![]()
Laat ek maar bely: Ek is persoonlik pro-Psalms. Ek sou selfs in 'n optog daarvoor wou loop met my "Viva Psalms!" plakaat. En ek sou saamsing in die koor van diegene wat stel dat daar 'n moratorium geplaas moet word op alle verdere aanleer van kerkmusiek totdat die mees gesonge liedere van die geskiedenis almal geken word. Maar ek dink nie dit gaan gebeur deur mense met 'n Psalmboek oor die kop te slaan nie. Dit sal eerder gebeur deurdat mense onder die indruk van die lof, die aanbidding en vreugde van die Psalms gebring word. 'n Goeie beginpunt is om
Derek Kidner se immergroen dubbelloop kommentare aan te skaf. Hulle is baie gebruiksvriendelik en kan help om jou deurwerk van die Psalms met gloed te begelei. As die debat oor die Psalms nie ingebed bly in die raamwerk van doksologie en verwondering nie, is ons besig met weersprekende optrede. Iemand behoort op te staan en die teenstrydigheid aan te toon.