2021/07/12

Watter Weste?

Die literêre denker, Joseph Pearce, skryf gewoonlik meevoerend. Nie te lank gelede nie, het hy in 'n nuusbrief voedsel vir verorbering oor die begrip Weste gegee. Watter Weste? Dit is die tema wat Pearce aan die orde stel. Kategorieë maak saak en Pearce onderskei tussen die ou Weste en dit wat neerkom op die s​o​genaamde nuwe Weste. Laasgenoemde kom neer op post-Verligting. Die ou Weste kom neer op Athene wat vir Jerusalem ontmoet het. Die word ook Christendom genoem. Pearce wys daarop dat hierdie twee visies op die Weste steeds in 'n titaniese stryd gewikkel is. Dit is nie asof nuut bloot vir oud vervang het nie. Hoewel hy dit nie so uitbeeld nie, is dit eerder twyfelagtige water wat vir algemeen ontwyfelbare wyn probeer vervang. Die stryd duur voort en diegene wat oortuig geraak het van die uitgediende aard van die wyn-weergawe, moet weer besin. Dit was nog altyd tipies van dwaalligte om voor te gee dat die permanente dinge nou uitgedien is. En keer op keer het realiteit teruggeskop en voortgalop.

Afhangende van waar jy staan, sal jy daarom Rusland as of vyand of medestryder van die Weste beskou. Pearce wys daarop dat hoewel Rusland nie geografies heeltemal Wes gekarteer kan word nie, die invloed van Marx en Engels die na-Verligtingsera verteenwoordig wat ook op die ouer Rusland inbreuk gemaak het. Dit beteken dat ou Rusland en die ou Weste saam kan kampvure hou, maar dat dit anders gesteld is met die Weste van Post-Verligtingsfaam.​ Daarom is dit nodig om duidelik te definieer. C.S. Lewis het homself by geleentheid beskryf as 'n ou dinousourus. Hiermee, so klink dit my, het hy terugverwys na die oesjaar-Weste. Dit is hierdie Weste wat met die beste uit die hede bemiddel moet word. Dit mag wees dat ons meer na-Verligting is as wat ons wil toegee en die bemiddeling sal deeglik, eerlik en deurdag moet geskied. En so, met behulp van hierdie tipe toe-eiening, behoort ons by iets te kan uitkom waar ook Rusland meer soos vriend en minder soos vyand sal lyk.