2023/12/07

Wanneer die hemel skeur

Lees: Mk. 1:1-13

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus se koms is goeie nuus vir die hele wêreld.

Oorsig: Die evangelie volgens Markus word soms die haastige of dringende evangelie genoem. Markus val ook sommer met die deur in die huis: Die begin van die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God (v.1). Dit is alreeds ’n mondvol. Die woord “begin” laat dink ons aan die begin van die skepping. Markus dui aan dat hy nou van ’n nuwe begin gaan praat wat moontlik geword het deur die evangelie (blye nuus) oor die ware Seun van God. In daardie tyd is ’n keiser beskou as ’n gode-seun en dat sy regering goeie nuus vir die wêreld was. Markus dui nou aan dat hy van die ware goeie nuus gaan vertel oor die ware Koning.

Markus wys dan daarop dat daar in die profete (Jesaja 40:3) geskrywe is dat die Here sy boodskapper sou stuur wat sou uitroep dat die weg van die Here dringend gereed gemaak moet word in die woestyn (v.2-3). Uiteindelik het Johannes die Doper toe gekom en was besig om in die woestyn te doop en die doop van bekering tot vergifnis van sonde te verkondig (v.4). In daardie tyd is mense uit ander nasies wat hulle tot die God van Israel bekeer het, so gedoop, maar hier word mense uit die hele Israel en Jerusalem deur hom gedoop in die Jordaanrivier terwyl hulle hul sonde bely (v.5). Deur die Jordaan het Israel destyds in die beloofde land ingekom het en hier het mense deur Johannes ’n nuwe begin met God gemaak.   

Johannes die Doper was gekleed met kameelhare en ’n leergordel om sy heupe en het sprinkane en wilde heuning geëet (v.6). Hy het so herinner aan die klere van die profeet Elia oor wie daar groot beloftes was dat iemand soos Hy weer sou optree (vgl. 2 Kon. 1:8; Mal. 4:5-6). Johannes het vir die mense gesê dat Een wat sterker is ná Hom kom en dat hy nie eens waardig is om soos ’n slaaf sy skoenriem los te maak nie. Hy sou nie soos Johannes die mense met water doop nie, maar eerder met die Heilige Gees (v.7-8). In daardie dae het Jesus van Nasaret in Galilea gekom en is deur Johannes in die Jordaan gedoop. En dadelik het daar toe iets baie groot gebeur. Toe Jesus opklim uit die water, het die hemel geskeur (vgl. Jes. 64:1) en die Heilige Gees het soos ’n duif op Hom neergedaal (v. 9-10). Daar het ook ’n stem uit die hemel gekom: U is my geliefde Seun in wie ek ’n welbehae het (v. 11; vgl. Ps. 2:7; Jes. 42:1). Die Heilige Gees het toe vir Christus uitgedryf in die woestyn. Jesus Christus het vir veertig dae in die woestyn die satan trotseer en is versoek. So het Hy vir ons verlossing van die begin af gestry. Hy was daar saam met die wilde diere en die engele het Hom gedien (v.12-13).

Besprekingsvraag: Hoe sien ons die Drie-enige God raak in die doop van Jesus Christus?

Insig: Johannes die Doper staan met sy een voet in die Ou Testament en die ander in die Nuwe Testament. Hy verteenwoordig die oorgang tussen die ou en nuwe verbond. Dit gaan hier oor ’n aardskuddende gebeurtenis en dit word bevestig deur die hemel wat skeur (v.10; vgl. Jes. 64:1). Keiser Oktavius se geboorte is in 9 v.C. besing as blye nuus (evangelie) wat die gelaat van die wêreld vir altyd sou verander. Maar hier word die ware Verlosser bekend gestel wat die ware vervulling van God se beloftes is. Die rabbi’s het iets van die nood van die wêreld besef deur die mense te leer dat jy nog nie gebid het as jy nie gebid het vir die koms van die Messias nie. Steeds laat die Here ons vandag in situasies kom om ons te laat besef hoe nodig ons die Messias het. Markus vertel ons van die goeie nuus van die ware Messias en die radikale nuwe ding wat God in die wêreld kom doen het deur sy Gesalfde.

Jesus is beide die Christus (vgl. 1:1-8:30) en die Seun van God (vgl. 8:31-15:39). Markus begelei ons deur sy evangelie sodat ons hierdie Verlosser leer ken en uiteindelik saam met die vroue oor sy opstanding sal reageer. Ons leer ken Hom hier eerstens deur Johannes die Doper wat reeds in die Ou Testament belowe is (vgl. Mal. 3:1; 4:5-6; Luk. 1:5-25; Mat. 11:11). Die mense gaan in massas na Johannes, want daar is ’n geestelike honger en, let wel, bekering en vergifnis van sondes is nodig. Die tempel is skynbaar so korrup dat hulle by Johannes hul sondes kan bely sonder offers. Tensy iets nuut deur God aan kom is. Boonop gebeur dit by die Jordaan, daar waar Israel aanvanklik ingekom het in die land. En Johannes die Doper wys weg van homself na Een wat groter is en wat met die Heilige Gees doop (v.7-8; vgl. Joh. 1:29).

Maar wanneer Jesus Christus daar aankom, laat Hy Hom doop soos hulle wat sondes bely. Hy is sonder sonde, maar dui so aan dat Hy Hom vereenselwig met sondige mense en bereid om hul sonde te dra. Johannes is nie waardig om sy skoenriem los te maak nie, maar Hy sou uiteindelik Kneg word, soos ’n slaaf word en voete was, ja, ons van al ons sonde was (Joh. 13). Die Vader se reaksie op Christus se daad is heerlik: Die hemele skeur en die stem bevestig dat Jesus die geliefde (unieke ) Seun is in wie die Vader ’n welbehae het. En die Gees daal op Hom neer as verdere bevestiging. So word Hy gesalf vir sy amptelike werk. Die werk van die Drie-enige God is hier onmiskenbaar (vgl. NGB 9). Maar hierdie bereidheid van Christus om Hom met sondige mense te vereenselwig beteken onmiddellik stryd in ’n sondegevalle wêreld en daarom dryf die Gees Hom woestyn toe, om in die moeilikste omstandighede te oorwin. Anders as Adam en Israel bly Hy getrou, weerstaan die satan en kan selfs die diereryk tem  en die engele dien Hom (v.13).

Wat beteken dit alles vir ons? Dat ons sal aanvaar dat blydskap oor die wêreld se toekoms nie lê in een of ander briljante figuur, anders as Jesus Christus nie. Valse Messiasse en messias-komplekse moet weg, Ons kan ons in Kerstyd opnuut verbly oor die goeie tyding van groot blydskap oor die ware Messias wat reeds gekom het. Verder dat ons dit sal waardeer dat ons reeds deur die doop ingelyf word in hierdie goeie nuus. Ons kan sonde nou in sy Naam bely omdat dit nie pas by Koningskinders nie. Dit beteken verder dat die Vader ook oor jou as gedoopte getuig dat jy sy geliefde seun en dogter deur Christus is. Ouers moet hieruit ook raaksien hoe belangrik dit is vir kinders om dit van hul eie ouers te hoor dat hulle geliefd is. En beide hulle wat goeie of slegte ouer-ervarings het, moet daarna toe deurstoot om dit in die eerste plek van hul hemelse Vader in die verkondiging van die evangelie te hoor. In Christus is jy geliefd! So kan ons ook in die krag van Christus en sy Gees die stryd teen die magte aanknoop, al beleef jy ook soms woestyn soos die Israeliete. Deur geloof, gebed en volharding deur die Gees kan jy oorwin. Staan dan vas in die gemeenskap met God en in die krag van Christus.

Werke geraadpleeg

John Bergsma, The Word of the Lord. Year B.

Mary Healy, The Gospel of Mark.

Ben Witherington, The Gospel of Mark.  

Michael Card, The Gospel of Passion.