2011/07/13

Kuns, Kultuur en Krygers in een asem

Die nuus in Suid-Afrika het onlangs by meer as een geleentheid berig oor die Kommandokorps. Wat insiggewend is, is dat die swartsmeer kwas nie meer so goed werk met hierdie tipe organisasies nie. 'n Mens is dankbaar dat RSG se monitor program op 13 Julie 2011 darem erkenning gee aan die polisiestem wat kort en kragtig stel dat daar nie eens rede vir verdere ondersoek bestaan nie. Daar is eenvoudig 'n toenemende ongemak by Afrikaners oor die werklikhede in Suid-Afrika. Die alarmistiese sirenes van diegene wat ideologiese en revolusionêre optrede van elke Boer vrees, begin al hoe meer klink soos wolf-wolf wat nou net duisend keer te veel uitgeroep is. Of miskien besef die skril alarms dat verlamming deur verwronge skuldgevoel projeksies nie meer so kragtig soos in die verlede werk nie. Die sondeval het die Boere inderdaad nie verbygegaan nie. Maar wie enige kind, enige mens, enige Boer op die langtermyn met hoofsaaklik skuld bombardeer, moenie verbaas wees as die teendeel bewerk word nie. En piëtistiese liberaal-demokrate kan maar ophou om hul harte vas te hou. Hulle moet eerder hul valse thou-shalt-not-boekie vir die Bybel wat die Ou Testament insluit, verruil.   




Ek ken nie die Kommandokorps van binne-uit nie. Op die oog af lyk dit ideologies gesond en dat hulle 'n baie, baie belangrike vakuum vul. En nee, die ou landsvlag is nie noodwendig die finale en onweerlegbare teken van ideologiese siekte nie. Diegene wat so reken moet dalk die gesondheidsvraag ook aan hulself stel. Daar is 'n verskil tussen verering van die verlede en aanbidding van die verlede. En aanbidding van die hede is nie 'n goeie plek om gesondheidsvrae aan ander te stel nie.

Die saak waarvoor die Kommandokorps staan verdien meer as een hoera. Die opkomende geslag moet dissipline leer, slapheid uitweer en selfverdediging aantrek soos hul geliefkoosde stel loopskoene. En as dit alles gepaard gaan daarmee om die Bybelse beeld van manlikheid te promoveer, sal my ondersteuningsvlakke op 'n skaal van een tot tien ongeveer by dertien toets. Dit is die tipe "gap-jaar" wat aangebied behoort te word vir ouens wat na matriek nie seker is wat om te doen nie. Enige stelsel het natuurlik sy potensiële vrot kolle en ook so 'n jaar sal met baie gebed en beplanning en regulering gepaard moet gaan. Wat ons nie soek nie, is blote help-my-sterk-lyk boertjies met groter gewere en spiere as hoofde en harte. Wat ons wel nodig het is afrondingskole wat kuns, kultuur en krygers in een asem kan gebruik sonder enige ongemak. Soos Dawid. Gaan lees maar weer Psalm 144:1,10-15.