2017/02/21

Teologiese sterre - stigters of getuies?

Dit maak nogal 'n verskil of jou teologiese sterre deel van 'n groter konstellasie vorm en of hulle eintlik planete word waarom jy weer en weer wentel. In die teologie is daar sekerlik vir beide benaderings 'n plek, op voorwaarde dat die Son van Geregtigheid die eintlike verwysingspunt bly. En tog is dit so dat egte katolisiteit nie maar net wil wentel rondom een ster nie, maar die volheid in die oog wil kry. Jy kan nie anders as om vanaf 'n bepaalde ster te lanseer nie, veral as dit so 'n soliede een is, maar uiteindelik is daar tog verdere vistas moontlik. 

In my eie tradisie het ek al gewonder watter verskil dit in aanpak sou maak indien Johannes Calvyn byvoorbeeld nie as enigste basiese verwysingspunt gebruik word nie (dikwels ook meer volgens hoorsê), maar konsekwent eerder as deel van 'n groter skare kerkvaders. Skaars was hierdie gedagtes koud, toe ek onlangs op 'n besinning van Nicholas Healy in verband met Thomas Aquinas afkom. Healy neem die Franse reformatoriese Rooms-Katoliek, Henri de Lubac, se deelnemende interpretasie van Aquinas oor natuur en genade in beskerming teenoor sy onlangse neo-Thomistiese kritici. Formidabele figure soos Lawrence Feingold, Ralph McInerny, Reinhard Hütter en Stephen Long getuig dat De Lubac se deelnemende Thomas-vlag nie die volle Aquinas-lading dek nie. Thomas se tekste oor natuur en genade word, veral deur Feingold se bydrae, tot op mikro-vlak oopgedek. Volgens getuies kan De Lubac se interpretasie van Thomas nie hierdie mikroskoop-behandeling deurstaan nie. Sy sogenaamde horisonverskuiwende interpretasies van die man van Aquino wat hom nie dualisties wil verstaan oor natuur en genade nie, maar eerder as 'n paradoksale eenheid, moet gevolglik met 'n rooi gesig agter gelaat word. 

Nie so vinnig nie, maan Healy egter. Hy is van mening dat daar benaderings in die interpretasie-metodiek is wat uit die oog verloor word wanneer die kamera te veel op nabyskote die aandag vestig. Luister 'n mens na Healy, besef jy vinnig dat sy woorde op meer as een groot kerkfiguur van toepassing gemaak kan word:

"De Lubac interprets Thomas as an authoritative witness to a tradition that precedes him. This is the reason why de Lubac is constantly citing earlier voices in the tradition—Irenaeus, Augustine, Gregory of Nyssa, Maximus the Confessor, Bernard of Clairvaux, Anselm — precisely in order to shed light on the teaching of Thomas Aquinas. And this is the reason why de Lubac’s writings on nature and grace are saturated with references to Scripture. Feingold, on the contrary, simply begins with Aquinas and then microscopically traces the tradition of commentary on Aquinas’s writings. In other words, Feingold takes Aquinas as constituting a tradition.
“What makes Feingold so provocative,” Hütter observes, “is that the form of his discourse—in stark contrast to de Lubac’s way of reading the commentators—is shaped not by a historical hermeneutic but by reconstructing and thus entering their own way of conducting a speculative theological enquiry, a mimetic exercise reconstructing and thus continuing the commentator’s discursive mimesis of Aquinas.” It is clear that Feingold imitates a certain tradition of commentary on Aquinas. It is less clear that Aquinas intended to constitute such a tradition of commentary. In continuity with the tradition that preceded him, he understood the task of theology to begin and end with the interpretation of Scripture within the Catholic tradition...The crucial point is that de Lubac’s hermeneutic allows for a more adequate interpretation of an ecclesial author such as Thomas Aquinas who did not intend to constitute a tradition, but to write as a Catholic theologian within the tradition."

Kom ons maak hierdie insig van toepassing op Calvyn-interpretasie. Die kenners wys sommer vinnig vir jou daarop dat ingewydes hulself eerstens vergewis van hoe Calvyn se siening in sy opeenvolgende uitgawes van die Institusie gegroei of gekwyn het. Dan moet 'n mens verder hierdie resultate in verband met die res van sy kommentare en geskrifte bring en dan is dit natuurlik ook hier voortdurend belangrik om 'n sin vir chronologie te behou - wanneer het hy wat geskryf. En moet natuurlik nie vergeet dat jy binne 'n hele tradisie van Calvynkenners werk nie. Maar Healy se opmerking oor De Lubac se benadering tot Aquinas bring ook iets anders na die tafel. Hy bied in die proses ook indirek 'n ongemaklike woord aan byvoorbeeld Calvynkeners wat van mening is dat die afgelope twintig jaar se navorsing so solied is dat enige ander interpretasie van Calvyn noodwendig moet stuit teen die rots van twee dekades se Gibraltar ondersoeke. Healy wys daarop dat daar De Lubacs in die wêreld is - weliswaar dun gesaai - wat deur middel van 'n histories-hermeneutiese metode 'n groot gees in die lig van ander groot geeste lees. Dit sou ook op Calvyn toegepas kon word.

Hierdie benadering werk nie net met een ster nie, maar met 'n konstellasie van sterre in die lig waarvan die spesifieke interpretasie gedoen word en met die Woord as voortdurende Ware Noord. Met ander woorde: Nie die trajekte oor Aquinas of Calvyn is in hierdie benadering die primêre fokus nie, maar eerder die trajekte van 'n hele tradisie waarbinne die betrokke groot gees gelees word. Hier is dus sprake van 'n interpreterende werkswyse wat voortdurend met meer wil rekening hou as die die wentelbaan rondom een ster of planeet. 

Uiteindelik is daar sekerlik in 'n volle sterrehemel plek vir albei soorte benaderings, maar dit is duidelik dat die regte soort katolisiteit ons aandag ook wil rig op die geheel. Ons behoort dit ter harte te neem, veral as die stergetuie nie 'n sterstigter wou wees nie.