2022/03/03

Versoeking wat weerstaan is

Lees: Luk. 4:1-14

Gedagte vir kinders: Jesus is ons Verlosser, want Hy het die satan se versoekings weerstaan.  

Oorsig: Die Here Jesus se amptelike bediening het begin toe Hy in die Jordaan gedoop is (Lk. 3:21-22). Daar het die Gees op Hom neergedaal en die stem uit die hemel bevestig dat Hy die geliefde Seun van God is. Net hierna hoor ons uit sy geslagsregister ook dat Hy seun van Adam is wat seun van God was (Lk 3:23,38). Die vraag is nou wat hierdie tweede Adam as Seun van God gaan doen? Ons lees dat Hy vol van die Gees in die woestyn gelei is (4:1). Dit herinner ons aan Israel wat veertig jaar in die woestyn was. Jesus Christus was veertig dae daar waarin hy niks geëet het nie en deur die duiwel versoek is (v.2). Beraders wys daarop dat jy baie meer weerloos is wanneer die akroniem HALT in jou lewe waar is (Hungry, Angry, Lonely, or Tired).

Na veertig dae het Jesus begin honger word, en ook hier het die satan sy kans gesien. Hy het gesê dat as Jesus die Seun van God is (soos by sy doop uit die hemel gesê is), Hy moes sê dat die klip ’n brood word (v.3). Die Israeliete het deur honger in die woestyn hul verhouding met God verbreek, maar die Here Jesus het nie en aangehaal uit Dt.8:3. Daar staan dat die mens nie van brood alleen sal lewe nie, maar van elke woord van God (v.4). God se wil bring lewe voor enigiets anders. Die duiwel bring hom toe op ’n hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die wêreld in ’n oomblik se tyd (v.5). Hy sê toe dat aan Jesus dat hy aan Hom al hierdie mag en heerlikheid sal gee (as die owerste van hierdie wêreld – Jn. 12:31) as Jesus hom aanbid (v.6-7). Die Here het hierdie keer die satan weerstaan deur te sê dat hy moet weggaan en uit Dt. 6:13 aangehaal. Daar staan dat jy die Here jou God moet aanbid en Hom alleen dien (v.8).             

Toe bring die satan Jesus na Jerusalem en stel hom op die dak van die tempel. Hy het toe gesê dat Jesus Homself moes neerwerp van daar af. Die satan het op Ps. 91:11-12 gewys waar daar staan dat God sy engele sal beveel om jou te bewaar en dat hulle jou op die hande sal dra sodat jy nie miskien jou voet teen ’n klip stamp nie (v.9-11). Die Here Jesus het hom egter gewys op ander woorde in die Skrif wat ook in ag geneem moet word. Daardeur het die Here ons geleer dat ons Skrif met Skrif moet vergelyk en moeilike gedeeltes in die lig van duideliker gedeeltes moet verstaan. Ons moet dus alle gedeeltes in die Bybel met mekaar in verband bring en in Dt. 6:16 staan ook dat jy die Here jou God nie moet versoek nie (v.12). Toe die duiwel elke versoeking geëindig het, het hy ’n tyd lank van Jesus gewyk (v.13). En so het die Here Jesus oorwinnend, in die krag van die Gees na Galilea teruggekeer (v.14).           

Besprekingsvraag: Hoe stry ons vandag teen die basiese versoekinge wat ons hier sien?

Insig: Die Bybel vertel ons van bekende beproewings en toetse. Dink aan Josef en Abraham en Job wat sterker anderkant uitgekom het. Daar is ook toetse wat gedop is, soos Israel in die woestyn en Saul as koning. Niemand van ons het nog altyd elke beproewing deurstaan nie, hetsy in woorde, dade, gedagtes, gesindheid of versuim. Die media herinner ons daagliks aan toetse wat gedop word, en daarmee aan die gevallenheid van die mens. In Adam en Eva het ons almal die doel gemis en mis dit steeds dikwels. Ons behoort ten regte baie bewus te wees van eie gevallenheid. Daarom is die wet as spieël en tugmeester belangrik. Die is juis so dat ons Jesus Christus sien skitter in die woestyn. Hy het teenoorgestelde toestande as Adam in die tuin, maar bly gelowig en lojaal. Israel murmureer in die woestyn, soos ons, en sondig. Maar Jesus Christus bly optree in die krag van die Gees en tree oorwinnend anderkant uit.

 Deur Hom leer ons dat versoeking slegs beproewing kan word wat jou sterker maak. Eers wanneer ons swig word dit ’n suksesvolle versoeking. Niemand word egter deur God versoek om te val nie (Jak. 1:2-4;13-15). Christus bevestig dit hier. Deur beproewing word ons geloof bevestig, word ons sterker, en groei in de geloof. Die Bybel bevestig herhalend dat God die satan wel toelaat, maar uiteindelik om sy werk tot volheid te lei. Ons sal ook nie bo ons kragte versoek word nie (1 Kor. 10:13). Dit voel dalk so, maar dit bevestig net dat ons in God sterker kan word as wat ons dink. Ook tugtiging waaroor ons wil huil, is bedoel om vrug op te lewer (Hebr. 12:11). Die goeie nuus is dat ons in Christus telkens weer mag toetree tot beproewinge.

Ons leer ook hier oor die verskillende soorte versoekings. Verklaarders wys op die verband van Christus se versoeking met Adam en Eva enersyds, Israel in die woestyn andersyds, en dit wat genoem word in 1 Joh. 2:16: Die begeerlikheid van die vlees, die begeerlikheid van die oë en die grootsheid (of hoogmoed) van die lewe. Sommige vind ook ’n ooreenkoms in die versoekinge waarvoor Salomo as koning geswig het (vgl. Dt. 17:16-17; 1 Kn. 10-11). Ons swig maklik voor begeerlikhede van die vlees (honger, die seksuele, dwelms en gemak), die begeerlikhede van die oë (dinge van aansien en waarde) en hoogmoed (sondige eie (g)ekkigheid en faam). Hoe stry ons daarteen? Deur (1) ons Verlosser raak te sien wat al hierdie versoekinge in ons plek weerstaan het (Hbr. 4:15). Deur (2) te leer wat dit is om in sy krag en die krag van sy Gees te lewe. Deur (3) die bekende sake van Mt. 6 soos gebed, vas en liefdadigheid in te span soos wat Christus aangedui het. Maar altyd gegrond in sy oorwinning.

Werke geraadpleeg:

Bergsma, J. The Word of the Lord. Year C.

Bock, D.L. Luke: NIV Application Commentary.

France, R.T. Luke: Teach the Text Series.

Sproul, R.C. Luke: An Expositional Commentary.

 

Moontlike Tema: Beproewings en versoekinge:

  • ·       Die onvermydelikheid daarvan.
  • ·       Die doel daarvan.
  • ·       Hoe ons daarteen stry.