2011/12/02

Hoe om jou deuntjie te verander

Reeds hier is verwys na die feit dat dit nie werk om iemand bloot met 'n Psalmbundel oor die kop te slaan nie. Lees dit gerus weer vir agtergrond op hierdie possie. Dit was my voorreg om onlangs aan Michael Lefebvre se eenvoudige, dog diepgrypende boekie te smul: Singing the Songs of Jesus: Revisiting the Psalms. Dit is hier beskikbaar. Wat 'n werwende boekie! So sal jy mense winnend oortuig dat die Psalms inderdaad die ruggraat van ons kerksang behoort uit te maak.

Lefebvre gaan oortuigend te werk om ons vir die standpunt te win dat wanneer jy die Psalms sing, sing jy die liedere van Jesus Christus met Hom - die Koning self - as jou sangleier. Hy toon aan hoe ons in die Psalms moet onderskei tussen die woorde wat die Koning aan God sing, wat die Koning aan ons sing, wat mense tot God sing, wat mense tot die Koning sing, ja ook wat die mense vir mekaar toesing. Anders gestel, die Psalms is verbondsmatige oefeninge - lofprysende gesprekke waarin ons saam met ander gelowiges en die Drie-enige God, alles gesentreer in die Middelaarskap van Christus, verkeer. Ja, sê Lefebvre, selfs die Psalms wat spreek van bekering sing implisiet saam met Hom in wie ons alleen waarlik vind dat bekering ons vind.

Lefebrve toon aan die lofprysing van die Psalms dikwels die einddoel is, maar dat dit nie in alleenstaande sin verstaan kan word nie. Daar is dikwels verwarring, nood en ontnugterende omstandighede waardeur jy eers moet werk voordat jy by lofprysing kan uitkom. Die Psalms is genademiddele om ons te dra tot by die punt van lofprysing, selfs al voel ons nie aanvanklik so nie. Met beelde wat jou lank bybly (soos die een wat nou kom) verduidelik Lefebvre op 'n vars wyse hoe die Psalms ons sterk veiligheidstoue is wat maak dat ons die bergpieke van die lewe kan aandurf tot ons eendag voor die aangesig van God verskyn.
Een van die kragtigste beelde is sy vergelyking van spykers en skroewe. Skroewe kan nie soos spykers ingekap word nie. Hulle word ingedraai. Die rede waarom die Psalms dikwels nie waardeer word nie is omdat ons Psalms aan moderne geestelike liedere wil gelykstel. Ons wil hulle op dieselfde wyse soos spykers inkap. Maar die Psalms kan nie ingekap word nie. Hulle moet soos skroewe ingedraai word. Hulle moet bedink word terwyl ons hulle sing in ons dikwels moeilike en selfs morsige omstandige. En tog draai hulle ons saam met hulle geleidelik kragtig in - vanaf ons angs en wanpersepsies tot in die teenwoordigheid van die getroue Verbondsgod.

Hierdie boekie bevat 'n arsenaal van aanhaalbare aanhalings wat dalk in die toekoms op hierdie blog mag verskyn. Ek sluit met nog 'n beeld wat Lefebvre gebruik. Hy wys daarop dat ons soms na iemand kan verwys wat van opinie en optrede verander het met die woorde: "Ou Jan het sy deuntjie darem lekker verander". Op soortgelyke wyse help die Psalms ons om ons geykte deuntjies doksologies te verander in ons eie omstandighede. Ek wil byvoeg: Ook jou deuntjie oor die Psalms as kerkliedere kan deur hierdie boekie se ontvouing van die glorie van Psalmsang verander word. Miskien verander dit van vals (ondankbaarheid) na ten minste op die noot (waardering). Miskien sal dit van die mineur- na die majeurtoon verander. Een ding is seker: Jy het nuwe moed dat die dikwels oorbekende kenwysies van jou eie lewe waarlik deur die Psalms verander kan word na iets wat meer eer aan God bring.