2022/07/28

Om ryk in God te wees

Lees: Luk. 12:13-21

Gedagte vir kinders: God roep ons om skatte in die hemel bymekaar te maak.

Oorsig: Die Here Jesus was op pad na Jerusalem om die offer vir ons sondes te bring. Sommige noem hierdie pad sy bewustelike dodemars. Op hierdie pad het Hy die mense deur verskillende situasies en uitsprake geleer, onder meer oor wat dit beteken om sy dissipel te wees. Op ’n stadium het een man Hom gevra om uitspraak te lewer teen sy broer, omdat sy broer nie die erfporsie met hom wou deel nie (v.13). In Israel het die oudste seun ’n groter verantwoordelikheid gedra en ook die dubbele erfporsie gekry(vgl. Deut. 21:17), in hierdie geval blykbaar die hele erfporsie, as deel van sy verantwoordelikheid. En hy wou niks deel met sy jonger broer nie.

Die Here Jesus het die man geantwoord dat dit Hy nie aangestel was as regter of deler oor hulle nie (v.14). Heel waarskynlik wou Hy nie die mense aanhelp om Hom as ’n blote aardse Messias te sien nie. Bowendien het hierdie man Christus in sy openbare werk gesteur en die Here Jesus het wel ook geweet wat dikwels in sulke stryde ’n rol speel. Hy het die geleentheid gebruik om almal te waarsku om op te pas vir hebsug (gierigheid). Die basiese rede is dat iemand se lewe nie bestaan uit die oorvloed van besittings nie (v.15). Toe het Hy aan hulle ’n gelykenis vertel (v.16-20). Daar was ’n ryk man wie se grond ’n goeie oes gehad het. Die man het toe in sy kop so daaroor geredeneer: Hy het vir homself gesê hy moet ’n plan maak, want hy het geen plek om sy oes in te samel nie. Hy het toe sy plan so gemaak: Om sy skure af te breek en groter te bou en so sou hy sy hele oes kon insamel en wegbêre. Sy woorde was egter duidelik baie selfgerig: “Dit sal ek doen...ek sal...ek sal...my opbrengs en my goed.” In sy gedagtes het hy homself ook op gelukgewens met ’n beloning wat net op hierdie lewe fokus. In sy beloning vir homself sou hy dan vir “siel” sê dat hy goed gedoen het vir baie jare en dat hy dan kon rus, eet en drink en vrolik wees.     

Die Here Jesus het toe gewys op wat God hieroor sou sê. Dit is dat die man ’n dwaas was (vgl. Ps. 14:1).

 Hy sou in daardie nag deur ander mense se toedoen sterwe. Dit wat hy homself genoem het, naamlik “siel”, sou van hom afgeëis word. Die vraag is dan ook wat dan sou dan word van dit wat hy gereedgemaak het. Wie s’n sal dit dan wees? (v.20). Die Here Jesus het toe die basiese betekenis van die gelykenis vir die mense verduidelik: Dit is hoe dit gaan met iemand wat vir homself skatte vergader en nie ryk in God is nie (v.21).

Besprekingsvraag: As rykdom sleg is, waarom was Abraham en Job dan ryk?

Insig: Dissipels van die Here Jesus behoort ’n duidelike standpunt oor besittings in te neem en moet voortdurend waak dat hul harte nie geleidelik hieroor verander nie (v.15; vgl. Fil. 4:11-13). Ons hoor reeds in die gelykenis van die saaier dat rykdom en die genietinge van die lewe jou lewe kan verstik sodat die saad nie vrug dra nie (vgl. Luk. 8:5,7,14). Ons weet ook uit die tiende gebod dat die sonde-kanker diep binne die hart reeds kan begin. In die gelykenis kom dit wat binne die hart is ook duidelik uit in die taal van die innerlike monoloog.  Wat openbaar ons gedagtewêreld oor ons harte? Dit is opmerklik om meer as ses maal te hoor hoe die denke en planne sentreer rondom die woord “ek” en “’my” (v.17-18). Ons hoor ook waarop die rykdom afgestem is – sodat hyself kan rus, kan eet en drink en vrolik wees (v.19). In hierdie ek-filosofie is God en die naaste glad nie in die gesigsveld nie en hierdie lewe die enigste fokus. So ’n lewe is dwaas. Die vrees van die Here is die begin van die wysheid (Spr. 1:7). So begin ons om onsself te desentreer, onsself te verloën, en gelyktydig sorgvry te wees. (Luk 9:23; Mt.6:19-34).

Hoe behoort dissipels dan oor besittings en die toekoms te dink? Abraham en Job was tog gelowiges wat baie besittings gehad het. In die gelykenis oor die arm Lasarus is hy na die boesem van die Abraham gevoer wat op aarde ook baie besittings gehad het (Luk.16). Ons begin die antwoord kry wanneer ons hoor dat dit daaroor gaan om ryk in God te wees (v.21). Abraham en Job was ryk in God en het ook nie in gemaksug geleef nie, maar was diensbaar teenoor God en hul naaste met hul gawes (vgl. Gen.12-14,18; Job. 31:13-40; vgl. ook Luk 8:5). Rykdom kan die vrug van fluksheid wees (Spr. 10:4), maar bo alles van die seën van die Here (Spr. 10:22). Dit is moontlik om met rykdom in geregtigheid voor God te leef. Dan gebruik ons dit as geleenthede om God te eer, en ons naaste te dien (vgl. Ps. 112). Ons moet egter op ons hoede bly en nie die hart daarop sit wanneer rykdom begin vermeerder nie (Ps. 62:11).   Christus bevestig hier dat geestelike rykdom altyd belangriker as aardse rykdom is. Om in God ryk te wees, oortref alles. Wie Hom het, het niks anders nodig nie (Ps. 73:25). En Hy is baie vrygewig teenoor sy kinders. Daarom hoef ons ook nie angstig te wees oor aftreeplanne nie. Ons moet wel verantwoordelik en wys optree, maar dit behels ook dat ons met oop hande en harte leef deur Hom in wie ons ryk gemaak is. Ons het nie net ons besittings nie, maar ons hele wese aan Hom te danke. Ons het ook ons verlossing aan Hom te dank wat ter wille van ons arm geword het. Sodat ons deur Hom ryk in God mag wees.

Werke geraadpleeg:

Bergsma, J. The Word of the Lord. Year C.

Bock, D.L. Luke: NIV Application Commentary.

France, R.T. Luke: Teach the Text Series.

Sproul, R.C. Luke: An Expositional Commentary.

John Gill.