2020/05/19

Gebed en Godvergeters

Gebed is een van die mees anti-sekulêre dade wat ons kan pleeg. Dit is die vernaamste deel van ons dankbaarheidslewe en ’n kragtige manier om nie ’n Godvergeter te word nie (vgl. Ps. 50:22,23; HK 45, antwoord 116). Gebed is ’n besondere middel waardeur ons nie net die vyand verslaan nie, maar voor alles intieme gemeenskap met God beoefen.

Dit is maklik om in die eggo-kamers van behoudendes klaagliedere te sing oor die sekulêre wêreld. Dit is skynbaar moeiliker om oor te gaan tot die grootse antwoord daarop - gebed tot die Drie-enige God. Die Gees van gebed is by uitstek die wyse waarop die gees van Godvergeters in ons samelewing bestry kan word. Deur gebed word die sekulêre gees in die eerste plek uit ons eie harte gehaal en gehou. Om dit te begryp moet ons iets meer begryp van die daardie mag waaroor die kerkvader Augustinus soveel insig gehad het – die mag van begeerte.

Gebed en begeerte

Ps. 52:9 is een van die minder bekende tekste in die Woord van God wat ons oor die mag van begeerte onderrig. Dit handel oor die goddelose Doëg, die Edomiet, oor wie die volgende gesê word: “Kyk, die man wat God nie tot sy toevlug gemaak het nie, maar vertrou het op die grootheid van sy rykdom, sterk was in sy begeerlikheid!”

In hierdie Psalm leer ons dat die diegene wat nie hul toevlug tot die lewende God neem nie, deur hul slegte begeertes op sleeptou geneem word. Die uiteinde hiervan is dat God hulle uiteindelik omverwerp en ontwortel. Godvergeters is daarom eintlik nie vry nie. Nee, hulle word deur hul begeertes meegesleur; hulle word die slawe van allerhande soorte slegte begeertes wat hulle in die ongeluk stort. Die teenkant daarvan is om God jou toevlug te maak. Wanneer ons hierdie teks in verband bring met die bekende Psalm 37:4, kry ons verdere lig: “en verlustig jou in die HERE; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart.”

Uit hierdie vers sien ons dat daar ook iets soos goeie begeertes kan wees. Maar hoe gebeur dit? Ons sou die twee teksgedeeltes saam so kon verklaar: slegte begeertes kry die oorhand wanneer ons nie ons toevlug tot God neem nie. Wanneer ons egter ons toevlug tot Hom neem en ons in sy teenwoordigheid en sy wil verlustig, gebeur daar iets wonderliks in ons harte. Ons word vernuwe na God se beeld. Ons begeer al hoe meer wat in lyn is met God se wil en ons beleef hoe hy ons ook verhoor wanneer ons iets vra volgens sy wil. Die goeie begeertes van ons hart word vervul, maar dan as ’n sekondêre saak wat plaasvind wanneer ons in gemeenskap met God leef. Dit gebeur nie los van gebed nie. Die Psalms wat hierdie gemeenskap met God so voortreflik verwoord, is deurdrenk van gebede. Indien ons dus iets wil beleef van goeie begeertes wat die slegte begeertes uit ons harte verdryf, moet ons weet dat dit nie los van gebed gebeur nie. Gebed is ’n besondere venster waardeur die Lig in ons lewens instroom om die duisternis te verdryf.[i]

Gebed en gemeenskap

Gebed is die opperste uitdrukking daarvan dat ons dit erken en geniet dat ons waarlik die Vader in die hemel het en dat hemel en aarde in beginsel in Christus versoen is (Kol 1:20). Ons is nie aan onsself oorgelaat nie. Daarom is dit ook belangrik dat ons sal leer dat die stryd teen ’n heidense en sekulêre samelewing begin by gemeenskap met God. Ons moet leer om nie met 'n heidense of sekulêre samelewing te praat as ons nie eers oor die heidense of sekulêre samelewing met ons Here gepraat het nie. Moses se aangesig het geblink vanweë sy gemeenskap met God, sodanig so dat die volk nie na hom kon kyk nie en hy sy gesig moes bedek. Paulus wys ons daarop dat ons in die nuwe verbond deel is van 'n heerliker bedeling. Ons sien die heerlikheid van God sonder bedekking in Christus (vgl. 2 Kor. 3:7-18). Die implikasie is dat dit ook op ons gesigte behoort te wys wanneer ons in die wêreld uitbeweeg. Kan dit anders wanneer ons die intieme gebedsgemeenskap met die lewende God in Christus en deur sy Gees beoefen? Sal ons getuienis in die wêreld nie kragtiger daar uitsien wanneer hierdie gemeenskap met God ’n groter werklikheid is nie?

Een van die maniere waarop hierdie egte gemeenskap na vore tree, is die verhoring van gebede. Laat ons nie die verhoring van gebede geringskat nie. Gebedsverhoring is ’n kragtige bevestiging dat ons gemeenskap met God eg is. Wanneer ons gebedsverhoring beleef, wil ons uitroep: Die Here leef! Dit bring blydskap in ons lewens in (vgl. Jn. 16:24 ) en die blydskap versterk ook verder ons getuienis in die wêreld. Dit is belangrik om te onthou dat hierdie blydskap gegrond is in die Naam waarin ons bid. Die Naam en Middelaarskap van ons Here Jesus Christus is die rede dat ons gebede hoegenaamd beantwoord word. In die Naam van Christus het ons ontsaglike posisie en eer en vrymoedigheid. Die vleesgeworde Christus wat terug is by die Vader is die waarborg is dat ons nou reeds in Hom in die hemel mag sit en in sy Naam mag bid. Die verhoring van gebede bevestig dat hierdie toegang, posisie en eer. Indien daar dus gebrek aan blydskap in ons lewens is, kan ons gerus maar weer die oproep van Christus hoor: “Tot nou toe het julle niks in my Naam gevra nie. Bid en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees.”

Ons is versigtig met hierdie woorde van ons Here aangesien daar al soveel misbruike rondom hierdie saak ontstaan het. Dit kan so maklik gebeur dat gebed niks meer word as ’n versoeklys vir eie gewin en ’n tipe towerstaffie nie. Die antwoord hierop is om nie as gevolg van misbruike die kragtige woorde van ons Here en asook ander dele soos Jakobus 4:2 af te swak nie: “... julle het nie, omdat julle nie bid nie.” Weliswaar word daar net in die volgende vers daarop gewys dat gebedsverhoring nie bedoel is om ons welluste te bevredig nie, maar dit verander niks aan ’n belangrike rede wat aangevoer word vir ons gebreke nie – biddeloosheid. Ons Here het op soveel wyses hiertoe uitgenooi: “Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word.” (Mt. 7:7). Die worsteling om gebedbeantwoording is juis een van die wyses waarop God die verbondsverhouding met Hom versterk. Die beantwoording daarvan is kragtige tekens in hierdie wêreld dat God ag gee op die gebede van sy kinders. Die Psalms is vol hiervan en daarom behoort ons ywerig na te gaan watter plek dit inneem in die biddende gemeenskap met God.

Gebed en middele

Maar hoe beoefen ons gebed op ’n wyse wat werklik gekenmerk word deur lewende gemeenskap met God en wat met Geesgewerkte krag kan optree teen ’n Godvergetende samelewing? Die eenvoudigste antwoord is sekerlik dat ons gereeld met die Woord van God sal omgaan. Die bekende teoloog en Bybelvertaler, Eugene Peterson, wys daarop dat indien ons gebede dikwels vlak en droog voorkom, dit is omdat dit uit die grond van die Woord ontwortel is. Soos wat ons God se Woord bepeins, genereer dit die lewende inhoud vir ons gebed. Hierin is Martin Luther se eenvoudige raad baie handig en kragtig. Luther stel dat ons met betrekking tot God se Woord telkens moet vra watter instruksie ons daardeur kry, waarvoor ons kan dankie sê, wat ons moet bely, en waarvoor ons voorbidding kan doen.

Kom ons neem die vyfde gebod as voorbeeld. Hier het ons ’n duidelike instruksie dat ons ons ouers moet eer en ons bid daarom vir die genade daarvoor. Ons kry daardeur ook aanduiding van waarvoor ons kan dankie sê. Wanneer laas het ek die Here spesifiek van harte gedank vir die ouers wat hy my gegee het? Dit bied terselfdertyd die geleentheid vir skuldbelydenis. Het ek byvoorbeeld nie dalk vergifnis nodig vir die wyse waarop ek my moeder verwaarloos het nie? En dan is daar natuurlik die versoek waar ek vir iets spesifiek vir my ouers bid soos hulle gesondheid of finansiële probleme of kwelling oor ’n afgedwaalde kind. Uit een gebod van die Here is daar dus reeds ’n hele gebedsaksie moontlik en so kan die hele Woord as gebedsenjin dien.

Ons kan natuurlik ook op hierdie wyse met allerhande bronne uit ons kerklike skat omgaan. Dink byvoorbeeld aan die Heidelbergse Kategismus se verduidelikings van die geloof die gebed en die gebod. Ons sou elkeen van die verduidelikings, in besonder die van die Onse Vader, kon omsit in gebede wat dankie sê, wat vergifnis vra en wat in die lig daarvan spesifieke voorbidding doen. Selfs ons Psalm en Gesangeboeke, wat dikwels niks anders as gebede is nie, sou op nuwe wyses vir hierdie doel gebruik kon word. Daar is eintlik soveel in ons kerklike skat wat die gebedsdrif kan aanwakker. Ons het beslis nie ’n gebrek aan materiaal wat ons kan aanspoor om doelgerig in  ons gebede voor die aangesig van God te wees nie.[ii]

Ja, ons gedagtes dwaal maklik, en ja, ons is te gou traag in die gebed, maar laat ons nie sê dat ons te min middele in die hand het om te bid nie. Dit gebeur selfs dat ons vanuit ’n skeefgetrekte siening van God se soewereiniteit biddeloos raak omdat Hy mos in elk geval in beheer is. Die egte verstaan van God se soewereiniteit spoor ons egter juis aan om te bid. Dit val op dat ons Here in die Bergrede aan beide die Vader se soewereiniteit vashou en maan om nie ’n ydele herhaling van woorde te gebruik nie, sowel as aan die oproep om ’n binnekamer te hê en te bid en te soek en te klop (vgl. Mt. 6:6-13; 32; 7:7-11). Die bewussyn van God se soewereiniteit het eerder met die hoe as met die dat van gebed te make. Mense wat glo dat God in beheer is, het vrymoedigheid om in kinderlike eenvoud hul harte uit te stort voor hul Vader in die vertroue dat die Almagtige op die beste wyse sal antwoord en selfs in die openbaar sal vergelde. En wanneer Hy in die openbaar vergelde, skyn ons lig voor die mense, Godvergeters neem kennis, en ons Vader wat in die hemele is word verheerlik.


[i] Vgl. In hierdie verband Porfirios se treffende uitspraak: “Moenie veg om die duisternis uit die kamer van jou siel uit te dryf nie; open eerder ’n klein venster vir die lig om binne te kom en die duisternis sal verdwyn.”
[ii] Vgl. In hierdie verband die boeiende bespreking van ’n Lutheraanse werkie van John Pless wat onlangs verskyn het onder die titel, Praying Luther’s Small Catechism, waarop die vorige paragrawe aanleun en wat te vinde is by http://www.patheos.com/blogs/geneveith/2017/03/praying-the-catechism/