2011/07/15

Wat gaan soek jy oor die waters?

Daar is mense in jou lewe wat mos sommer net van jou hou, ongeag van wie jy is of wat jy doen. Hulle het nie eens veel belangstelling in dit wat vir jou 'n lewenstaak is nie. Hulle hou net van jou. Punt. Hulle laat jou proe wat genade is.

Die is hierdie tipe mens wat by hierdie tipe blog se inhoudsopgawe onmiddellik na "biografiese notas" toe gaan. Hulle wil lees hoe dit met jou gaan en wat jy doen en watter foto's jy hulle kan wys. Warm mense, minsame mense, mense wat egtheid en smaak en balans aan jou lewe gee. Dit is veral vir hulle wat ek van tyd tot tyd die biografiese notas sal aanvul. Onlangs is ek gevra om vir die gemeente waar ek lidmaat is, kortliks in die gemeenteblad oor my toekomsplanne in te lig. Hier is die ongeredigeerde weergawe vir diegene wat dalk in biografiese notas belangstel. En vir diegene - dankie daarvoor - wat vir my wil bid:

Oom Org het my gevra om die gemeente kortliks in te lig in hierdie blad oor
my beoogde twee jaar studies oorsee. Wat? Wanneer? Waarom? Waarnatoe?
Nou-ja, hier is dit kortliks.

Ek is baie bevoorreg. Fassinering, droom, beplan en uitvoer het by my agter mekaar in ’n ry kom staan. Meer as tien jaar gelede lees ek ’n boek met die titel Angels in the Architecture en word lewenslank gehaak vir ’n lewensvisie wat die Middeleeue en Reformasie as visvang kamerade voorstel. Die fyn waarnemer sal die spore hiervan sterk in die September-uitgawe van Die
Boodskapper in 2009 terugvind. Hierdie fassinering gee daartoe aanleiding dat ek die spoor reeds twaalf jaar gelede begin volg van die mense wat sulke boeke skrywe.

En soos ek die spoor volg, vind ek nie net ’n visie nie, maar ’n lewenswyse van bevrydende ortodoksie wat met my hart resoneer. Boonop is hierdie mense behalwe reformatories, ook polities konserwatief. Dit is die mense van New Saint Andrews College in Moscow, Idaho in die VSA. Reeds meer as vyf jaar gelede vind ek uit dat hulle ’n MA aanbied waar die hele kultuur onderwerp word aan die ondersoek van die teologiese grondslae daarvan. Sake soos die verbande tussen geloof en literatuur, geloof en wetenskap, geloof en wetenskapsfilosofie, geloof en filosofie, selfs geloof en argitektuur, word hier ondersoek. En so begin ’n jarelange proses van bid, droom, beplan en spaar om dalk eendag by hierdie mense se voete te gaan sit. Die tyd het toe aangebreek. Vanaf Augustus 2011 word dit DV ’n werklikheid!

Heel bo, tweede van links lê die staat Idaho – Aartappelwêreld sê hulle.

Is dit werklik nodig om soontoe te gaan? Dit kan ek net so beantwoord: Vir my het die Here die weg soontoe oopgemaak. Ek weet nie van ’n ander reformatoriese instelling wat my eie honger so kan voed as juis daar nie. Wat ek vir u vra is dat u sal bid dat die Here my met ’n groter hart en nie ’n groter kop nie, sal terugstuur.

Meermale hoor ek dit dat mense bang is vir verkeerde ideologiese invloede in jou lewe daar oor die waters. Die antwoord hierop is: Ons word almal in elke geval beïnvloed. Die enigste vraag is wie jou beïnvloed. Hierdie proses is oor jare reeds gemonitor en kort duskant veertig behoort ’n mens seker al mooi groot en volwasse te wees om te kan onderskei. Daar is wel persone in ons land se geskiedenis soos dr. Nico Smith wat meer liberaal van oorsee teruggekeer het. In sy klas was daar egter ook ’n man soos dr. Corneels van Heerden wat onder Herman Bavinck gaan studeer het en wat in ons kerkverband tuisgekom het. Die verskil lê eintlik in die dampkringe waarin jy jou bevind, ook oorsee. Diegene wat belangstel in die wêreld van idees waarmee ek daar te doen kry, is welkom om my blog te besoek by www.dagvreemdeling.blogspot.com.  Daar sal ek so van tyd tot tyd die hooftrekke van my mymeringe gee. Maar wat ek die meeste sal waardeer, is u gebede vir ’n ruimer hart en nuwe neerslae van genade. Dankie vir die geleentheid om hier te mag skryf.

Alwyn Swanepoel