2024/12/17

Die Messias en sy Kerk se missie

Lees: Luk. 4:14-32

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus het gekom om sondige mense soos ons vry te maak.   

Oorsig: Na die Here Jesus se doop en salwing deur die Heilige Gees, en na sy versoeking in die woestyn, het Hy in die krag van die Gees na die noorde van die land, na Galilea. Teruggekeer. Die gerug oor Hom het begin rondgaan in die hele omtrek en Hy het in lyn met hulle geloof, in hulle sinagoges geleer en is deur almal geprys (v.14-15). Toe kom Hy ook in Nasaret waar Hy opgevoed was. Soos Hy gewoond was (let wel), gaan Hy op die Sabbatdag in die sinagoge en staan op om te lees. Die boekrol van Jesaja is aan Hom oorhandig, en toe kry Hy die gedeelte (Jes.  61:1-2 en klein stukkie van 58:6) waar geskrywe is oor die Here se Gees wat op iemand is omdat Hy gesalf is om die goeie nuus aan die armes te bring. Die wat verbryseld is van hart sal genees word en aan gevangenes vrylating verkondig word. Aan blindes sou daar herstel van gesig wees en die wat gebroke is sou in vryheid weggestuur word. So sou die aangename jaar van die Here aangekondig word en wat in terme van die Bybel ’n jubeljaar beteken het (v.16-19; vgl. Lev. 25:8-17).

Nadat die Here die boekrol toegemaak het en aan die dienaar teruggegee het, het Hy gaan sit, soos wat die gewoonte van die rabbi’s was. Die oë van almal was op Hom met verwagting gevestig. Toe begin Hy vir hulle sê: Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul. Almal het ook goeie dinge oor Hom gesê en was verwonderd oor sy aangename woorde. Maar hulle het ook getwyfel oor Hom, want was Hy dan nie die seun van Josef wat hulle geken het nie? (v.20-22). Hy het hulle toe geantwoord dat hulle Homongetwyfeld die spreekwoord sal toevoeg oor geneeshere wat eers hulle eie mense moet genees. Hy moes dit wat Hy in Kapernaum gedoen het, ook in sy vaderstad doen. Toe gee die Here egter vir hulle voorbeelde van Elia en Elisa wat wonders eerder onder heidene gedoen het. Toe dit in Elia se tyd drie jaar en ses maande nie gereën het nie en daar hongersnood was, is Elia eerder na ’n weduwee in Sarfat in Sidon gestuur. En Elisa het nie een melaatse gereinig nie, behalwe Naaman die Siriër (v.23-27).

Almal in die sinagoge is met woede vervul toe hulle dit hoor. Hulle het opgestaan en Hom uit die stad uitgedryf en Hom gebring tot op die rand van die berg waarop hulle stad gebou was om Hom daar af te gooi. Maar Hy het tussen hulle deur geloop en weggegaan omdat dit nog nie sy tyd was nie. So het Hy na Kapernaum gegaan en hulle daar ook op die Sabbat geleer. En die mense was verslae oor sy leer omdat sy woord met gesag was (v.28-32).

Besprekingsvraag: Hoe verstaan ons vrylating hier anders as die bevrydingsteologie?

Insig: Sommige gedeeltes in die Here Jesus se bediening fokus op die etiese gevolge van sy boodskap. In Lukas leer ons dat ons dit eers beter verstaan wanneer ons die missie van Jesus Christus beter verstaan en daarmee ook van sy liggaam, die Kerk. Hier in Nasaret spreek Hy die goeie nuus van sy missie uit vanuit Jesaja 61 en dit is duidelik dat die agtergrond van die jubeljaar (Lev. 25) in die Ou Testament in die agtergrond daarvan lê. Dit gee vir ons ’n bevrydende bloudruk oor die koms en doel van die ware Messias en daarmee ook oor ware Kerke. Valse messiaskomplekse kan ook hieraan gemeet word.

Die jubeljaar in die Ou Testament het gegaan oor totale herstel van iets soos oorspronklike grondbesit na die sewende sewe jaar wat alreeds bepaalde herstel gebring het. Maar na elke sewende sewe jaar sou daar ’n ekstra bekroonde jaar van bykomende bevryding van laste en herstel van skade wees, met ander woorde, elke 50ste jaar. Daardeur moes hulle reeds verstaan dat hoewel ons weens sonde en die gebrokenheid van die lewe in baie slegte situasies kan beland, is die genade van God so groot dat herstel op sy tyd altyd weer moontlik is. Maar Jesaja 61 kondig die eskatologiese jubeljaar aan waarin die verwagte Messias, gesalf deur God se Gees, ewige herstel sou bring aan gebroke mense. En die Here Jesus kondig aan dat dit in Hom vervul is. Dit is die heerlike herstel wat sy liggaam, die Kerk, vandag voortsit in sy Naam, op grond van sy werk, en deur sy Gees. Waar dit nie meer in die sentrum staan van die Kerk se bediening nie, verloor sy gemeenskap met Christus en word hoogstens ’n tipe vereniging of klub wat bid en sing. Dan word daar ook makliker in die hand gespeel van allerhande ander vryheidsopvattings.     

Daarom is dit belangrik dat ons mooi oplet na die grondstruktuur van die grootste en beste vryheidsopvatting ooit. Dit is nie dat vryheidsopvattings wat aanmeld geen waarheid bevat nie, maar dit is dikwels te dun, te eensydig en kan nie met tyd en ewigheid rekening hou nie. Dit val op dat die ware Messias verkondig, roep, uitstuur in vryheid en die genadejaar, die groot jubeljaar, aankondig (v.18-19). Hierdie Messias kondig aan en verkondig enersyds woorde van bevryding en andersyds doen en bevestig Hy ook wat Hy verkondig. Wat Hy sê, doen Hy en wat Hy doen, sê Hy. In die volgende gedeelte leer ons hoe hy deur sy wonders bevestig dat Hy kan doen wat Hy sê. Die kern daarvan is dat arm mense vrygelaat word, met beide die woord arm (Hebreeus: anawim) en vrylating (Grieks: aphesis) wat gelaagde woorde is (vgl. reeds in die OT: vgl. Lev. 25:10; 2 Sam. 22:28; Ps. 14:6; 22:24; 25:16; 34:6; 40:17; 69:29; Amos 8:4; Jes. 3:14-15). Dit verteenwoordig in Lukas fisiese en geestelike armoede van gebroke sondaarmense (vgl. Luk. 16:20; 21:2 met Luk. 1:51-53; 5:27-32; 7:29; 15:1; 19:1-10), en vrylating wat in verband staan met fisiese en geestelike bindings, en soms gewoon kan dui op vergifnis (5:20; 7:41-48; 24:47). Dit veronderstel dat ons elkeen langs die pad iewers ons eie sonde en gebrokenheid leer ken het en na Hom kom wat die goeie nuus bring dat Hy juis daarvoor gekom het.

Dit bring ons ook by die feit dat hierdie boodskap en die aard daarvan tog ook aanstoot veroorsaak. Waarom? Dit kan wees omdat dat jy nie werklik die fantastiese nuus glo dat Hy die vervulling van alle ware verwagtinge is nie. Dit kan ook wees omdat jy nie werklik besef dat jy arm is en bevryding en vergifnis van sonde nodig het nie. Daarom moet ons Hom bid dat hy ons en ons geliefdes daartoe sal bring dat dit vir ons elkeen duidelik sal wees dat ons die Messias en sy bevryding ontsettend nodig het. Wanneer ons nie hiervan oortuig is nie, gebeur dit maklik dat een of ander ingeburgerde vooroordeel, of dalk 'n kollektiewe illusie van die tydsgees,  gaan hê wat iewers aanstoot neem aan die feit dat (1) die Messias te nederig vir ons of ons kultuur se hoogmoedige gedagtes lyk, of (2) dat ons nie so sleg is nie, of (3) dat die genade in Hom so groot is dat dit ander mense eerste kan insluit en verander waarvan ons dalk nie hou nie.

Die ware Messias is egter inderdaad nederig. Ja, Hy wat God is, was bereid om mens te word en gehoorsaam te word tot die dood van die kruis. Hy is bereid om mens te word en die sonde in ons plek te dra en effektief weg te dra. Hy is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem, en wat opstaan uit die dood sodat ons nou reeds in sy vergifnis, sy herstel, sy nuwe lewe kan deel. Hy is die steeds die goeie nuus dat in Hom die grootste beloftes van die Skrif vervul is. En nou kan die Kerk in hierdie vervulling steeds proklameer dat ook vandag die goeie nuus steeds vervul word vir elkeen wat wil hoor. Ja, nou is die missie van die Messias, die missie van die Kerk. Daarom word ons opgeroep om diep teue uit sy bevrydingswoorde en dade te drink en in Hom ryk te word. Nie net vir onsself nie, maar ook sodat ons sy sending met geloofwaardigheid kan voortsit.

Werke geraadpleeg:

Darrell Bock. Luke: NIV Application Commentary.

Pablo T Gadenz. The Gospel of Luke.

R.C. Sproul. Luke: An Expositional Commentary.

R. T. France: Luke: Teach the Text Commentary Series.