2022/10/26

Blydskap en herstel

Lees: Luk. 19:1-10

Gedagte vir kinders: Jesus Christus het gekom om mense wat verlore is te soek en te red.

Oorsig: Die Here Jesus was op pad na Jerusalem en het al hoe nader daaraan gekom. Hy het op hierdie reis, nie ver van Jerusalem af nie, ook deur die stad Jerigo gegaan (v.1). Dit was ’n stad wat by ’n oase gebou is en die bome het mooi daar gegroei. In daardie stad was daar ’n man met die naam van Saggéüs. Hy was nie alleen ’n tollenaar nie, maar ’n hoof van die tollenaars en ’n ryk man (v.2). Die tollenaars het by hulle eie mense baie belasting vir die Romeinse oorheersers geneem en as vergoeding van die Romeine kon hulle dan ’n goeie deel van die geld in hul eie sak steek. Hulle eie mense het hulle daarom verag en as verraaiers van die volk beskou. Die feit dat Saggéüs ryk was en boonop  ook nog hoof van die tollenaars was, het m daarom nog meer ongewild by sy eie mense gemaak.

Maar Saggéüs het probeer om Jesus te sien, wie Hy was, maar kon dit nie regkry vanweë die skare nie en hy was self ook kort (OV: klein van persoon - v.3). Maar Saggéüs het ’n plan gemaak. Hy het vooruit gehardloop en in ’n wildevyeboom geklim. ’n Wildevyeboom kan so hoog as 20 meter word en met gerieflike laer takke. Vandaar kon Saggéüs dan vir Jesus sien, want Hy sou langs daardie pad verbygaan (v.4). En toe gebeur iets besonders. Toe die Here Jesus by die plek kom, het Hy opgekyk en hom gesien en hom sommer op sy naam genoem: “Saggéüs, maak gou en klim af, want ek moet vandag in jou huis bly.” (v.5). Ons lees dat Saggéüs toe (1) gou gemaak het en afgeklim het en (2) Hom met blydskap ontvang het (v.6). Die mense wat dit gesien het, was egter nie bly nie, maar het gemurmureer soos die Israeliete in die woestyn. Hulle het gesê dat die Here Jesus by ’n sondige man tuisgegaan het (v.7).          

Iets het egter met Saggéüs gebeur in sy kontak met Christus. Hy het gaan staan en ernstig vir die Here gesê dat hy van daardie oomblik af (Letterlik: “Kyk, ek gee...”) die helfte van sy goed vir die armes gee. En waar hy iets van iemand afgepers het (met hulp van die Romeine), sou hy met sy geld (wat oorbly) dit vierdubbel (400%) teruggee (v.8). 

Die Here het toe vir Saggéüs gesê: “Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom, aangesien hierdie man ook ’n seun van Abraham is.” Hy het toe sy woorde en optrede teenoor Saggéüs verder verduidelik. Hy het gesê dat Hy, die Seun van die mens, gekom het met ’n baie spesifiek doel – om (1) te soek en (2) te red wat verlore was. Wanneer Hy soek, vind Hy ook, al is dit ook iemand wat ver van die volk van God afgedwaal het, en al het mense dalk ook iemand al afgeskryf.

Besprekingsvraag: Is dit altyd nodig om na bekering dit wat kan, met ander reg te maak?

Ons kan maklik net in die kleurvolle besonderhede van die verhaal vaskyk, maar ons moet ook die groter prentjie bly raaksien: Dat dit gaan oor Christus wat gekom het om die wat verlore is, te soek en te red. Redding gaan van Hom af uit. En daarmee saam moet ons raaksien wat die diepste rede vir verandering by Saggéüs is: Kontak met die lewende Heiland. Daarvoor het Christus gekom en Hy doen dit steeds in hierdie wêreld deur sy Woord en Gees en in en deur sy liggaam, die Kerk. Daarom is dit so belangrik dat mense die ware Christus deur die Kerk sal beleef. Dit beteken belangstelling en aanvaarding (in Christus), maar sonder kompromie. Deur Christus se versoening mag elke sondaar hoor dat God ons in Christus aanvaar, en roep om by ons tuis te gaan. Ja, deur sy Gees soek Hy op en vind ons in ons sonde en woelinge. God se uitverkiesende genade is vol aksie in die praktyk en die gevolge is daarvan is ook duidelik.

Die konkrete gevolge van genade is hier oorgawe, belydenis van sonde en regstelling (restitusie). Ons kan so maklik uit hoogmoed of vrees nie bereid wees om oor te gee en ons sonde te bely nie, selfs al mergel dit ons uit (Ps. 32). Ons raak egter soos Saggéüs gewillig in die aangesig van Jesus Christus. Hy het die uitweg uit ons sonde gebring deur sy nederige kruisdood. Deur sy bemoeienis en sy versoening, maak Hy ons vrymoedig om oor te gee, te bely, en reg te stel. In Hom kan ons deur regmaak-aksies aantoon dat daar ’n verandering gekom het in ons verhouding met die sonde van ons verlede. Waar moontlik, behoort ons altyd ons snydende woorde en dade reg te stel. Hierin sluit Saggéüs aan by God se wet (vgl. Ex. 22:1; 2 Sam. 12:6). Die een wat met God reg is, maak dit ook met die naaste reg. Die Kerk is by uitstek ’n voortdurende herstel-beweging in Christus en in die krag van God se Gees.

Die Kerk kan ook nie anders as om betrokke te wees by die missio Dei nie - die sending van God deur sy Seun en Gees. Ons kan daarom nie berus in ’n blote klub-mentaliteit nie. Lukas maak moeite om te wys hoe Christus by die randfigure uitkom – die mense wat in die wêreld min geag of afgeskryf is. Wanneer ons nie meer ruimte het vir God se verrassende werk in mense van wie ons dit nie sou verwag nie, dink ons te klein oor Gods se genade. Ons is dan ook nie meer in pas met wie Jesus Christus is en dit waarvoor Hy gekom het nie. Christus verdra in die proses ook die onnadenkende murmureringe van die Genis-tipe mense. Want Hy soek en Hy red. Daarsonder was nie een van ons op die herstelpad wat eindig in die ewige lewe nie. Maar omdat Hy gekom het en steeds kom, mag daar blydskap en herstel wees (v 6).  

Werke geraadpleeg:

Bergsma, J. The Word of the Lord. Year C.

Bock, D.L. Luke: NIV Application Commentary.

France, R.T. Luke: Teach the Text Series.

Sproul, R.C. Luke: An Expositional Commentary.