2023/08/18

Here, help my!

Lees: Mat. 15:21-28

Gedagte vir kinders: Ons hoef nooit moedeloos te word om vir die Here se genade te vra nie.

Oorsig: Net voor hierdie gedeelte hoor ons van tradisies (oorlewering van die ou mense) en rituele, bygevoeg by die Ou Testament, wat in die pad van Christus se innerlike reiniging kan staan en die bevrydende Woord (sola scriptura en solus Christus) ontken. In hierdie gedeelte hoor ons hoe geloof in Christus (sola fide) die belangrikste is en hoe ons so gereinig word en genesing mag ken (vgl. Hand. 15:9). Die Here Jesus het vanaf Galilea in die Noorde, saam met sy dissipels nog verder noord gegaan, tot selfs buite die grense van Israel in die heidengebiede naby Tirus en Sidon (v. 1. Vgl. Luk. 4:26). Hulle wou moontlik rus en ook die mense laat nadink oor wat die beteken as Christus weg is (vgl. Mat. 10:14). Daar het 'n Kananese vrou ('n Griekse vrou van Siro-Fenisiese afkoms volgens Mk. 7:26) na Hom geroep met grootse woorde.

Sy het Jesus respekvol as Here en as Messias (Seun van Dawid) aangespreek en gevra dat Hy barmhartig sal wees. Haar dogtertjie was erg van die duiwel besete (v.22). Die Here Jesus het haar nie geantwoord nie. Sy het egter so aangehou dat die dissipels blykbaar ongemaklik geraak het en Hom gevra het om haar (te help en dan) weg te stuur. Die Here Jesus het bloot soos vroeër (vgl. Mt. 10:5-6) geantwoord dat Hy gestuur is na die verlore skape van die volk van Israel. Uit Markus 7 leer ons ons dat Hy daar iewers in 'n huis gegaan  het. Ons kry vanuit Markus die indruk dat sy daarvan gehoor het, op een of ander manier daar ingekom het, en toe voor sy voete neergeval (neergebuig) het en weer gevra het: Here, help my! (v. 23-25).

Die Here het haar toe nogeens in lyn met sy vorige woorde geantwoord en 'n beeld van 'n gesin met kinders en hondjies gebruik. Sy roeping was in Israel en met sy dissipels. Dit was nie reg om nou die sorg wat bedoel was hulle wat kinders was deur God se verbond  met Israel, nou vir hondjies, bedoelende heidene buite die verbond, te gee nie (v.26). Die vrou het egter 'n antwoord van geloof gegee. Sy het in nederigheid erken dat sy nie as kind in die huis erken kon word nie en dat Israel wel eerste moes kom. En tog het sy die beeld gebruik om dit verder te voer: Die hondjies kry darem krummels en sy was selfs bereid vir die krummels wat Israel by die Messias gekry het. Hierop het die Here Jesus haar antwoord van geloof geëer. Hy het vir haar gesê: “O Vrou, groot is jou geloof; laat dit vir jou wees soos jy wil hê." Sommer so op afstand het daardie vrou se dogter toe gesond geword, presies van daardie uur af (v. 27-28).

Besprekingsvraag: Hoe rym ons Mt. 10:5-6 en 15:24 met Mat. 28:18-20?

Insig: Christus herhaal dit in sy bediening dat Hy gestuur is na die verlore skape van Israel (vgl. Mt. 10:5-6; 15:24; Rom. 15:8). Let egter op: 

Dit gaan oor sy bediening voor sy kruiswerk. Voor sy kruising was dit nog die bedeling van die ou verbond waarin God vanaf Abraham ’n besondere pad met Israel gestap het waardeur die Messias en die groot seën na die wêreld gebring sou word. Christus was daarom juis trou aan God se besondere beloftes aan Abraham deur Israel (vgl. Gen. 12:1-5; Gal. 3:13-14). Anders beteken dit dat God se werk in die hele Ou Testament tot leuen gemaak word. En tog, nadat die nuwe verbond deur Christus se versoening aangebreek het, was die pad van verlossing oop na die heidene (Ef. 2:13-14). Hier het ons, soos elders (vgl. Mat. 8:10), reeds eerste tekens en afwagtende inbrake in die ou verbond, van die wonder van die nuwe verbond in Christus waaraan die heidene ook deel het.

Tog bly God se pad deur sy verbond belangrik. Hy gee besondere voorregte op hierdie die weg wat op sy voorwaardes gesluit word (vgl. Rom. 9:4-5). Ons kan nie sommer net los van sy verbond, aanspraak maak op sy genade nie. Hierdie vrou word duidelik tot hierdie erkenning gebring. Drie maal slaan Christus skynbaar nie op haar ag nie. Ons kan dit op twee vlakke hoor. Enersyds is dit die nederige weg waarlangs sy (en ons) besef het dat sy baie groot nood het, maar geen aanspraak nie. Sy kan maar net die Messias van die verbond erken en aanroep: “Wees barmhartig...Here, help my.” Andersyds kan dit ook wees dat die Here Jesus wat haar ken, tog ook die nogtans van geloofsworsteling aanwakker. Ons moet ook binne die verbond leer om te bly pleit, al voel dit soms of daar geen gehoor is nie, en nie te rus om die Here te herinner aan sy beloftes nie (vgl. Gen. 32:24-31; Jes. 62:6). Hierdie vrou neem nie aanstoot aan Christus se skynbare afwysing nie (vgl. Job 13:15; 23:6), maar aanvaar God se weg deur Israel en deur sy verbond. Maar sy lê ook beslag op Christus se eie woorde en pleit selfs vir krummels. So lê sy reeds beslag op Paasfees waar krummels vir haar en vir ons voedsel word.

Die vrou is reeds voor die kruisiging ’n simbool van wat waar mag wees van elkeen wat na die Messias kom vir barmhartigheid. Israel is later hieroor jaloers gemaak. Die heidene word ingeënt op die tak van Israel se verbond en Israeliete bly buite, maar niemand kan dit as vanselfsprekend aanvaar nie (Rom. 11:17-22). Die weg tot en in hierdie verbond is steeds: aanroeping, neerbuig, barmhartigheid vra, hulp vra, volhardende beslag lê op Jesus Christus. Dit is die weg van seën in die nuwe verbond in Christus vir al die geslagte van die aarde.  

Werke geraadpleeg

NT Wright, Matthew for Everyone.

John Bergsma, The Word of the Lord. Year A.

Lawrence, R Farley, The Gospel of Matthew: Torah for the Church.

Peter J Leithart, The Gospel of Matthew: Jesus as Israel.

Frederick D Bruner, Matthew: A Commentary.