2022/10/12

Dimensies van dissipelskap

Lees: Luk. 17:1-10

Gedagte vir kinders: Jesus Christus roep ons om as sy dissipels met geloof te lewe.

Oorsig: Op sy pad na Jerusalem waar die Here Jesus vir ons sondes sou sterf, het die Here Jesus vir sy dissipels geleer waaroor dit in die koninkryk van God gaan en wat dit beteken om ’n dissipel van Hom te wees. In hierdie gedeelte sien ons dat die Here vier dinge met hulle behandel. Ons hoor eerstens ’n waarskuwing (v.1-3). Die Here het gesê dat daar wel dinge gebeur waardeur mense struikel (struikelblokke) en val, maar dat God se oordeel kom oor die een wat die oorsaak daarvan is. Dit sou vir so iemand beter wees as die swaar steen waarmee hulle koring gemaal het, om iemand se nek gehang word en in die see gegooi word om so te verdrink, as wat iemand een van die Here se kinders (hier genoem met die intieme woord, “kleintjies”. Vgl. Luk. 10:21;   Mat. 18:6-14) laat struikel. Hy het hulle toe vermaan om op hulle hoede te wees en vir hulleself te pasop (vgl. Ps. 18:24).

Hierna het die Here Jesus hulle geleer wat om te doen as iemand teen jou sondig (v.3-4). Jy moet so een wys op die verkeerde optrede en wanneer daar berou was, moes die persoon vergewe word. Selfs as dit sewe maal (’n getal wat dui op hoeveel keer ook al) op een dag gebeur en daar berou was, moes daar vergifnis wees. Hierna hoor ons van bemoediging (v.5-6). Die dissipels het toe vir die Here Jesus gevra om vir hulle meer geloof te gee om die lewe van ’n dissipel te leef. Hy het hulle bemoedig deur hulle daarop te wys dat dit nie gaan oor meer geloof nie, maar om die belangrike teenwoordigheid van geloof, hoe klein ook al. Selfs al sou dit min en klein wees, so klein soos ’n klein mosterdsaadjie, sou dit moontlik wees om sulke groot dinge te doen as om vir  moerbeiboom met sy sterk wortels te sê om met die wortel en al uitgetrek te word en in die see geplant te word en hy sou die woord gehoorsaam.

En dan leer die Here Jesus oor diens aan God deur die gelykenis van ’n dienskneg en sy baas. (v.7-10). Hy het hulle daarop gewys dat geen baas vir die slaaf (of dienskneg), as hy inkom van sy werk buite, dadelik nooi om aan tafel te kom sit nie. Nee, die eienaar sal eerder vir hom sê om die aandete klaar te maak, om reg aan te trek (omgord), en te bedien totdat die heer geëet en gedrink het. Daarna kon die dienskneg eet en drink. Die Here het toe daarop gewys dat ons ook, wanneer ons alles gedoen het wat ons beveel is, moet sê: “Ons is diensknegte wat niks verdien nie, want ons het net maar gedoen wat ons verplig was om te doen.”                        

Besprekingsvraag: Is ons bemoedig of beskaamd oor die beeld van die mosterdsaadjie?

Sonde en die gevolge daarvan kan nie vermy word nie en ons kan baie swaar en seer kry as gevolg daarvan. Die troos is dat Christus die sonde op Hom geneem het en dat ons dit daarom in Hom kan hanteer. Ons moet ook baie op ons hoede wees om nie die oorsaak te wees van sonde wat ontstaan en wat iemand anders laat struikel nie. Dit gaan nie oor miskien-situasies nie, maar oor duidelike sake soos byvoorbeeld molestering in enige vorm. Dit gaan ook slegte lering of enige saak wat ’n struktuur van makmaak, besondiging, verleiding en afdwaling vertoon. Ons behoort ook op ons hoede te wees vir enige ongeregtigheid of suggesties en innuendo’s waar ons die oorsaak is dat ander mense struikel en afvallig raak. Christus gebruik die beeld van erger as gedwonge verdrinking om God se oordeel aan te toon.

Ons hoor egter ook dat ons (bv. in gesinne en gemeentes en werksituasies) nie maar net stil hoef te bly wanneer ons werklik te na gekom word nie. Ons word dan opgeroep om te bestraf. In die lig van ander Skrifgedeeltes kan ander gelowiges betrek word, indien nodig (vgl. Mat. 18). Sonde is soos ’n kanker en ’n virus wat erger word wanneer dit nie hanteer word nie. Juis daarom het Christus gekom. En daarom kan ons ook net so sterk staan vir vergifnis wanneer ware berou duidelik is, tot sewe maal, wat beteken dat dit onbegrensd is. Christus koppel dit hier telkens aan berou. Dit is die gewone gang. Wanneer daar dan nie berou is nie, moet ons vir wysheid vra of dit verder gevoer moet word en of dit net vir God gegee moet word. Sonde en die hantering daarvan tussen dissipels behoort egter die norm te wees.

Die dissipels vra oor hierdie lewe van dissipelskap meer geloof. Christus se antwoord kan ook as bemoediging gesien word. Al is jou geloof so klein soos ’n mosterdsaad, beoefen dit, en jy sal verbaas wees watter groot dinge deur die lewe van geloof moontlik is. Die beeld van die moerbeiboom in die see herinner aan die uitdrukking om berge te versit (Mk. 11:23). Ons word aangemoedig om te werk met die geloof in God wat ons het voor sy aangesig. Die blote feit van geloof is reeds sy gawe. En dan moet ons ook perspektief behou oor wat ons vir God doen. Christus se gelykenis oor die dienskneg help hiermee. Ons tree soms op asof sonde normaal is en ’n heilige lewenswandel abnormaal is en skouerklop verdien. Sonde is egter abnormaal en in die Kerk moet ons mekaar hieraan bly herinner. ’n Heilige lewenswandel is normaal waar ons doen wat ons veronderstel was om te doen. God eer wel gehoorsaamheid, maar dit bring ons nooit by eise en dienaarsloon nie. Ons loon bly altyd genadeloon.         

Werke geraadpleeg:

Bergsma, J. The Word of the Lord. Year C.

Bock, D.L. Luke: NIV Application Commentary.

France, R.T. Luke: Teach the Text Series.

Sproul, R.C. Luke: An Expositional Commentary.