2022/03/23

Oom Ches oor romantiek

Het jy al ooit 'n klein seuntjie hoor kla dat hy by 'n treinstasie moet aanhang en vir 'n trein moet wag? Nee; want om binne 'n spoorwegstasie te wees is vir hom om binne 'n spelonk van wonders en 'n paleis van digterlike genot te wees. Want vir hom is die rooi lig en die groen lig op die seinbord soos 'n nuwe son en 'n nuwe maan. - GK Chesterton

Oom Ches, soos ons hom in hierdie reeks noem, het die vermoë om die mor in jou hart tot bedaring te bring. Dit is geen geringe  saak nie, want selfs verloste Israeliete kan nog steeds in die woestyn agterbly (vgl. 1 Kor. 10). En oom Ches help verrassend baie om die beloofde land sommer in jou eie land, jou eie huis en op jou eie werf te vind. In die bekende artikel van hom waarna ons die vorige keer gekyk het, gaan ons hierdie keer by ’n spesifieke element van oom Ches se oop geheim aanhaak. Dit is sy oog vir romantiek, selfs in ongemaklike situasies:

“Maar eintlik is hierdie romantiese siening van sulke ongerieflikhede net so prakties soos enige ander praktyk. Die ware optimis wat in sulke dinge 'n geleentheid vir genot sien, is net so logies en baie meer sinvol as die gewone "verontwaardigde belastingbetaler" wat 'n geleentheid vir grimmigheid sien.”[i]


Oom Ches het sterk daarop aangedring dat daar op die langtermyn niks so prakties is soos ’n goeie filosofie en ’n romantieke verbeelding nie. Oor die belangrikheid van ons filosofie het hy dit alreeds geëien by loseerders, maar ook in oorlog:

“Ons dink dat dit vir 'n eienaar wat 'n loseerder oorweeg, belangrik is om sy inkomste te ken, maar dit is nog belangriker om sy filosofie te ken. Ons dink dat dit vir 'n generaal wat op die punt staan ​​om 'n vyand te beveg, belangrik is om die vyand se getalle te ken, maar dit is nog belangriker om die vyand se filosofie te ken.”[ii]

En hiermee, dames en here, stel ek u opnuut voor aan om Ches. U het nie gedink dat oom Ches kan praat oor Rusland en die Oekraïne nie. Maar pas besef u dat hy iets geweldig daaroor en sommer ook jou toekomstige huurder gesê het. Terug na ons punt toe: 

 Nou-ja, toegegee, filosofie roep dade in die praktyk. Maar wat presies bedoel oom Ches as hy stel dat ook romantiek baie prakties is? Het hy hiermee bloot aangesluit by die romantieke periode of bydraes oor die vryswewende, idilliese verbeelding wat kan omslaan in die diaboliese verbeelding soos wat Russell Kirk dit beskryf het? Om die gevierde apostel se woorde te gebruik: Nee, stellig nie.

Oom Ches het sy eie aards-hemelse bedoeling daarmee gehad en hoewel hy dit nie in finale definisie wou vaspen nie, kry ons tog ’n goeie indruk daarvan as ons luister hoe hy dit beskrywe in die begin van sy voortreflike werk, Orthodoxy, waarin hy sy alternatief wou bied op die dwalinge van sy tyd. Ons het behoefte aan ’n lewe van praktiese romanse, sê oom Ches. Dit is ’n lewe waarin daar ’n kombinasie is van iets wat vreemd is met iets wat veilig is. Hy brei uit en voeg by dat ons ’n wêreld nodig het waar ons ’n idee van verwondering (“wonder”) kan kombineer met ’n idee van verwelkoming (“welcome”), sonder dat ons bloot gemaklik raak. En Oom Ches is van mening dat die algemene en onbetwyfelbare geloof van Christene presies hierdie basiese behoefte vervul.

Die politieke filosoof, Ted McAllister, help ons verder om hierdie romantieke dimensie by oom Ches te begryp. Hy wys daarop dat wie Chesterton fyn lees in sy inleiding in Orthodoxy, agterkom dat die romantieke gepaard gaan met variasie, avontuur, verbeelding en verwondering.[iii] Maar wat beteken dit as ons hieroor prakties raak? Ons vind ’n goeie voorbeeld hiervan in Oom Ches se reeds genoemde artikel oor ongerief en dergelike avonture:

“ons hoor gereeld dat grootmense kla dat hulle by 'n treinstasie moet aanhang en vir 'n trein moet wag. Het jy al ooit 'n klein seuntjie hoor kla dat hy by 'n treinstasie moet aanhang en vir 'n trein moet wag? Nee; want om binne 'n spoorwegstasie te wees is vir hom om binne 'n spelonk van wonders en 'n paleis van digterlike genot te wees. Want vir hom is die rooi lig en die groen lig op die seinbord soos 'n nuwe son en 'n nuwe maan. Want wanneer die houtarm van die sein-hefboom skielik neerval, is dit asof 'n groot koning sy staf as 'n teken neergooi en 'n skreeuende toernooi van treine begin het. Ek het self ook klein seuntjies se gewoonte in hierdie saak. Hierdie gewoonte bedien ook elkeen wat net vir die 2:15 staan ​​en wag. Jou meditasies kan vol van ryk en vrugbare dinge wees. Baie van die mees koninklike ure van my lewe is verpoos by Clapham Junction, wat nou, veronderstel ek, onder water is. Ek was daar in baie gemoedstemminge, so vasgenael en vol mistiek dat die water heel moontlik tot by my middel kon kom voordat ek dit besonders opgemerk het. Maar in die geval van al sulke irritasies, soos ek gesê het, hang alles af van die emosionele oogpunt. Jy kan die toets veilig toepas op byna elke ding waarvan tans gepraat word as die tipiese oorlas van die daaglikse lewe.”

Hierdie gesindheid in oom Ches maak ons ook gereed om met groter waardering kennis te neem van wat genoemde McAllister in sy artikel hieroor skryf: “[So ’n tipe] romantikus is nooit verveeld nie, want hy woon in 'n wêreld vol misterie en verrassing, 'n werklikheid wat verstaan ​​word in komplekse vorme, in tradisies, in liturgieë, in mites, in komplekse sosiale weefsels wat mense in gemeenskap saambind en wat gemeenskappe oor tyd heen saambind. Om so 'n werklikheid te bewoon, is om in alle eenvoudige dinge die wonder van die heelal te sien, om patrone te sien, om verbande aan te voel, om jou te verlustig in die besondere, want in die besondere is jy getuie, maar besit jy nog steeds nie die universele nie.”


                                            Foto: Ted McAllister

 Ons sou kon byvoeg dat jy jouself wel daarin kan inleef en daaraan deelneem en die beste skrywers soos oom Ches help ons hiermee. McAllister verduidelik verder: “Uiteindelik moet Chesterton of enige ander verbeeldingryke denker vir ons dit wys wat ons in ons eie ervarings kan herken. Ons moet op een of ander manier saam met hulle "sien". Maar om op hierdie manier te sien verg verbeelding, en verbeelding het dikwels weggekwyn in die eeue van reduktiewe denke en dun taalgebruik.”

Ons kan nie nou verder by taal en verbeelding stilstaan nie.’n Ander keer meer daaroor. Nou moet ons eers hierdie aflewering inbring vir ’n landing. Dit behoort sommige lesers dalk om te boul as hulle verneem dat MacAllister besin oor die romanse van ’n verbeeldingryke konserwatiewe tradisie. En dat hy by oom Ches aanhaak wat op sy beurt die romantiek weer in verband gebring het met die romanse van ortodoksie soos wat hy dit vind in die Christelike geloof.[iv] Die toepassing is nou die volgende: ’n Instelling soos die Instituut vir Rasseverhoudinge meld gereeld dat hul peilings aantoon dat Suid-Afrikaners oor die algemeen (en bes moontlik Afrikaners in besonder), behoudend en Godvresend is. Die vraag is egter of ons praktyke nog daarmee saampraat.

Kom ons veronderstel dat ons volk en ons nasie is wie ons sê dat ons is, maar dat ons erken dat sekere kenmerke en praktyke definitief getaan het. Indien wel, word dit ’n dringende vraag of ons nie vinnig besig is om die romanse van ons ontwyfelbare geloof en van ons verbeeldingryke oesjaar-tradisie te verloor nie. Die doppie en die geduldige antwoorde op peilings is dalk nog daar, maar die lewenskragtige opwinding en avontuur van ons geloof en tradisie nie meer nie. Indien iets hiervan waar is, is dit dalk omdat ons by alle tegniese korrektheid, nie meer romanse en ortodokse geloof en verbeeldingryke konserwatiewe tradisie of post-liberale tradisie as jy wil, met mekaar kan rym nie? Die goeie nuus is dat ons dit kan herontdek. En op die koop toe die beloofde land naby onsself. Maar dan moet ons ’n bietjie langer na mense soos oom Ches luister.


[i] On running after one’s hat, by https://en.wikisource.org/wiki/All_Things_Considered/On_Running_after_One%27s_Hat

[ii] Heretics, hfst. 1.

[iii] McAllister, T by https://theimaginativeconservative.org/2011/10/romance-of-conservatism.html#:~:text=In%20one%20of%20the%20great,boredom%20that%20leads%20to%20madness. Vir diegene wat ’n aptytwekker nodig het, McAllister begin so: “In one of the great works of imagination, Orthodoxy, G. K. Chesterton declared that faith is romantic, that materialism is not only dull but produces a boredom that leads to madness.” 

[iv] Let daarop dat daar nie  direkte lyn vanaf die konserwatiewe tradisie na Chesterton te trek is nie. Die bekende segsman vir die verbeeldingryke konserwatiewe tradisie meld wel dat Chesterton ’n belangrike impuls daarvoor gelewer het.