Gedagte vir kinders: Die HERE het vanuit Betlehem Jesus Christus vir
die wêreld gegee.
Oorsig: Die profeet Miga tree op in dieselfde tyd as Jesaja (vgl. Jes. 2 en Miga
4). Soos Jesaja kondig Miga ook die oordeel oor Israel en hulle leiers aan
(Miga 3), maar ons hoor ook hier dat alles nie vir altyd verlore is nie. Vanuit
Betlehem Éfrata, daardie klein dorpie in Juda wat aanvanklik nie eens genoem is in
Joshua se tyd onder die dorpe van Juda nie (vgl. Jos.15:20-63), sal daar vir
die Here iemand uitgaan. Hy sal ’n Heerser wees. Nou moet ons onthou dat
Betlehem die plek was waar Boas, en Isai en Dawid gebly het (Gen. Rut 4:11; 1
Sam. 16:1). Daarvandaan het die Here Dawid as koning oor Israel geroep. Nou sê
die profeet dat daar weer iemand uit hierdie geslag van Dawid aan wie die
belofte gemaak is dat sy troon vir ewig sal staan, sal kom om redding te bring.
Miga sê ook dat hierdie Heerser se “uitgange” (let wel, nie blote begin nie.
Vgl. die geloofsbelydenis van Nicea) uit die voortyd is, en as hy dit verder
verduidelik, uit die ewigheid (v.1). Dit kan uiteindelik net op een Iemand dui:
Jesus Christus. In hulle tyd het hulle dit moontlik verstaan as dat die verbond
met Dawid al van Abraham af kom en dalk gedink dat dit toe op Hiskia dui. Maar
uiteindelik kon dit net vervul word in Jesus Christus.
Die Here verduidelik dan dat hy die volk sal oorgee (prysgee) aan heidene
totdat ’n vrou geboorte geskenk het (barende gebaar het; vgl. Jes. 7:14; 9:1-7).
Nadat hierdie gesalfde gebore is, sal daar weer ’n terugkeer wees in die hele
Israel en hulle een word (v. 2). Hierdie gesalfde sal optree (staan) en hulle
laat wei in die krag (sterkte) van die HERE. Dit sal wees in die Naam van die
majesteit van die HERE. Die gevolg is dat hulle rustig sal woon, aangesien
hierdie gesalfde groot sal wees tot aan die eindes van die aarde (v.3). Hierdie
gesalfde sal nie net vrede bring nie, maar vrede wees. En daarom, wanneer die
vyand, Assur, in die land kom en die paleise wil inval, sal die volk teenoor
hom sewe leiers (herders), ja agt koninklikes (vorste) aanstel (v.4) - volmaakte
getalle van geroepenes wat genoeg en effektief sal stry.
Die volk sal dan die wrede vyand, Assur, met die swaard afwei. Dit is die
land van die geweldenaar Nimrod (Gen. 10:8), se ingang wat ingeneem sal word.
Hierdie gesalfde sal die volk bevry van Assur wanneer hy in die land kom (v.5).
Die gevolg sal wees dat die oorblyfsel van die volk van die HERE onder baie
volke sal wees soos die dou van die HERE. Ja, hulle sal wees soos reënbuie op
die plante wat op geen mens wag of vertoef nie (v.6).
Besprekingsvraag: Wat behoort ons vandag te doen as ons soos Hiskia bedreiginge beleef?
Insig: Wanneer ons die woord as ’n eenheid lees, soos wat ons vaders en moeders dit gedoen het, is ons verstaan van die Bybel soveel ryker. Dan kan ons die lyne begin trek tussen die beloftes aan Dawid, die herder-koning, en die Messias wat uiteindelik uit sy nageslag gebore is (vgl. 2 Sam. 7:1-16; Lk. 1:52; Ps. 2; Jes. 11). Wanneer ons dus hier hoor van weiding en daarmee van die herder-koning (2 Sam. 5:2), heerskappy tot aan die eindes van die aarde en vrede (v.3-4), weet ons dat dit gaan oor beloftes aan Dawid wat uiteindelik in Jesus Christus vervul is. Die Here beskik dit dan ook so dat die Here Jesus se moeder uiteindelik onopsigtelik vanaf Nasaret kom om in Betlehem, letterlik die stad van brood, gebore te word, net soos koning Dawid. Betlehem was werklik klein onder die geslagte van Juda, nie eens genoem in Josua se tyd nie (Jos. 15:20-63). En tog, God gee waarde en daarom mag elke geringe, dorpie of instelling of mens, weet dat hulle waarde deur verbondenheid aan Jesus Christus eindeloos groot is. Hy maak van elke niemand ’n iemand voor God. Dit is ook die onvergelyklike heerlike bediening van die Kerk.
Die aanvanklike konteks kon alreeds met ’n troonopvolger uit die stam van Dawid, Hiskia in verband gebring word. Hiskia moes vernedering beleef voor die mag van Assur en as dit nie vir God se kragdadige optrede was nie, was daar nie verligting nie en ook nie wonderbare redding nie (vgl. 2 Kon. 18:13-16; Jes. 36:14-18). Maar die volle omvang van die beskrywing en beloftes maak net in Jesus Christus sin. Hy word gebore in Betlehem toe iemand daar baar nadat die volk prysgegee was (v.2). Sy uitgange is inderdaad uit die dae van die ewigheid (v.1), en Hy is voor Abraham reeds bestaan het (Ek is, Joh. 8:58). Hy bedien in God se sterkte en majesteit deur siekes te genees, duiwels uit te dryf en uiteindelik die dood te oorwin nadat Hy Homself vir ons oorgegee het. Hy gaan ook terug na die Vader waar Hy bevestig word as Here en Heerser (Hand. 2:34-36; Fil. 2:9-11). Sy grootheid tot aan die eindes van die aarde is besig om ’n werklikheid te word. Ons wag ook daarop met hoop en elke Kersfees besing ons Hom met verwagting wat reeds die heil van die wêreld geword het.
Wat beteken dit vandag vir sy liggaam, die
Kerk? Dit beteken dat ons steeds mag beleef dat Hy ons Herder is en ook dat Hy
sy Kerk versorg en bewaar (Ps. 23; Joh. 10; HK 12, vr.31). Dit gebeur onder andere
deur onder-herders wat geroep word om in sy diens te staan. Daarom kan die Kerk sy krag en majesteit steeds
smaak, weiding vind en gevoed word, en sy vrede ken (vgl. Ef. 2:14). Daarom kan
die Kerk ook nou reeds ’n buitepos van die hemele wees waar die gevolge van sy
heerskappy sigbaar word. En as daar aanvalle kom? Ons lees reeds hier van
beloftes van oorwinning. Soos wat Hiskia in sy dag die magte van die Bose in
Assur en Sanballat, nageslag van Henog die geweldenaar, moes trotseer, so is
daar steeds skrikwekkende aanvalle. Die stryd teen die angste wat satan die wet
en beproewinge bring is daar, maar ons mag soos Hiskia die Here aanroep en sy
uitkoms beleef. Ons mag steeds in die krag van die Gees oorwinnend wees omdat
die Here Jesus deur sy bediening reeds die oorwinning gebring het. Ja, ons lees
hier selfs van heerlike beloftes om soos dou en reën vir ander te wees (v.6).
Met ander woorde ’n groot seën vir die nasies, soos wat die belofte reeds aan
Abraham gemaak is (Gen. 12:3). Toe die volk gesondig het, het hulle gevra of God
se verbond met hulle finaal verbreek is (vgl. Ps. 89: 38-39). Dit was egter nie
finaal nie, aangesien die Messias sou kom. So kan die Kerk ook in tye van
skraalheid leer om die insinking tog steeds in verband te bring met groter
prentjie en volhard in die geloof. Want Jesus Christus is gebore in die volheid
van die tyd en heers reeds en dit sal uitkring tot aan die eindes van die
aarde. Die uitkoms by Hiskia moet ons oproep om ook die Here vir ons tyd aan te
roep, maar meer nog, dit ook toeëien watter kragtige effek daar vanuit die Kerk van Christus op aarde kan
wees. Tot eer van Hom wat gebore is en Homself vir ons oorgegee het sodat
niemand ons regtig kan leed aandoen nie. Diegene wat die Kerk dreig en bedreig
moet weet dat hulle bloot aansoek doen om geoordeel te word en gelowiges meer
as oorwinnaars te laat wees.
Werke geraadpleeg:
Daniel C
Timmer. Obadiah, Jonah and Micah.
Gary V.
Smith, NIV Application Commentary.
John Bergsma,
The Word of the Lord. Year A.
Matthew
Henry.