2022/10/12

Geloof en dankbaarheid in Christus

Lees: Luk. 17:11-19

Gedagte vir kinders: Jesus bring deur sy redding geloof en dankbaarheid in ons lewe.

Oorsig: Vanaf Lukas 9 tot 19 lees ons van die Here Jesus se pad na Jerusalem – daar waar Hy vir ons sonde sou sterf. Hier verneem ons van die vierde van vyf wonderwerke wat hy gedoen het op daardie pad (vgl. 11:14; 13:10-13; 14:1-4; 18:35-43). Dit het gebeur toe Hy op die grens tussen Galilea en Samaria was (v.11. vgl. NAB). Toe Hy in ’n sekere dorp ingegaan het, het 10 melaatse manne Hom tegemoet gekom wat op ’n afstand bly staan het (v.12). Melaatse mense se siekte was aansteeklik en kon wissel van permanente skurfte tot erge swere, en self  tot ledemate wat septies word en afval. God se wet het bepaal dat sulke mense vanweë die siekte nie by hulle geliefdes en tussen ander nie, maar eenkant moes leef (Lev. 13:45-46; Num. 5:2-3). As hulle ’n wonder beleef en wel gesond word, moes die priester dit eers bevestig en dan kon hulle na bepaalde offers weer vry saam met ander leef (Lev. 13:18-28; 14:1-11).

Hierdie 10 melaatse manne het hard geroep en Jesus Meester genoem en gevra dat Hy hulle genadig sal wees. Toe die Here Jesus hulle sien, het Hy vir hulle gesê om hulle aan die priesters te gaan vertoon. Dit kon hulle net doen as hulle moontlik gesond was. Hulle moes Hom dus op sy Woord neem dat Hy hulle op afstand gesond kon maak en solank begin loop na die priesters wat die genesing kon bevestig.

Hulle het geluister en terwyl hulle weggaan, het hulle gesond en daarom ook rein geword (v.13-14). Die wet het melaatse mense in die Ou Testament onrein verklaar, en daarom was mense wat gesond geword het, dan ook weer rein.

Een van die tien het, toe hy sien dat hy gesond was, omgedraai na die Here Jesus toe en (1)  God met ’n groot stem verheerlik. Hy het (2) op sy aangesig by Christus se voete geval en (3)  Hom gedank. Hierdie man was ’n Samaritaan (v. 15-16). Die Samaritane was van Samaria en was die mense wat hulle godsdiens by die heidene aangepas het toe hulle agtergelaat is toe die Israeliete se gesiene mense na Babel weggevoer is (vgl. 2 Kon. 17:24-41). Die Here Jesus het na hierdie man se dank, gevra of daar dan nie tien mense was wat rein geword het nie en waar die ander nege was. Hy het gevra of daar dan niemand onder hulle te vind was wat omgedraai het om God te verheerlik behalwe hierdie man wat nie eens ’n Jood was nie (“vreemdeling” - vgl. v.17-18). Hy het toe met die man gepraat en bevel gegee om op te staan en te gaan en hom verseker dat sy geloof, bedoelende die Een in wie Hy geglo het (die “’wie” en “wat” saam met die “dat” van sy geloof - inhoud van sy geloof), hom gered het (v.19).       

Besprekingsvraag: Wat maak ons as die aanbidding in ons lewe of ons gemeentes opdroog?

Deur die eeue heen word gelowiges gekenmerk deur twee belangrike kenmerkende – geloof en dankbaarheid in Christus. Hierdie wonder bied ’n besondere prent hiervan. Geloof en dankbaarheid tree egter nie op sigself na vore nie, maar in kontak met wie Christus is en wat Hy doen. Hy is hier reeds deur die leiers verwerp, en tog, wanneer daar nood is, gee Hy steeds gehoor. Hy bevestig dat Hy naby die is wat Hom aanroep en dat Hy gewillig is om te help wanneer mense glo en gehoorsaam. Hy bevestig ook dat Hy op afstand kan red deur net ’n woord te spreek. Selfs diegene wat skynbaar dubbeld hopeloos is volgens sommige mense (melaats en Samaritaan), word gehelp wanneer hulle Hom aanroep. Ja, sulke mense beskaam ons soms. En hier leer die randfiguur ons dat dit nie net gaan om gehelp te word nie, maar om ’n erkentlike verhouding met Hom wat uitredding gebring het (vgl. Ps. 50:15).

Geloof en dankbaarheid in Christus kan nie anders kan as om uitdrukking te vind in aanbidding nie. Ons kan dit ook so stel: God in Christus deur sy Gees is die rede vir geloof en dankbaarheid, en geloof en dankbaarheid dring weer tot ware aanbidding. Wanneer ons aanbidding opdroog, moet ons ondersoek instel na waarom ons geloof en dankbaarheid getaan het. Dit kan herstel word in hernude geloofskontak met die lewende God. Elke erediens is aanbidding wat meer omvat as lering in die prediking. Die erediens is daarop gemik om ’n struktuur en atmosfeer te bied waarin aanbidding en daarom geloof en dankbaarheid en lofprysing “met ’n groot stem” (v.15; vgl. Ps. 33:3), kan floreer. Ja, ons kom ook erediens toe om reiniging van gesindhede te beleef sodat geloof en dankbaarheid weer kan gedy.

Die behoefte aan reiniging beteken dat ons almal sonder God geestelik melaats is. Melaatsheid is in die Bybel ’n tipe wat heenwys na wat die sonde aan ons doen. Dit ontneem ons gemeenskap met God en sy geheiligdes, en veroorsaak wegkwyning. En tog ook: Dink net wat die sieklike melaatses moes beleef toe hulle op Christus se Woord begin beweeg het na die priesters. Skielik begin hulle gesond word en daarom rein. Dit is wat Christus nog steeds vir elkeen doen wat Hom aanroep oor hulle sonde. Dit gebeur steeds deur sy Woord en bevel. En wanneer ons in Hom vrygespreek word, kan ons ook in geloof en dankbaarheid leef in elke nuwe uitdaging. Watter dinge is tans in jou lewe, ons lewe, wat opnuut die struktuur van geloof en dankbaarheid in Hom vra? Roep God dan aan, beweeg uit in die geloof, en eer Hom wat jou lewe verlos van die verderf en jou siel versadig met die goeie (vgl. Ps. 103:3-5).

Werke geraadpleeg:

Bergsma, J. The Word of the Lord. Year C.

Bock, D.L. Luke: NIV Application Commentary.

France, R.T. Luke: Teach the Text Series.

Sproul, R.C. Luke: An Expositional Commentary.