2022/05/25

Kom, Here Jesus!

Lees: Openb. 22:1-6; 12-21

Gedagte vir kinders: Wanneer die Here Jesus weer kom, sal alle hartseer vir altyd weg wees. 

Oorsig: Johannes is aan die einde van Openbaring besig om die nuwe Jerusalem te beskrywe. Hier meld hy, soos Esegiël (Es. 47:7,12), die suiwer, helder rivier van die water van die lewe wat uitstroom uit die troon van God en van die Lam (v.1). Tussen die straat en die rivier was die boom van die lewe aan weerskante van die rivier sigbaar wat elke maand vrugte gee. Die blare daarvan is tot genesing van die nasies (v.2). Die toestand hier is vry van die vloek van die sondeval en die rede is dat die troon van God en die Lam daarin is en dat sy diensknegte Hom sal dien (v.3). Die wonderlike vooruitsig is dat hulle sy aangesig sal sien (vgl. Mt.5:8) en dat God se Naam soos destyds op die hoëpriester, nou op die voorhoofde van al sy kinders sal wees (v. 4; vgl. Ex.39:30). Daar is nie nag nie en hulle benodig geen lamp of sonlig nie, omdat die Here God hulle verlig. En God se kinders regeer as konings tot in alle ewigheid (v.5). Dit word dan bevestig dat die woorde waaragtig en betroubaar is en dat die Here, die God van die Heilige profete, sy engel gestuur het om sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur.

Ons hervat by vers 12 en hoor dat Christus gou kom, en dat sy loon by Hom is om elkeen te vergeld na sy werke. Christus herhaal dat Hy die Alfa en die Omega is, begin en einde, eerste en laaste. Diegene wat sy gebooie doen, is salig en dit gee hulle reg op die boom van die lewe en om in te gaan deur die stadspoorte (v.13-14). Die wat buite bly is die honde (ongelowige Jode en heidene), towenaars, hoereerders, moordenaars, afgodedienaars en elkeen wat leuens liefhet en doen. Die Here Jesus bevestig dan dat Hy sy engel gestuur het om hierdie dinge aan die gemeentes te betuig. Hy bevestig ook dat Hy die wortel (bron) en geslag van Dawid is, die blink morester wat die begin van ’n nuwe dag aankondig (v.15 en 16).

Johannes meld dan dat die Gees en die Bruid sê: Kom! En dat elkeen wat hoor, ook saam moet sê: Kom! Ook elkeen wat dors het, moet kom. Ja, elkeen wat wil, moet die water van die lewe verniet kom neem (v.17). Daar word ook betuig aan elkeen wat die woorde van hierdie boek hoor, soos in die verbondsboek van die Ou Testament (Deut. 4:2; 12:32), om nie woorde by te voeg of iets weg te neem nie. Andersins sal God die plae byvoeg wat beskrywe is, of sy deel wegneem uit die boek en uit die heilige stad en uit dit wat beskrywe is (v.18-19). Dan herhaal Christus dat Hy gou kom. En dan praat Johannes namens die Kerk: “Amen, ja, kom, Here Jesus!” En dan word die genade van die Here Jesus Christus kragtig uitgespreek (v.20-21).  

Besprekingsvraag: In watter sin sou ons Openbaring die klimaks van die Bybel kon noem?

Insig: Ons sien weer eens hoe Openbaring tot aan die einde by die professie en beelde van die Ou Testament aansluit. Die water wat vanuit die troon en die tempel stroom (Es. 47:1-5; Sag. 14:8-9,16; Joel 3:18), die boom van die lewe (Gen. 2; Spr. 3) en hulle wat God sien (Ps. 11:4-7; 27:4; Ps. 42:2; Mat. 5:8), bevestig alles dat Openbaring, soos een geleerde dit gestel het, die klimaks van profesie is (Bauckham). Selfs die beswering teenoor diegene wat wil byvoeg en weglaat by die profesie, is elemente wat ons terugvind in Deut. 4:2; 12:32 en 32:4. En die gemerkte voorhoofde, soos die volk van Israel en hul priesters, en die heers soos konings, bevestig die oorspronklike roeping as priester-konings. Dit waaroor die hele Bybel reeds praat vind dus eintlik net sy bevestiging, voltooiing en crescendo in Openbaring.

Ons sien ook hoe daar naatloos van gelowiges en hul werke se beloning gepraat word. Protestante neem Rooms Katolieke kwalik dat hulle werke te hoog ag en dan die toevlug en sekerheid in Christus ondermyn. Rooms Katolieke neem Protestante weer kwalik dat hulle werke en heiligmaking skynbaar as opsioneel ag. Hier sien ons hoe regverdiging en die heiliging mekaar veronderstel. Verlossing gebeur nie uit goeie werke nie, maar is wel duidelik gerig op goeie werke (Ef. 2:8-10; Fil. 2:12-113; Titus 3:5). Die lewende geloof in Christus se verlossing buite ons (extra nos) is ’n lewenskragtige saak wat tot goeie werke dring.

Christus sê dat Hy gou kom. Anders as Daniel 12:4 word die boodskap nie verseël vir ’n lang tyd nie (v.10-12). As Openbaring rondom 60 n.C. geskryf is, was dit inderdaad ’n kort tydjie tot die val van Jerusalem, die tempel en daarmee die ou verbond. Die einde van die ou verbond  wys heen na die einde van die nuwe verbond. Dit is ’n monument van die wederkoms (Van der Waal). Dit is daarom moontlik om ’n eerste vervulling saam met verdere vervullings hierin te eien. Die patrone van die profesie herhaal dus in die vorm van ’n spiraal op pad na die einde. Die geskiedenis herhaal homself nie, maar dit rym dikwels (Theodor Reik). Ons kan daarom verwag om bepaalde tipes en patrone in die kerk se geskiedenis meermale waar te neem. Dink aan die bekende analogie: Telkens wanneer die lang wyser van die horlosie op 12 kom, sien ons bekende patrone, maar die kort wyser is nog nie noodwendig op 12 twaalf nie. Eendag sal dit wel so wees. Intussen roep die Gees en die Bruid dat die Here Jesus sal kom. En elkeen word uitgenooi om deel te word van die Kerk, Christus se verlossing en reiniging te leer ken, en saam uit te roep dat die Here Jesus sal kom. Eendag sal gelowiges in Christus finaal vry wees van die vloek (vgl. Sag. 14:11) van die sonde.

Geraadpleegde werke:

John Bergsma. The Word of the Lord. Year C.

Michael Barber. Coming Soon. Unlocking the Book of Revelation.

Douglas Wilson. When the Man Comes Around: A Commentary on the Book of Revelation.

R. Bauckham. The Climax of Prophesy: Studies on the Book of Revelation.

C. Van der Waal. Openbaring van Jezus Christus II.

Moontlike preekskema: 

Die evangelie van... 

1. die volle Bybel

2. die volle verlossing

3. die volle verwerkliking