2016/05/10

Nee vir links-regs marse

Elke keer, net soos wat dit lyk of die laaste blogskrif gaan verjaar, vind daar 'n terugkeer plaas. Nou-ja, kom ons kyk of opvolgskriffies dalk hierdie keer langer volgehou kan word.

Hierdie inskrywing gaan hopelik nog uitdy. Dit gaan oor die links-regs retoriek. Onlangs meld 'n verlangse vriend dat daar daar 'n verskil is tussen die regse idioom en die konserwatiewe idioom. Vir sommige mag dit dalk nuus wees, maar ek vermoed konserwatiewes voel hierdie verskil lankal aan. Bring 'n mens dit in verband met die groot voorspraakmaker vir die konserwatiewe gedagte, Russell Kirk, besef jy dat hy dit eintlik al lankal gesê het. 

Kirk het graag daarop gewys dat die konserwatiewe gedagte nie 'n ideologie is nie. Onlangs het Bradley Birzer 'n nuwe biografie oor Kirk laat verskyn. Enkele indrukke  daaroor kan hier gevind word. Wat insiggewend is, is dat die skrywer van die artikel, Samuel Gregg van Acton-faam, spesifiek by die links-regs mars aanhaak. Hy wys op bevatlike wyse op drie redes waarom Kirk wars gestaan het oor hierdie manier van dink:

1. Links-regs denke hang vir Kirk nou saam met ideologie, en ideologie - in sy linkse of regse gestalte - is 'n tipe omgekeerde godsdiens. Die hemel word op aarde gesoek en dan word daar, veral aan die linkerkant, maar ook op die regterkant (nasionalisme in onderskeid van patriotisme), mettertyd verval in allerhande dwingende wyses waarop die sogenaamde hemel deurgevoer moet word.


2. Sekere sake soos digkuns, die geestelike en die misterieuse, lê eintlik anderkant blote politiek. Tog is dit belangrik in die groter prentjie en Kirk is bevrees dat hierdie sake nie in links-regs redenasies genoegsaam onderskei word nie. 

3. Kirk beleef homself toenemend aangetrokke tot die Christelike humanisme, oftewel Christelike siening van die mens. Voetnota: Skrywers in 'n bepaalde tradisie praat maklik van Christelike humanisme, maar hierdie begrip kan vinnig verkeerd verstaan word. Die rede is dat baie in ons eie konteks die woord humanisme net op een manier gebruik. Dit beklemtoon egter maar net weer eens die feit dat jy altyd eers moet seker maak hoe iemand anders self 'n woord definieer. Om een van die bekende uitdrukkings van die teoloog, John Frame, te gebruik: Leer om sinne te analiseer en nie net woorde nie. Maak dus gerus maar 'n knoop in die oor: Kirk staan 'n tradisie waar Christelike humanisme eintlik maar net 'n Christelike siening van die mens beteken.

Maar kom ons keer terug na die rede waarom Kirk links-regs marse wil vermy. Omdat Kirk aangetrokke is tot die Christelike siening van die mens, het hy ook waardering vir die heenwysings daarna in die geskiedenis van die algemene genade, tot so ver terug in die geskiedenis van die Weste as vanaf Aristoteles tot by Dante. Daarom is hy versigtig om van huidige links-regs diskoerse gebruik te maak , aangesien dit eintlik maar eers sedert 'n post-1789 wêreld aan die orde is. Kirk wil bydraes uit die tradisies van die gemene reg asook denkers soos bv. Aquinas nie verbygaan nie. Hulle bydraes het diep spore getrap in die Christelike siening van die mens, maar kan nie so maklik in die huidige links-regs skemas geplaas word nie. 

'n Mens sou hierby kon voeg dat Kirk waarskynlik selfs vanuit hierdie bronne wou soek hoe om moontlike dooie punte op nuwe maniere te ontsluit. Is dit nie maar eintlik waarmee soveel bewegings besig is wat wat vandag die tradisie op allerhande wyses wil herwin nie? Hoe dit ook al sy, dit lyk tog belangrik om raak te sien dat Kirk duidelik gepoog het om die konserwatiewe idioom van die regse idioom te onderskei. Dit bring natuurlik debatte van sy eie mee, maar dit kan dalk 'n belangrike saak wees om mense wat onnadenkend die liberale denke begin sluk het met 'n belangrike onderskeid te verras. Wanneer konserwatief met regs geassosieer word, is dit hoog tyd om te wys op iets buite hulle skuld-deur-assosiasie wêreld. Dit is dat die konserwatiewe idioom baie meer Christelik en poëties is as wat hulle gedink het - anderkant links, anderkant regs.

Vanuit die oerbronne van die konserwatiewe tradisie het ons die middele om knoppies te druk wat nog diep in die kollektiewe bewussyn van Afrikaners en Suid-Afrikaners vaslê. En as iemand dit betwyfel, is daar een saak wat ons nie moet onderskat nie. Dit is dat die Naam van die Drie-enige God doopgewys oor die hoofde van baie, baie mense in Suid-Afrika lê. En die baan van voorkop na agterkop na hart van vlees, is al baie keer in die geskiedenis as kragtig bewys.