2022/03/22

Genadetyd is nog hier

Lees: Luk. 13:1-9

Gedagte vir kinders: Wie die Here se roepstem hoor, moet duidelik antwoord en vrugte dra.

Oorsig: Die Here Jesus was met sy apostels op pad na Jerusalem om die groot versoening tussen God en mense deur sy kruis heen te bewerk. Op pad daarheen het Hy oor baie dinge van God se koninkryk gepraat. Hy het ook wonders gedoen en vrae wat opgekom het hanteer. Een so ’n geval het plaasgevind toe mense vir hom berig gebring het van die Romeinse goewerneur, Pontius Pilatus, wat in daardie tyd daar aangestel is. Hy het deur sy soldate sekere Galileërs in die tempel doodgemaak terwyl hulle offers gebring het. So het die bloed van die mense gemeng geraak met die offers van die diere (v.1). Daarmee het hulle deur geweld duidelik maak wat met enigeen gebeur wat die Romeinse mag probeer teengaan.  

Die Here Jesus het hierop geantwoord deur vir die mense te vra of hulle dink dat hierdie Galileërs met wie dit gebeur het, groter sondaars was al die Galileërs uit die Noorde van die land omdat hulle so moes omkom (v.2). Hy het self geantwoord dat die antwoord nee is, maar hulle moes tog die regte boodskap hieruit kry.  Hulle moes weet dat almal wat hulle nie bekeer nie, net so sal omkom (v.3). Die Here het hierna ’n verdere voorbeeld bygevoeg wat ook met ander mense as die Galileërs gebeur het. Daar was 18 mense op wie die toring van Siloam in daardie tyd geval en hulle gedood het. Hy het gevra of ook daardie mense meer skuldig was as al die mense wat in Jerusalem woon (v.4). Weer eens was sy antwoord nee. Ook hier was boodskap dieselfde. As mense hulle hul nie bekeer nie, sou hulle almal net so omkom. Die tragiese gebeure was dus wel ’n vingerwysing na die tragiese einde van die tweede dood na hierdie dood (vgl. Op. 22:11-15) as hulle hul nie tot die lewende God bekeer nie (v.5-6).

Hierna het die Here Jesus ’n gelykenis vertel. Daar was ’n man wat ’n vyeboom in sy wingerd gehad het. Dit het waarskynlik daar gestaan omdat die grond so vrugbaar daar was. Die man het daarom gekom en vrugte daaraan gesoek, maar niks gekry nie (v.6). Toe het hy vir die tuinier gesê dat dit nou al drie jaar is wat hy kom om vrugte daaraan te soek en niks kry nie. Die tuinier moes dit daarom uitkap omdat dit net die grond onvrugbaar maak. Die tuinier het egter gepleit dat hy dit nog een jaar moes laat staan totdat dit hy weer gespit en mis gegooi het. As dit dra dan vrug dra, goed, maar indien nie, kon dit die volgende jaar uitgekap word. Die vyeboom staan vir Jerusalem en vir elkeen tot vandag toe wat nie reageer op die boodskap van Jesus Christus en die bewys daarvan lewer deur vrug te dra wat by die bekering pas nie.


Besprekingsvraag: Wanneer is teenstand teen die woord bekering geldig en wanneer nie?

Insig: Erge lyding en rampe gebeur in hierdie lewe en gelowiges is nie gevrywaar nie. Die Galileërs uit die noorde het moeite gedoen om in Jerusalem te gaan offer, en kyk wat gebeur. Ons moet waak teen enige goedkoop oplossing wat ’n direkte verbintenis maak tussen iemand se geestelike toestand en rampe wat hulle wel tref. Elke slegte ding wat gebeur hoef ook nie aan persoonlike sonde toegeskryf te word nie. Dink aan Job en die worstelinge in Prediker. Selfs die lydingsvraag word egter in goedkoop oplossings (via John Stuart Mill) uitdagend gestel: Of God is nie goed nie, of Hy is nie almagtig nie. Hierdie tipe gesindheid openbaar geen insig in die heiligheid van God en die sonde wat aan ons vaskleef nie. As God heilig is en ons sondig, moet daar noodwendig hartseer in die wêreld wees totdat alles verlos is. Ons worstel steeds hieroor, maar uiteindelik berus ons dat God soewerein is en alles ten goede kan laat meewerk. En ons moet eerder oplet na wat sonde in die hierdie wêreld gedoen het.

Christus wys in sy antwoord duidelik daarop dat tragiese gebeure nie net gebeur met sekere soorte mense nie. Sy antwoord maak ook duidelik dat ons nie bloot na die graad van iemand se sonde moet kyk nie, maar eerder na ’n gevalle werklikheid wat ons roep tot verootmoediging en inkeer. Lyding en rampe toon aan dat ons kwesbare sterflinge is wat raad moet hê met die dood. Al sou ons nie baie seerkry of doodgaan deur skielike lyding of ramp nie, gaan ons elkeen sterwe en as ons nie die bekering tot God in Christus ken nie, sal ons uiteindelik net so tragies omkom in die tweede dood, vir altyd weg van God. Daar is iets baie erger as die eerste dood. Daarvan was die verbondsoordele wat oor Israel gekom reeds ’n teken. Daarom moet die verbondskind en ’n verbondsvolk sekerlik altyd hier begin en vra of God se verbondsoordele moontlik wel van toepassing is. Want die vyeboom was dikwels die beeld vir Israel (vgl. Ps. 80:9-19; Jes. 5: 1-7; Jer. 8:13; 24:1-10; Hos. 9:10,16-17; Mig. 7:1; Mt. 21:18-19; Mk. 11:12-14, 20-21). Hulle het egter nie vrugte gedra in Christus se bediening nie en in 70n.C. sou die verbondsoordeel van God losbreek toe Jerusalem en die tempel verwoes is (vgl. Lk. 21:5-7). Die hele Israel is egter nie vir altyd verlore nie (Rom. 11:12,14,26-27). Ons moet wel die vingerwysing hoor van tragiese gebeure wat heenwys na ’n slegte einde wat vermy moet word.   

Ons moet egter ook op die hoopvolle antwoord ag slaan. Daar kan ook iets wees soos tragiese gebeure met ’n goeie einde. Maar dan moet ons hoor dat Christus die woord bekering herhaaldelik gebruik. In samehang met genadetyd en vrugdra. Ware bekering wys noodwendig in die vrugte wat ons dra (vgl. Hd. 26:20; Tit. 2:11-14). ’n Afvallige samelewing wil dit nie hoor nie. Byna alles moet nou eerder verklaar word in terme van slegte ervarings, persoonlikhede, pluralisme, gelykheid van opinies, en watter ander vyeblaar-verskonings ook al, godsdienstigheid ingesluit. Juis daarom het Christus gekom. Juis daarom het ons bekering in Hom nodig. Die goeie nuus is dat Hy deur sy versoening ook bekering skenk (Hd. 5:31).

Werke geraadpleeg:

Bergsma, J. The Word of the Lord. Year C.

Bock, D.L. Luke: NIV Application Commentary.

France, R.T. Luke: Teach the Text Series.

Sproul, R.C. Luke: An Expositional Commentary.

 

Moontlike skema:

Tragiese gebeure en goedkoop oplossings

Tragiese gebeure en 'n slegte einde.

Tragiese gebeure en 'n goeie einde.