2013/10/04

Kinders in die kerk

Dr. Willie Marais is bekend vir sy woorde oor kinders in die kerk. Hy het gesê dat 'n kerk sonder kinders hom laat dink aan 'n plaas sonder kalwers. 'n Plaas sonder kalwers behoort heel waarskynlik aan 'n spekulant en nie aan 'n boer nie, het dr. Willie gesê. Hy het dit opgevolg met die uitklopvraag: Wat moet ons dan dink van 'n kerk sonder kinders? Dr. Willie het dit juis van toepassing gemaak op kinderjies wat bulk, en blêr, gedurende die prediking. En tog, jy kry ook baie ernstige gelowige ouers wat meen dat kinders te vinning te vroeg aan onnodige rigiditeit onderwerp word. En dit, so seg die beswaardes, terwyl hulle nog niks van 'n erediens begryp nie. Die kalfies hoef nog nie by die voerbakke te staan nie, sou sekere ouers die bulk-beeld wou amendeer. Hulle hoef mos nog net melk te drink aan die uier. Het Petrus dan nie 'n spesifieke opdrag ontvang oor lammers en weiding wat daarby sou pas nie? As jy nou vinnig wil sien hoe ouers aan beide kante kan heftig raak, gooi net hierdie kwessie in 'n bespreking in.

Ek vind, soos te verwagte, meer aanklank by die saam-benadering. Vergun my dus om 'n paar medestanders hieroor deur te gee. 'n Goeie inleidende besinning, tesame met 'n blik op die onderlinge verskille kan hier gevind word. 'n Hele nasionale sentrum ten gunste van 'n geïntegreerde gesinsbenadering kan hier gevind word. Kyk ook na hierdie en hierdie skakel vir die bepleiting van dieselfde saak. Dan is daar nog ook 'n film en verder 'n boek van Mark DeVries om die saak te rugsteun.
Daar is, soos gewoonlik, ook die ouens wat 'n tipe middeweg benadering inneem en sake verder kompliseer. En natuurlik, nadat ons elkeen ons standpunt ingeneem het, moet ons waak teen daardie ou vyand genaamd hoogmoed. Hoe kan Koos Kerkorrel so vassit in die argiewe, of Kalla Kinderkerk so getroef deur tydsgees, wonder ons maklik, net so effe uit die hoogte. En voor ons ons kry, vind ons dat die party van die Fariseërs ook deel van ons kring, ja selfs van ons hart is. En 'n sekere ander vyand lag al die pad.