2022/08/17

Stry hard om in te gaan

Lees: Luk. 13:22-30

Gedagte vir kinders: Jesus roep ons om hard te stry om in te gaan in sy koninkryk.  

Oorsig: Op sy pad na Jerusalem waar die Here Jesus aan ’n kruis vir ons sonde die offer sou bring, het die Hy verskillende dorpe en stede deurgegaan en die mense geleer oor die koninkryk van God (v.22). By een so ’n geleentheid het iemand vir Hom gevra of die wat gered word, min is. Die Here Jesus het hierdie vraag nie direk geantwoord nie. ’n Eenvoudige ja of nee kon maklik as ’n antwoord beskou word wat ver van jouself af is. Dit het nog steeds nie die belangrikste vraag beantwoord nie en dit is of ons elkeen self deel is van die wat gered word. Die Here Jesus se antwoord het eerder hierop gefokus en daarom het Hy geantwoord dat elkeen hard  moes stry om deur die nou poort (opening) in te gaan in die koninkryk (v.23-24a).

Die Here het ook daarop gewys dat baie sou probeer om in te gaan en dit nie sou regkry wanneer die eienaar van die huis opgestaan en die deur gesluit het nie. Dan sou sulke mense wat by die toe deur aankom begin klop en die Here se naam dubbeld uitroep (Here, Here) om vir hulle oop te maak. Dan sou Hy antwoord dat Hy hulle nie ken waar hulle vandaan is nie. (v.24b-25). Die mense aan die buitekant sou sê dan sê dat hulle in die Here Jesus se teenwoordigheid geëet en gedrink het en dat Hy dan op hulle strate geleer het. Hulle was dus in sy omgewing en het op een of ander manier wel sy woorde gehoor. En tog sal Hy dan weer vir sê dat Hy hulle nie ken nie en byvoeg dat hulle van Hom moes weggaan as slegte mense - werkers van ongeregtigheid (v.26-27).

Die Here het Jesus het hulle toe daarop gewys dat sulke mense wat verwerp word, sou huil en op hulle tande sou kners van frustrasie as hulle die bekende voorvaders van die volk Israel soos Abraham en Isak en Jakob en al die profete in die Koninkryk van God sien, maar hulleself uitgedryf buitentoe (v.28). Daar sou boonop ook allerhande soorte mense, uit alle dele van die wêreld aankom – van oos en wes en van noord en suid en hulle sou aansit in die koninkryk van God (v.29). Dit sal egter op ’n manier gebeur wat wys dat die koninkryk dikwels anders werk as wat ons dink. Daarom sal daar mense in die koninkryk wees wat ons dink nie belangrik is nie, maar wat sal voorstaan en mense wat ons dink belangrik is, wat heel agter sal staan. Die Here Jesus beskryf dit as laastes wat eerste sal wees en eerstes wat laaste sal wees (v.30).

Besprekingsvraag: Hoe verstaan ons die self en Jesus Christus in verband met die nou poort?

Insig: Ons moet altyd waak om oor koninkryksake en getalle te begin spekuleer asof ons net met ’n teorie besig is. Ons kan net op een wyse by die koninkryk betrokke wees en dit is baie persoonlik. Teoloë het daarom al verwys dat knielende teologie as die enigste teologie wat pas by die Kerk van Christus. Een teoloog (Sinclair Ferguson) het dit so verwoord: “Die doel van teologie is die aanbidding van God, die houding van teologie is op ’n mens se knieë; die modus van teologie is bekering.” Die modus is inderdaad daaglikse bekering, en hier sien ons dat die Here dit spesifiek beskryf as om hard te stry. Die stryd gaan spesifiek oor die nou poort waar die self afgelê word en Jesus Christus as Verlosser en Here aanvaar word om ons deur die poort te neem. Die rede waarom sommige by die geslote deur kom, is omdat hulle nie die nou poort wou betree toe dit nog oop was nie. Sommige reken daar is ander poorte. In ’n pluralistiese samelewing vind sommige dit net te eng om net een, en dit nogal ’n nou poort, te erken. Boonop reken sommige maklik dat die poort van eiegeregtigheid reeds toegang tot die hemel gee. Die waarskuwing is duidelik: Daar kom ’n tyd wat die deur toegaan, vir altyd.  

Die goeie nuus is dat die nou poort deur Jesus Christus nou nog oop is vir hulle wat deur bekering en geloof in Hom hard stry teen alles wat hierdie weg wil verhinder. Ons kan nie maar bloot spekuleer oor hoeveel gered word asof ons sonder stryd daarby betrokke kan wees nie. Dit kan gebeur in ’n goedkoop geloof sonder heiligmaking van die protestantse liberalisme, maar ook in ’n tipe verbondsoutomatisme waarin die verlossing nie daadwerklik in die krag van die Gees toegeëien en daaruit geleef word nie. Ja, dit is ’n wesenlike gevaar vir elkeen wat binne hoorafstand van die Kerk as liggaam van Christus grootword. Let op diegene wat buite staan, maar wat tog in Christus se teenwoordigheid geëet, gedrink en gehoor het, terwyl dit eintlik net op die oppervlak gebly het. Dit maak die huil en frustrasie van verlorenheid soveel groter wanneer die verlossing so naby en tog so bitter ver was.

Daarom moet ons ons die bekende helde van die geloof (vgl. Hebr. 11-12) waardeer, saam met soveel mense oor die aarde, wat bereid was om te stry en deur die nou poort te gaan. Die lewens van die aartsvaders, Abraham, Isak en Jakob, asook die profete, bied daarom vir ons boeiende getuienisse as ons vra wat dit beteken om hard te stry om in te gaan. Deur moeilike omstandighede heen het hulle deur die krag van God se Gees hard bly stry en die wedloop gelowig volgehou. Die geloofslewe is vol stryd, maar dit is die goeie stryd wat geborg word deur Christus wat reeds vir ons hard gestry het. Slegs in Hom wat oorwinning gebring het, kan ons deurgaan en ingaan. In Hom kan ons telkens opstaan en die goeie stryd hervat.

Werke geraadpleeg:

Bergsma, J. The Word of the Lord. Year C.

Bock, D.L. Luke: NIV Application Commentary.

France, R.T. Luke: Teach the Text Series.

Sproul, R.C. Luke: An Expositional Commentary.

Matthew Henry