2022/03/29

Ware gesag en valse gemaksone

Lees: Luk. 20:9-20

Gedagte vir kinders: Elkeen wat Jesus verwerp, sal verlore gaan.          

Oorsig: Die Here Jesus het deur sy intog op ’n esel in Jerusalem reeds verklaar dat Hy wel die Messias is. Hierna was daar ’n duidelike spanning tussen Hom en die godsdienstige leiers van Jerusalem. Hulle het hom dan ook reguit gevra deur watter gesag Hy optree. Hy het hulle indirek geantwoord deur hulle eers te vra vanwaar Johannes die Doper se gesag was. Dit het hulle in ’n moeilike posisie teenoor die skare geplaas en daarom wou hulle nie antwoord nie. Daarom wou die Here Jesus hulle ook nie antwoord nie, maar sy antwoord het duidelik gemaak dat dit dieselfde gesag was waarvan Johannes die Doper gepraat het (Luk. 20:1-8).

Hierna het Hy sy antwoord oor gesag voortgesit deur ’n gelykenis. Dit het gegaan oor ’n man wat ’n wingerd geplant het en dit toe aan landbouers verhuur het toe hy vir ’n lang tyd op reis gegaan het (v.9). Toe die tyd reg was om sy deel van die wingerd te kry, het hy ’n dienskneg gestuur, maar hulle het hom geslaan en met niks weggestuur (v.10). Hulle het die volgende dienskneg ook geslaan en ook skandelik behandel. Die derde een het hulle gewond en uitgedryf (v.11-12). Uiteindelik het die eienaar besluit om sy geliefde seun te stuur met die gedagte dat hulle miskien vir hom ontsag sal hê (v.13). Maar die landbouers het presies anders geredeneer. Om ’n vreemde manier het hulle gedink dat as hulle die enigste seun doodmaak, hulle die grond sal erf. Hulle het die seun toe buitekant die wingerd gegooi en hom daar doodgemaak. Die Here Jesus vra toe wat die eienaar sal doen. Sy antwoord was dat die eienaar sal kom en die landbouers ombring en die wingerd aan ander gee. Toe die mense dit hoor het hulle uitgeroep dat so iets nooit mag gebeur soos wat die landbouers gedoen het en toe hulle regverdige oordeel ontvang het nie (v.14-16).

Die Here Jesus het hulle toe aangekyk en aangehaal uit Ps. 118:22. Dit gaan oor ’n steen wat die bouers verwerp het omdat hulle gedink het dit slegte materiaal is, maar wat uiteindelik tog baie eg was en die hoeksteen geword het. 

Hy het beklemtoon dat elkeen wat die ware hoeksteen verwerp, ten gronde sal gaan. (v.17-18). Die owerpriesters en skrifgeleerdes het toe probeer om Hom te laat vang omdat hulle besef het dat Hy met die gelykenis op hulle dui. Hulle het die Here Jesus toe dopgehou en spioene gestuur om Hom uit te vang sodat hulle Hom aan die Romeine kon oorlewer (v.19-20). Die Here Jesus het geweet dat Hy hiervoor sou sterwe, maar dat Hy ook die dood sou oorwin en as ware hoeksteen bevestig sou word.

Besprekingsvraag: Wat is die verskil in die gelykenis tussen die seun en die diensknegte?

Insig: Christus het met sy intog in Jerusalem openlik die godsdienstige leiers begin uitdaag. In die laaste week is daar duidelik opbouende spanning  voor sy kruisiging. Hy het geweet waarop dit sou uitloop, maar Hy het ook geweet dat dit die enigste weg na die opstanding en heerlikheid was. Iewers begin die ware Messias altyd vir ongelowiges ’n bedreiging word. Dit gebeur gewoonlik wanneer ons gemaksones, magsposisies en bekende strukture uitgedaag word. Wanneer die Kerk nie meer profeties is teenoor heersende ordes wat nie vrug dra nie, is die Kerk kragteloos. Christus daag ons gemaksones egter tog anders uit as ’n blote opstandeling en hierin sien ons die ware Messias raak.

Die basiese kwessie wat ook by ons getoets word is gesag. Wat die oorsprong is van die gesag wat ons erken? Christus se optrede veronderstel die profetiese gesag van Johannes die Doper en die breuklyn wat daardeur duidelik geword het. Dit gaan dus of ons getrou is aan God se Woord en die ware vrug daarvan dra deur steeds sy wil te soek. Daar is ’n lang geskiedenis in Israel van leiers wat nie vrug gedra het nie en die profete gedood het (vgl. 1 Kon. 18:13; 22:24-27; 2 Kon. 6:31; 21:16; 2 Kron. 24:19-22; 36:15-16; Neh. 9:26; Jer. 37:15; 44:4; Luk. 11:47-51; 13:6-9; 33-34). Die getroue profete is in die gelykenis die diensknegte wat skandelik behandel en gewond is. Die patroon gaan steeds voort. Waar pas ons in? Dit is ook opmerklik dat spesifiek godsdienstige leiers voor loop in diens van die magte. Uiteindelik loop die vraag uit op wat mense met Jesus Christus doen. Let op die belangrike onderskeid tussen die dienaars en die eniggebore, geliefde Seun (vgl. Luk. 3:22 en Gen. 22:2; v.14). Hy is die kulminasiepunt van God se verlossende handelinge. Daarom dat die opstand juis teen Hom is (vgl. Ps. 2).  

Daar is  duidelik waarskuwing hier: Daar is net een weg en dit is die weg van Christus, die verworpe Steen wat Hoeksteen geword het. Elkeen wat Hom verwerp is gedoem (v.18 - verpletter, vermorsel). Ps. 118 gaan oor die Koning van Israel wat die nasies nie wou erken nie, en toe tog God se hoeksteen was. Nou blyk dit dat die Koning ook intern nie in die volk erken word nie. God was verdraagsaam teenoor Israel, maar uiteindelik kom die oordeel, soos in 70 n.C. toe Jerusalem en die tempel verwoes is. God se oordeel kom oor enkelinge maar ook oor volke. Die wingerd is daarna aan ander gegee - die nuwe Israel van God, die Kerk. Ook ons word nou opgeroep om vrug te dra en nie smalend teenoor Israel te wees nie (Rom. 11:12, 14-15, 26-27, 29-32). Ook Israel en elkeen wat wil, kan herstel word as hulle Christus erken.

Werke geraadpleeg:

Bock, D.L. Luke: NIV Application Commentary.

France, R.T. Luke: Teach the Text Series.

Sproul, R.C. Luke: An Expositional Commentary.