2022/03/25

Twee soorte probleemkinders

 Lees: Luk. 15:1-3, 11-32.

Gedagte vir kinders: Die Vader nooi ons uit na die fees van genade in sy huis.

Oorsig: Die Here Jesus het drie gelykenisse vertel omdat die Fariseërs en Skrifgeleerdes gemor het omdat tollenaars en sondaars  (1) ’n gewoonte gehad het om na Christus te kom en (2) na Hom te luister en (3) Hy hulle ontvang en (4) saam met hulle geëet het (v.1-3). Die Here Jesus het toe die drie gelykenisse vertel om iets uit te beeld van God se vreugde oor en verbintenis tot die redding van verlore mense. Ons lees eers van honderd skape, dan van tien pennings en dan van twee seuns. 

In die laaste geval het die jongste seun vir sy vader gesê dat hy dadelik wil erf en die vader het dit verbasend genoeg toegestaan (v.11-12). Toe het die seun daarmee weggereis na ’n ver land en sy eiendom uitgemors deur ’n goddelose lewe. Maar uiteindelik het al sy geld opgeraak en het daar boonop ’n swaar hongersnood gekom en hy het baie swaargekry (v.13-14). Later moes hy by iemand varke oppas. Hy het selfs honger gehad om die peule van die varke te eet, maar nie eers dit is aan hom gegee nie (v.16).

Toe het hy tot sy sinne gekom en geredeneer dat self sy pa se werkers oorvloed van brood het, terwyl hy vergaan van honger. Hy het toe besluit om op te staan, terug te gaan, en te erken dat hy teen God en sy pa gesondig het en bereid is om soos ’n werker behandel te word (v.17-19). Sy pa het hom egter van ver gesien en innig jammer gekry, na hom gehardloop, en hom omhels en hartlik gesoen. Die pa het hom selfs in die rede geval toe hy begin jammer sê en opgeroep om fees te begin hou met nuwe klere en ’n vetgemaakte kalf wat geslag word. Hy het bly uitgeroep dat die seun dood en verlore was, maar nou lewe en gevind is (v.20-24).

Die oudste seun het van niks geweet nie en toe hy naby die huis kom en die musiek en beurtsange hoor, en by ’n dienskneg hoor wat gebeur het, kwaad geword en wou nie binnegaan nie. Die pa gaan toe ook uit na die oudste seun en smeek hom om in te kom (v.25-28). Die seun het kwaad gesê dat hy sy pa soos  slaaf gedien het, maar nog nie eers ’n bokkie ontvang het nie. Hierdie seun wat sy goed met hoere deurgebring het, ontvang egter nou die fees van die vetgemaakte kalf (v.29-30). Die pa se woorde was verstommend. Hy het hom daarop gewys dat alles van die vader wel reeds syne was. Maar Hy het hom ook op sy broer gewys wat lewe en gevind is en dat dit tog rede vir groot blydskap is (v.31). Die oudste broer se reaksie word nie vertel nie, want elkeen in die rol van ’n oudste broer soos die Fariseërs en Skrifgeleerdes en tradisionele kerkmense, voltooi self die gelykenis in hul eie lewe.           

Besprekingsvraag: Watter toepassings is daar vir die ouer en jonger broer vandag?

Insig: Die jongste verlore seun kry meerdere betekenis as ons verskillende soorte goddeloses raaksien wat tot bekering kom. Kollektief kan ons dit van toepassing maak op Israeliete wat afvallig geraak het. Meer spesifiek moontlik op Efraim as verteenwoordiger van die Noordelike stamme wat afvallig geraak het, eie afgodstempels opgerig het, en uiteindelik verkoop is na ’n vreemde land. Dit kan ook wys op die afvallige Weste vandag wat besig is om hulle wese te verloor. Dit kan ook verwys na elke kind wat voel dat hulle nie genoeg aandag of erkenning in ide huis kry nie. Wat doen diesulkes? Hulle dink dat ware geluk en die volle lewe elders is. Hulle wil hulle deel van God se gawes (v. 12 letterlik wese: ousia) neem om op hul eie, maar los van God te geniet. Dit is nie volhoubaar nie. Iewers word die lewe sonder God arm en haglik.

Die oudste seun kry meerdere betekenis as ons dit kollektief ook van toepassing maak op Juda wat gedink het hulle is beter as die Noorde, omdat die tempel by hulle was. Dit kan ook wys op die afvallige Weste wat hulself konserwatief noem, maar net teen stadiger spoed wegdryf van die Vader se huis. Dit kan ook wys op elke kind wat die oudste is, of die voorbeeldige of presteerder is en die sentrale posisie inneem. Wat doen diesulkes? Hulle staan in die tradisie en volg selfs bepaalde reëls uiterlik. Hulle munt moontlik ook bepaalde voordele daaruit. Maar hulle is nie werklik in gemeenskap met die Vader nie. Een van die tekens is geen blydskap oor nuut bekeerdes wat onverdiend skielik meer seën as hulle belewe nie.    

Ons kan beide gesindhede ronddra. Maar ons kan net so lank in die spieël kyk. Uiteindelik is die vraag eerder hoe ons kan verander. Soms moet ons soos die jongste ons kop behoorlik stamp om “tot onsself te kom”. God se Gees bewerkstellig dit ook. Soms moet ons soos oueres agterkom dat ons ’n probleem het omdat ons kwaad of jaloers is en gegrief voel oor seën of genade in iemand anders se lewe wat onverdiend is en hulle (skynbaar) meer oorvloed as ons beleef. Die manier waarop ons vrykom, is om telkens op die verstommende Vader te fokus. Hy sien van ver die wat wil terugkom, Hy kry innig jammer, Hy hardloop, Hy omhels, Hy soen, Hy val in die rede met ’n fees, Hy gaan uit na kwaad en jaloerse kinders, Hy smeek, Hy verseker dat alles reeds in Christus reeds joune is sonder verdienste, Hy is vrolik en vier fees oor kinders wat verlore was, maar gevind is. Die oudste broer was nie so nie. Die goeie nuus is dat ons oudste Broer, Jesus Christus wel so was. Hy het selfs na die ver land vertrek om ons daar te gaan haal en na die Vaderhuis terug te bring. Hy moes onmeetlik lei sodat ons onverdiend in die Vader se huis as versoende ouer en jonger kinders die fees van genade mag vier.

Werke geraadpleeg:

Bergsma, J. The Word of the Lord. Year C.

Bock, D.L. Luke: NIV Application Commentary.

France, R.T. Luke: Teach the Text Series.

Sproul, R.C. Luke: An Expositional Commentary.