2016/06/23

Skrywers en die spreek in tale

Skrywers spreek dikwels in tale. Sekerlik nie heeltemal op dieselfde manier as wat sommige as die ware Jakob sal beskou nie, en tog ook nie heeltemal verstoke daarvan nie.

Die verskynsel van glossolalie is, so seg die antropoloë vir jou, 'n algemeen menslike verskynsel. Onder die (in)druk van die regte gemoedsaandoeninge vind 'n katarsis plaas wat eksessiewe taal via die tong loslaat. Strome van lettergrepe stort eenvoudig oor die lippe soos die gemoedsdrif in tong en klank oorspoel.

Skrywers ken iets hiervan. Ook hulle moet soms eers soos befaamde glossolale onder die regte toestande verkeer voordat hulle 'n woordkabaal loslaat. Soms benodig ook hulle eers die inspirerende taal van 'n ander, in hierdie geval die taal van 'n ander skrywer, om hul eie tiktonge los te maak. En wanneer hulle dan in hierdie bui kom, begin hulle om in vervoering te tik, soms met byna net stuurbeheer oor die woordgletsers wat oor die bladsye en skerms stort.

Noem dit muse as jy wil. Noem dit bloot a-ha as jy dit met jou woordstyl mak wil maak, maar die skrywerskworum is nou eenmaal temperamenteel en hulle ken daardie besondere oomblikke van aandoening waar moet-skryf so natuurlik soos buig voor die Koning is. Menige skrywer sal daarom ook in hul eerlike oomblikke bely dat hul al agtergekom het watter blootstelling makliker die sneller in hul woordstorms aftrek. In sulke tye ry jy die golf en die euforie ry vir jou, so bloots, dat jy wonder of seiljag of vryval ooit aandoenliker kan wees as die ervaring van 'n skryfdriftige, in volle vaart voor 'n rekenaarskerm.

En tog is die woordsmit met meer as glossolalie besig. Want die skryfkuns nooi juis uit om die wêreld te interpreteer, en tot stigting van die leser te vertroos, te vermaan en te bemoedig.
Geen skrywer sal lank geëer word wanneer niemand dit kan uitlê nie. Toegegee, sommige het vir seker 'n ordentlike tolk of twee nodig, maar die meeste skrywers is self ook uitleggers. Hulle vertolk die mens en natuur se spreke, ja hulle streef self om uitleggers van God se Woord en wêreld te wees. Hulle is profete wat deur prosa en poësie iets van die die ruimtes van God se wêreldgedig en gerig bekend maak.

Goeie Christenskrywers skryf daarom noodwendig in oorgawe. Hulle verstaan dat hul profetiese skryfwerk begeester word deur die Gees van God. Hulle weet dat hul woordwerk soos die hart van die koning in die hand van God is - Hy lei dit waarheen Hy wil. Juis dit temper beide die angs en die ekstase van die gebroke skrywer. Groter dinge is hier op die spel as my gevoel of gebrek daaraan. Ek wandel in en met die Muse wat beide vloed en ebgety in my skryfwerk moontlik maak. En oorgegewe aan Hom, sal die terugkyk en geniet van dit wat aan ander bedien is, eers eendag ten volle gesmaak kan word.

In die wete dat die woorde, "Mooi so", vir ewig genoeg sal wees om elke lettergreep meer as die moeite werd te maak, skryf dan. Skryf soos een wat nie in die lug skryf nie, en kasty jou liggaam en maak dit diensbaar, sodat jy nie, terwyl jy vir ander skryf, self verwerplik sou wees nie.