: NIV Application Commentary.

R.C. Sproul. Luke: An Expositional Commentary.

R. T. France: Luke: Teach the Text Commentary Series.