2019/06/14

Tyd vir 'n roomsnor

Van tyd tot tyd sal hierdie blog ook skrywes bymekaarmaak wat op ander plekke verskyn het. Die oorspronklike plasing sal in sulke gevalle telkens aan die einde verwys word. En soms mag dit lyk dat dit erg anachronisties geplaas word, soos hieronder. Maar oorweeg gerus: Is dit nie dalk ook nou tyd vir 'n roomsnor nie? Die waarhede hieronder is mos tydloos en het deur die genade 'n langdurige nawerking.

Kersfees het nie net een stel remme nodig nie. Ons is nogal goed bekwaam om die voorremme aan te slaan as dit kom by die kommersialisering van kersfees. As ons egter nie daarteen waak nie, kan ons die agterremme verwaarloos wat net so sterk teen iets anders moet rem: streng en stroewe gesigte in die feestyd. Om met strak gesigte die tongskote te laat klap teen kommersialisering, kan óók dui op ’n gebrek aan waardering vir die evangelie. 

Kerstyd herinner ons aan die mees dramatiese gebeure in die geskiedenis van die mensdom – dat die God van die heelal geopenbaar is in die vlees (1 Tim. 3:16). Dit het die begin van ’n salige wending aangekondig wat ons lewens van dienskeg-wees na kind-wees, van bedelaars na koningskinders, verander het. Dit het aan ons bevestig dat die stoflike waarde het en dat God se verlossing ook atome insluit. In hierdie wêreld van ons wat so gekraak en gebroke is, en tog nog soveel tekens van skoonheid vertoon, het God deur sy Seun die grootste moeite denkbaar kom maak. Hy het alle messias-komplekse beskaam toe Hy aan ons die ware Messias gegee het om op die regte tyd op te daag. 

God het hierdie wêreld van koggelmanders en klippe, van kremetarte en dolfyne, van atoom-fisika en sondige mense, so liefgehad dat Hy sy eniggebore Seun gegee het om dit te red. Hierdie oorwinning deur ’n kruisdood en ’n opstanding uit die dood sou egter net kon gebeur as die Messias ook eers as mens gebore word. In die geskiedenis van die mensdom is daar nooit so iets gesien nie. In hul wildste drome kon selfs die Jode nie hierdie wending vooraf met begrip voorspel nie; dat God ná soveel gesante, uiteindelik sy eie Seun stuur (vgl. Mk. 12:6) om te verseker dat verlossing nie ’n moontlikheid nie, maar vir altyd ’n werklikheid is. 

Die beste verhale, so het die kenners lankal aangetoon, vertoon ’n wending wat jy nooit vooraf heeltemal kon sien kom nie. Nádat die wending plaasgevind het, kyk jy egter met verwondering terug en sê: dit kon op geen ander manier werklik bevredigend uitwerk nie. Hierdie kenmerk van die beste verhale is natuurlik geskoei op die grootste en beste verhaal ooit. Nadat Jesus Christus gekom het, besef ons dat Hy die die verpersoonliking van salige wendings is. Dit kon inderdaad op geen ander wyse gebeur het nie. Daar was reeds baie skaduwees en tipes in die Ou Testament, ja, maar sonder die verrassende ontknoping daarvan in die Nuwe Testament, sou ons nie met versadiging “a-ha” kon sê nie. En ons wat anderkant die kruis en die leë graf met ’n nog groter prentjie leef, mag onder leiding van die Gees selfs “a-ha-leluja” uitroep. “Die grootste en beste verhaal,” so mag elke gelowige jubel, “het ook mý verhaal geword, want mý verhaal is ingetrek in die wending wat Jesus Christus gebring het.” 


Die goeie nuus van hierdie verhaal lê juis in die stowwerige werklikheid daarvan in die geskiedenis. Dit het konkreet in tyd op hierdie planeet gebeur en het gevolge vir elke mens, maar ook elke stukkie stof, want Christus se menswording en menswees het bewys dat God en materie nie vyande is nie. Omdat Christus gekom het, kan die wyn in jou glas en die skaapboud op jou kerstafel weer werklik in die Naam van God geniet word. Omdat Christus se verlossing alles nuut maak, kan die roomsnor van ’n laggende kind jou dankbaar maak dat kersfees baie plek het vir sulke materiële mensies. Kinders wat nog hul poeding kan geniet en boonop met taai sjokolade-hande een van die aarbeie in hul poeding met jou wil deel, is baie goeie remme teen strak gesigte wat in alle erns steeds die punt van Kersfees kan mis. 

Die verbuikerskultuur het inderdaad in ons huise en winkelkatedrale en kerke ingesluip, maar misbruik en verbruik het nog nooit dankbare gebruik en genot opgehef nie (1 Tim. 6:17). Gierigheid word nie hokgeslaan deur suinigheid, suur gesigte en toe hande nie. Gierigheid kan maak dat jy óf baie koop óf baie inhalig is. Beide simptome verraai ’n hart wat verkleef is aan die gawe in plaas van die Gewer. Gierigheid word daarom eintlik net hokgeslaan deur vrygewigheid. Dit is juis waartoe God in Christus ons kom bevry het. Kom ons erken dit maar: Die rede waarom ons so maklik koorsig koop of suinig is, is dat ons nie werklik vertrou dat die Vader self ons eintlike bron van oorvloed is en altyd sal sorg nie. Is dit nie ook waarom ons dalk voor 2015 huiwer nie? Die boodskap van kersfees kom verseker ons juis van die teendeel. God het reeds sy vrygewigheid en oorvloed deur die koms van sy Seun bevestig. Hy het deur Hom ook bevestig dat ons in ’n wêreld leef waarin die opstanding altyd triomfeer oor die dood. Zerosom-denke hou nie rekening met die vrygewige God wat van laastes eerstes en van eerstes laastes maak nie. 

Ons het nodig dat die boodskap van Kersfees ons so dankbaar en vrygewig sal maak dat ons heenwysers sal wees na God se vrygewigheid en oorvloed, ook in 2015 (vgl. 1 Tim. 6:17-19). Ons het die boodskap van Kersfees nodig om ons van spandabelrigheid, maar ook van inhaligheid te bevry. Ons Here Jesus het in sy aardse bediening daarop gewys dat gierigheid ook na vore tree as jy ’n skynbaar regverdige dispuut met jou familie oor erfporsies het. In sy verduidelikende gelykenis het Hy selfs gewaarsku teen planne vir aftrede wat net te ywerig en voortreflik is (Lk. 12:13-21). Vir ’n kerkverband met baie senior mense is dit ’n tydige woord. Kyk gerus ook na allerhande verdere moontlike tekens van gierigheid in ons Smeltoond-rubriek. 

Ons moet ons definitief uitspreek teen die kommersialisering en sekularisering van Kersfees, maar laat ons ons ook uitspreek teen diegene wat oorvloed en vrygewigheid wil inperk. Die soet gedagtes van die Kersboodskap behoort geniet en gedeel te word. Roomsnorre, narre en narratiewe van goedheid en guns, vaar dikwels beter om die goeie tyding van groot blydskap, wat vir die hele volk sal wees, met ander te deel. Die banket van die evangelie is bedoel om ook in hierdie Kerstyd en in die nuwe jaar sy spoor om ons laggende monde te wys. ’n Vrygewige Kersfees en nuwe jaar word u toegebid.

Redakteursartikel, Die Boodskapper, Desember 2014.